VERS EN VLAM ’n Poësiebloemlesing Graad 10 Eerste Addisionele Taal Dr. Jeanette Ferreira, Erna du Toit, dr. Hanna Geldenhuys, dr. Michael le Cordeur en dr. Alicia van der Spuy Human en Rousseau Enige bladsyverwysings in hierdie uitgawe verwys na die bladsye in die gedrukte boek. Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Vers en vlam mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte. Hoe om hierdie boek te gebruik Inleiding tot die Afrikaanse poësie maak jou vertroud met wat poësie is, hoe jy literêre begrippe onder die knie kan kry, die geskiedenis van die Afrikaanse poësie, soorte Afrikaans, wat die kanon is en hoe gedigte vir die bloemlesing gekies is. Pre-lees ’n Kort inleiding oor die onderwerp waaroor die leerder bloot kan nadink of oor gesprek voer of oor kan skryf. Biografiese inligting by elke gedig gee ’n oorsig van die digter se lewe en werk. Die gedig in konteks verskaf agtergrond vir die gedig wat volg en verduidelik kortliks waaroor dit gaan. Lees Die gedig is van versreëlnommers voorsien, wat nie deel is van die gedig nie, maar verwysing na versreëls makliker maak. Woordverklarings verduidelik moeiliker woorde in Afrikaans en bevat ook Engelse verduidelikings. Pitkos vestig jou aandag op sake wat vir jou ’n sleutel is na beter begrip van die gedig. Leerfokus is ’n samevatting van die kennis van poësietegniek waarmee jy in hierdie afdeling toegerus sal word. LET WEL: In Pitkos sowel as Leerfokus verskyn literêre begrippe wat nie by elke gedig weer verklaar kan word nie. Dit word wel in die Glossarium verduidelik. Raadpleeg telkens die Glossarium wanneer jy begrippe teëkom wat jy nie verstaan nie. Post-lees Kontekstuele vrae is kortvrae wat jou help om soveel as moontlik van die gedig te verstaan en dit te interpreteer, asook jou gevoel daaroor weer te gee deur meer persoonlik daarop te reageer. Vir jou joernaal en/of in die klas bied jou die geleentheid om skeppend op aspekte van die gedig te reageer. Agter in die boek verskyn die volgende: Glossarium waarin literêre begrippe verduidelik word. Raadpleeg dit voortdurend wanneer jy ’n gedig bestudeer - soos hierbo aanbeveel - maar keer ook hierdie proses om: Lees die Glossarium onafhanklik en kyk of jy voorbeelde van hierdie begrippe in die gedigte vind soos in hierdie bloemlesing opgeneem. Erkennings verleen erkenning aan instansies wat toestemming gegee het dat gedigte in hierdie bloemlesing opgeneem mag word en dui aan uit watter bundels en ander bronne dit geneem is. Bibliografie bevat alle geraadpleegde bronne waarvan die samestellers gebruik gemaak het. Inleiding tot die Afrikaanse poësie Die Afrikaanse uitdrukking “iemand is vuur en vlam” verwys na iemand wat baie opgewonde en entoesiasties is. Hierdie bundel se titel is aan dié uitdrukking ontleen. Dit maak gebruik van woordspeling deur ’n deel van die bekende uitdrukking te behou en ’n ander deel te vervang. Dink aan ’n gedig soos aan ’n vlam. Wanneer ’n vlam aangesteek word, verdryf dit die koue en donker, daar is lig en waarde wat veel verder as die vlammetjie strek. Wat bied Vers en vlam? Vers en vlam stel jou in staat om te beleef hoe Afrikaanse gedigte kreatief, intelligent en vindingryk met die taal omgaan. Jy sal die geleentheid kry om die taal te hoor, te lees en te skryf en só te leer hoe taal gemanipuleer kan word om iets te beklemtoon en bykomende betekenis daaraan te gee. Die studie van elke gedig is verdeel in pre-lees, lees en post-lees om die verskillende fases van begrip te vergemaklik. Die doel is nie dat jy die “regte antwoord” sal vind nie, maar dat jy sal leer hoe om te verduidelik waarom ’n woord, frase of gedig ’n bepaalde betekenis vir jou skep. Ook sal jy leer dat gedigte mens kan ontroer, vermaak en jou verbeelding gaande maak. Jy sal ook die geleentheid kry om oor die tema of sentrale gedagte in verse na te dink en te sê of jy daarmee saamstem, daarvan verskil of heeltemal ’n ander mening huldig. Wat is poësie? Skeppende skryfwerk word ook fiksie genoem. Dit verskil van niefiksie in die sin dat dit nie net met feite werk nie, maar in die besonder met verbeelding. Fiksie kan verdeel word in prosa, drama en verse. Laasgenoemde is die afdeling wat in Vers en vlam verken word. Daar word ook na verse as poësie of gedigte verwys en al drie hierdie benamings kan gebruik word. In verse word taal só gebruik dat dit meer betekenis skep as wat die woord of frase in niefiksie kan. Die geheim is om met so min as moontlik woorde soveel as moontlik betekenis te skep. Poësie is so ’n gekonsentreerde vorm van taal dat dit as ’t ware taal onder die mikroskoop is; selfs ’n lettergreep kan meewerk tot ’n nuwe of breër betekenis. Elke spasie, leesteken, beklemtoonde woord, weglating van ’n woord, stylfiguur, ritme, rymwoord en herhaling dra betekenis. Ook die vorm van ’n gedig skep betekenis. Deur die eeue heen het vaste vorme ontstaan, waaronder koeplette, tersines, kwatryne, sonnette, haikoes, limerieke en ballades. In hierdie versvorme kan die leser ’n vasgestelde rympatroon verwag, asook ’n vasgestelde aantal versreëls en strofes. Wanneer daar van hierdie vorm afgewyk word, skep ook die afwyking nuwe betekenis, omdat dit indirek kommentaar lewer op die vasgestelde vorm. Vorm en inhoud kan egter net kunsmatig geskei word: Die wending – die versreël waarin die leser van iets nuuts of onverwags lees – verskyn gewoonlik in ’n vasgestelde strofe of versreël. Gewoonlik gaan hierdie inhoudelike wending ook saam met die een of ander wending in die aantal versreëls of rympatroon. Later het die vrye vers ontstaan, wat nie gebonde is aan rym of ’n vasgestelde aantal versreëls nie. Hoewel die vrye vers nader aan prosa of drama is, is dit steeds opsigtelik korter en gebruik dit steeds een of meer van die ander verstegnieke. Literêre begrippe In die studie van poësie het daar deur die eeue heen terminologie ontstaan wat digvorme en tegnieke beskryf: kwatryn, assonansie, ensovoorts. ’n Lys van hierdie begrippe en verduideliking daarvan verskyn agter in die boek onder die opskrif Glossarium. Dit is net prakties om hierdie terminologie onder die knie te kry, want só word daar met een woord ’n begrip beskryf wat andersins elke keer op omslagtige wyse beskryf moet word. Die maklikste manier om dit te doen, is om dadelik die glossarium te raadpleeg wanneer jy op ’n begrip afkom wat jy nie verstaan nie. Saam met die verduideliking daarvan kan jy dan in die gedig ’n voorbeeld daarvan sien. Voorbeeld en verduideliking is die beste manier om nuwe begrippe te leer ken. Poësiegeskiedenis Binne die groter raamwerk van ’n land se geskiedenis het die tale in die land ook ’n literatuurgeskiedenis. En binne die raamwerk van ’n literatuurgeskiedenis het die Afrikaanse poësie ook ’n geskiedenis. Dié poësiegeskiedenis is interessant, omdat dit ’n gedig en die digter vir ons in ’n periode plaas. Party digters het egter die periode waarin hulle begin publiseer het, “oorleef” deurdat hulle nog vir dekades daarna gepubliseer het. Om jou ’n digter in sy leeftyd te help plaas, word digters se geboortedatum aangedui met ’n * by die biografie geplaas en, indien van toepassing, die sterfdatum ná die simbool aangedui met ’n †. By elke digter word die literêre pryse wat deur hom of haar verower is, vermeld, omdat dit deel van die literatuurgeskiedenis is. Dit beteken egter nie dat digters wat geen pryse verower het se werk minderwaardig is nie. Toekennings dui konsensus onder letterkundiges oor ’n skrywer se werk aan, maar binne ’n bepaalde jaar kan daar byna net sulke goeie werk gepubliseer word wat nie bekroon kan word nie, omdat daar binne ’n afgebakende periode (soos die prys se reglemente bepaal) net een prys toegeken kan word en net in sekere gevalle kan die prys gedeel word. Die eenvoudigste vers kan vreugde verskaf of mens laat nadink. Ook die digter se akademiese kwalifikasies en ervaring wat by die biografie vermeld word, moet nie as ’n maatstaf vir die digter se bekwaamheid gesien word nie. Dit is bloot interessante en wetenswaardige besonderhede oor die mens agter die gedig. Dit is wel waardevol om tydperke binne ’n poësiegeskiedenis te onderskei, omdat mens daaruit kan aflei watter temas in so ’n tydperk vir die eerste keer aangeroer is en watter invloed dit op die digter se taalgenote en mededigters gehad het. Net een voorbeeld hiervan: Enoch Sontonga het in 1897 “Nkosi sikelel’ iAfrika” in Xhosa geskryf. In 1946 verskyn dit in die Afrikaanse poësie toe H.A. Fagan dit in ’n gedig verwerk. Dié pleitgedig vir eenheid in Suid-Afrika was die voorloper van Afrikaanse digterstemme teen apartheid wat sedert die 1960’s in die poësie sou opklink: onder andere Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en Adam Small. In die 1980’s het strugglepoësie daarby aangesluit met gedigte van onder andere Peter Snyders, Patrick Petersen en Antjie Krog. Van die vroegste Afrikaans is sedert 1870 in versvorm gepubliseer. Hierdie gedigte is nie in Vers en vlam opgeneem nie, omdat dit in ’n baie ou vorm van Afrikaans verskyn wat kennis van Nederlands vereis om dit te verstaan. Dit is voldoende om te weet watter gedigte en digters uit hierdie tydperk kom: F.W. Reitz, Pulvermacher, Arnoldus Pannevis, C.P. Hoogenhout, S.J. du Toit en J. Lion Cachet. In Die Genootskap vir Regte Afrikaners, wat in 1875 gestig is, se koerant Di Afrikaanse Patriot het daar sedert 1876 ook verse verskyn oor politieke, sosiale en historiese sake. Sedert die begin van die jare 1900 was Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt, Jan F.E. Celliers en Totius in die Afrikaanse verskuns aan die woord. Die natuur, Afrika-folklore, Oosterse kultuur, die Anglo-Boereoorlog, patriotisme en godsdienstige besinning is van die belangrikste temas in hierdie tyd. Die Afrikaanse digters wie se werk sedert 1930 verskyn het, het as die Dertigers bekend gestaan. Van die bekendstes was N.P. van Wyk Louw, W.E.G. Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers, C.M. van den Heever en I.D. du Plessis. Die benaming Dertigers kan egter misleidend wees, omdat hierdie digters nog vir dekades daarna gepubliseer het. Ander stemme het gaandeweg by hulle aangesluit en die Afrikaanse poësie verruim, onder wie D.J. Opperman, Adam Small, Peter Blum, Sheila Cussons, Wilma Stockenström, Antjie Krog, Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach. Tydens die jare 1960 is daar van die Sestigers gepraat, van wie Jonker en Breytenbach die bekendste was. Hulle het veral van die vrye vers gebruik gemaak en politieke verset was sentraal in hulle werk. Maar Breytenbach, Stockenström en Krog publiseer tydens die verskyning van hierdie bloemlesing steeds en hulle jongste werk kan nie as deel van die Sestigerbeweging beskou word nie. Dit is dan ook nie realisties om een of meer temas te koppel aan verse wat sedert 1930 tot vandag verskyn het nie. Daar kan wel breedweg gesê word verse sedert hierdie tydperk werk met ingewikkelder tegnieke en diepsinnige vraagstukke oor die mens se plek in die wêreld, godsdiens, asook vrae oor apartheid. Laasgenoemde het sedert 1960 al hoe sterker op die voorgrond getree. In die 1980’s het struggleverse – wat oor die noodsaak van politieke bevryding en die ongeregtigheid van apartheid handel – ’n belangrike plek in die Afrikaanse verskuns begin beklee. Dekades lank is verset teen apartheid deur gedigte verwoord en dit is nie verbasend dat Afrikaanse digters weer eens deur die skryfkuns kommentaar lewer op eietydse maatskaplike toestande en figure nie. In Marlene van Niekerk se bundel Kaar verskyn verskeie gedigte oor onder meer polisiegeweld en korrupsie en Antjie Krog verwoord in haar gedig by oudpresident Mandela se dood wat ’n slag dié geliefde staatsman se dood vir Suid-Afrika was. Soorte Afrikaans Voor die 1950’s het slegs gedigte in Standaardafrikaans verskyn. Kaapse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans was egter nog altyd deel van Afrikaans hoewel dit eers in die tweede helfte van die twintigste eeu in gepubliseerde vorm begin verskyn het. Dit is deel van die Afrikaanse kultuurskat en daar verskyn jaarliks al hoe meer daarvan. In Kaapse Afrikaans kom heelwat Engelse woorde voor en dit het soms in Kaapse Afrikaans ’n ander of ruimer betekenis as in Engels. Dit kan geensins as “onsuiwer” Afrikaans beskou word soos wanneer iemand Standaardafrikaans praat en Engelse woorde tussenin gebruik nie. Daar kom ook talle woorde uit Oosterse tale in voor. Dit is net so deel van Kaapse Afrikaans soos woorde uit Oosterse tale wat in Standaardafrikaans voorkom. Griekwa-Afrikaans vertoon ouer vorme van Afrikaans en woorde uit die Khoi- en Boesmantale. Hou in gedagte dat Kaapse en Griekwa-Afrikaans meestal foneties gespel word – dit wil sê soos dit uitgespreek word – en die spelling daarvan wissel. Kaapse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans word nie meer net in die Kaap en/of Namibië gepraat nie en dit is nie noodwendig die huistaal van digters wat in hierdie vorm van Afrikaans skryf nie. Sedert dit in gepubliseerde vorm verskyn en tans ook in media soos Facebook gebruik word, het die seggingskrag daarvan na alle Afrikaanssprekendes versprei. Die kanon Die kanon (spreek uit “kaanon”) hou verband met literatuurgeskiedenis. Dit is daardie gedigte wat sedert die ontstaan van Afrikaans so bekend geword het dat dit sinoniem met Afrikaanse poësie is. Hierdie gedigte word jaar ná jaar in versamelbundels opgeneem, telkens vir bestudering uitgesonder en telkens aangehaal en die digters se ander werk is so bekend dat hulle nuwe werk dadelik belangstelling uitlok. Sommige van hierdie gedigte het bekendheid verwerf omdat dit oorwegend die verstegniek daarin is wat so treffend is, ander omdat die inhoud daarvan tot soveel mense spreek. Die grootste verse is uiteraard dié waarin tegniek sowel as inhoud daartoe bygedra het dat dit onder poësieliefhebbers se gunstelinge tel. Maar ’n kanon is iets lewends, want daar verskyn voortdurend nuwe gedigte en lesers se opvatting van wat goed en minder goed is, wissel en brei uit. In hierdie bloemlesing is daar dus ook verse opgeneem van digters wat nog nie so bekend is nie, maar wie se werk knap is en oor dinge handel wat in ons tyd belangrik is. Sedert die tagtigerjare verskyn ook die Afrikaanse liedteks op die toneel. Alle lirieke wat deur moderne sangers gesing word, is egter nie sonder meer geslaagde verse nie. Rym en ritme wat nie bykomende betekenis aan woorde gee nie, is nog nie ’n vers nie. Van hierdie sangers se werk wat groot byval gevind het en wel ook as verse bestudeer kan word, is die bekendste name Koos du Plessis, Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en David Kramer. Keuse van gedigte In Vers en vlam is gedigte uit al die soorte Afrikaans opgeneem wat die belangrikste versvorme, literêre tydperke en temas in die Afrikaanse digkuns verteenwoordig. Só word daar ’n vlam aangesteek wat lig werp op die geskiedenis, op die hedendaagse samelewing en verhoudings, asook op ontwikkeling en verstegnieke in die Afrikaanse poësie. Verse lees en skryf Digter sowel as leser het ’n aandeel aan die gedig. ’n Vers op skrif bestaan net gedeeltelik. Dit is eers ’n volledige vers wanneer iemand dit gelees het, verstaan watter betekenis dit oordra en die tegniek waarmee hierdie betekenis geskep is, begryp. Die digter steek ’n vlam aan, die leser sien en voel dit. Dan eers is dit ’n ware vlam van ’n vers. Kom deel in die fees van lig en hitte. DIE SAMESTELLERS Peter Blum (*4 Mei 1925 – †5 Desember 1990) PETER BLUM WAS EEN VAN die boeiendste digters wat die Afrikaanse poësie nog opgelewer het. Hy is in 1925 in Wene, Oostenryk, gebore. Sy ouers was van Joodse afkoms en sy huistaal was Duits. Die gesin het in 1936 na SuidAfrika verhuis, waar die elfjarige seun in Johannesburg en Durban skoolgegaan en Afrikaans vlot aangeleer het. Daarna studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch, maar voltooi nie sy graad nie. Eers in 1954 gaan hy terug na Stellenbosch, waar hy in 1955 die BA-graad in tale met lof behaal. Hy was baie intelligent en het wyd gelees in verskeie tale. Met sy kennis van die groot werke in ander tale, was hy baie krities oor die Afrikaanse literatuur van sy tyd en tog het hy self Afrikaanse gedigte begin skryf en in tydskrifte gepubliseer. In 1955 verskyn sy verrassende debuut, Steenbok tot Poolsee. Die bundel is met groot lof ontvang, veral omdat hy die Afrikaanse taal so ongewoon kreatief gebruik het. Maar daar was ook ’n groep konserwatiewe skrywers en akademici wat morele en politieke besware teen die bundel gehad het. Dié houding van Afrikaanse kenners het Blum se antagonisme teen die konserwatiewe figure van sy tyd versterk, en toe daar teen sy tweede bundel, Enklaves van die lig, nog meer besware was, het hy al hoe meer na ’n uitgeworpene gevoel. Toe sy tweede bundel in 1958 verskyn, was Blum al ontnugter met die Afrikaanse establishment. Boonop het die NP-regering van dié tyd jare lank gesloer om Suid-Afrikaanse burgerskap aan hom toe te ken en in 1960 het hy daarvan afgesien en die land sonder meer met sy Afrikaanse vrou, Hetta, verlaat om hulle in Londen te gaan vestig. Daar het hy dertig jaar lank in volkome isolasie van die Afrikaanse letterkunde gewoon tot met sy dood in 1990. Pre-lees Monumente en standbeelde word opgerig om die geskiedenis te herdenk en mense wat ’n belangrike rol gespeel het te vereer. Ongelukkig deel almal nie altyd die sentimente wat deur dié huldiging uitgebeeld word nie. Almal het ook nie dieselfde verering vir bepaalde persone nie. Soos die lewe voortgaan, verloor sommige figure hulle belangrikheid en daarmee saam ook beelde van hulle, of is net nie meer relevant nie. “Oor monnemente gepraat” in konteks: Die gedig kom uit die bundel Steenbok tot Poolsee wat in 1955 verskyn het. Die digter lewer sosiale kritiek op die hoër stand. In hierdie gedig uit ’n reeks “Kaapse sonnette” is die sprekers bruin mense en praat hulle Kaapse Afrikaans. Die spreker stel die kunstige teenoor die kunsmatige. Die gedig weerspieël die ervaringswêreld van die spreker. Aangesien die monumente en standbeelde die geskiedenis van ’n volk moet weerspieël, vertel elke standbeeld sy eie storie. Cecil John Rhodes en koningin Victoria verteenwoordig die kolonialisme en die rol van die Engelse oorheersing oor ’n groot deel van die wêreld. Daar is gesê dat die son nooit oor die Britse koninkryk sak nie – want dwarsoor die wêreld was daar Engelse kolonies. Cecil John Rhodes se ideaal was ’n spoorlyn van die Kaap tot in Kaïro – alles op Engelse grondgebied. Lees Oor monnemente gepraat 1.Wat spog jul so met julle monnement? 2.Hy’s groot ma’ lielak, en hy staan so kaal 3.da’ op sy koppie. Wie’t vir hom betaal – 4.al daai graniet en marmer en sement? 5.O ja, hy’s groter as ’n sirkustent – 6.ma’waa’s die pêd, die mooi nooi innie saal? 7.die lekka clowns, die leeus in hul kraal? 8.Nei, daa’s g’n spôts nie vir jou Kaapse kjend! 9.Hier het ons stetjoes, elkeen soos ’n mens: 10.ou Afduim-Murray, Hofmeyr met sy pens; 11.hier’s Jan van Riebeeck, bakgat aangetrek 12.in sy plus-fours; Cecil Rhodes wat jou wys 13.wa’ die reisiesbaan lê; en vorie Paalmint-hys 14.ou Mies Victôria met ha’ klein spanspek. WOORDVERKLARINGS bakgat: netjies, spoggerig / Eng.: neatly, smartly graniet: korrelrige klip / Eng.: granite kjend: kind / Eng.: child lekka: lekker, aangenaam / Eng.: enjoyable lielak: lelik / Eng.: ugly marmer: kalkgesteente met fyn korrels / Eng.: marble monnement: monument / Eng.: monument Paalmint-hys: Parlementshuis / Eng.: House of Parliament pêd: perd / Eng.: horse plus-fours: pofbroek, kniebroek / Eng.: plus-fours spôts: pret / Eng.: fun, sports stetjoes: standbeelde / Eng.: statues Pitkos: Die gedig is ’n sonnet waarin die voorkeur en afkeer van die monumente/standbeelde visueel met behulp van die strofebou en die rym aangetoon word. Die pittige manier waarop die spreker, in Kaapse Afrikaans, die vergelykings tref en die standbeelde beskryf, sorg vir ironie en humor in die gedig. Op ’n skynbaar onskuldige manier en beskrywing word die spot hiermee gedryf. Die spreker sê hiermee die Voortrekkermonument kan nie vergelyk met die Kaapse monumente wat almal soos mense lyk nie. Wat hy eintlik wil sê, is dat die Voortrekkermonument so duur is en nie eens ’n herkenbare mens verteenwoordig nie. LEERFOKUS humor ironie Kaapse Afrikaans Italiaanse sonnet teenstelling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord. Skryf net die vraagnommer en die letter (a-c) neer. In die eerste strofe word daar verwys na die … monument. a.Cecil John Rhodes-monument b.Andrew Murray-monument c.Voortrekkermonument 2.Waarom, dink jy, verkies die spreker die Kaapse standbeelde bo die monument? 3.Maak ’n lys van die Kaapse standbeelde wat hier genoem word. 4.Watter soort sonnet is hierdie gedig? Gee drie redes vir jou antwoord. 5.Dink jy die spreker verkies die Kaapse monumente omdat hy onder die indruk van die historiese waarde daarvan is? Motiveer jou antwoord. Vir jou joernaal en/of in die klas Debatteer oor die volgende stelling in die klas en kom tot ’n gevolgtrekking: Monumente en standbeelde is geldverkwisting. In ’n land waar daar soveel armoede is, kan die geld wat sodanig bestee word, baie beter aangewend word. Boerneef (*11 Mei 1897 – †2 Julie 1967) BOERNEEF WAS DIE SKRYWERSNAAM van I.W. van der Merwe. Behalwe digter was hy ook prosaskrywer, kinderverhaalskrywer en leksikograaf. Hy is op Ceres gebore, het op die plaas Boplaas grootgeword en is in Kaapstad oorlede. Hy het aan die Universiteit van Kaapstad (destyds South African College) gestudeer, waar hy ’n onderwysdiploma en ’n meestersgraad in AfrikaansNederlands behaal het. As dosent was hy 41 jaar aan die Universiteit van Kaapstad verbonde, waar hy sy loopbaan as professor afgesluit het. Boerneef is veral bekend vir sy geestige, volkse en klankryke verse en verskeie van sy verse is getoonset en deur bekende sangers gesing. In 1968 word hy postuum met die Hertzogprys bekroon vir sy hele digterlike oeuvre. Sy poësie handel veral oor die kontrei waar hy vandaan kom en waarvoor hy ’n passie gehad het: die Karoo, Kamdeboo, Koorsteenberg, Katbakkies, Soebatsfontein en Speserykloof. Sy poësie word dan ook gekenmerk deur kontreitaal, dit wil sê die soort Afrikaans wat in hierdie streke gepraat is. Pre-lees Wuppertal is ’n afgeleë dorpie in die Sederberge en slegs bereikbaar deur middel van ’n grondpad. Die omgewing is ongerep en daar kom fynbos asook veldblomme in die lente voor. Die gedig in konteks: Die gedig het ’n speelse klank met ’n hartseer ondertoon, wat die musikaliteit van Boerneef se poësie reflekteer. Hierdie gedig is een van dié wat getoonset is (gaan luister gerus by https://www.youtube.com/watch?v=7oMKwxizkNU om die melodie te hoor), juis omdat dit so klankryk is. In hierdie speelse dog nostalgiese vers sê die spreker hy stuur vir sy geliefde ’n veer van die berggans. Daarmee wil hy vir haar sê hoe lief hy haar het. Die berggans kom wydverspreid in Afrika voor, maar veral suid van die Sahara. Dit is een van die voëlsoorte wat gewoonlik lewenslank net een maat het. In die Antieke Tyd het Egiptenare die berggans as heilig beskou. Sy pragtige veredrag vertoon grys, bruin en wit. Hoewel dit nie direk gesê word nie, dra dit ook by tot die berggansveer se simboliese waarde. Lees Die berggans het ’n veer laat val 1.Die berggans het ’n veer laat val 2.van die hoogste krans by Woeperdal 3.my hart staan tuit al meer en meer 4.ek stuur vir jou die berggansveer 5.mits dese wil ek vir jou sê 6.hoe diep my liefde vir jou lê WOORDVERKLARINGS berggans: soort gans, (ook genoem kolgans, Nylgans, wildegans: volksname vir Alopochen aegyptiacus) / Eng.: mountain goose, Egyptian goose (common names for Alopochen aegyptiacus) krans: groot rots / Eng.: cliff mits dese: met hierdie / Eng.: herewith tuit: om lippe spits te maak / Eng.: pout Woeperdal: ouer spelwyse van Wuppertal / Eng.: older spelling of Wuppertal Pitkos: ’n Rympatroon, assonansie en alliterasie versterk die klankrykheid van die gedig en bind dit. Die aantal lettergrepe – 8 per versreël buiten versreël 2 - in versreëls dra ook by tot die musikaliteit. Ouderwetse kontreitaal skep ’n romantiese en nostalgiese atmosfeer. LEERFOKUS alliterasie assonansie koeplet kontreitaal leestekens musikaliteit paarrym ritme sestet simboliek Post-lees Kontekstuele vrae 1.Waar is die spreker? Gee ’n rede vir jou antwoord. 2.Waarvan is die gansveer ’n simbool? Kies die regte antwoord. a.hoogtes b.liefde c.skoonheid 3.Waarom is paarrym so gepas in hierdie gedig? 4.Hoe dra die mees opvallende assonansie in versreëls 1-3 by tot die atmosfeer? 5.Die spreker stuur vir sy geliefde ’n berggansveer. Hoekom, dink jy, stuur hy juis hierdie item? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief van 100 woorde waarin jy verduidelik hoekom jy iets (enigiets van jou keuse) stuur aan iemand vir wie jy omgee sodat dié persoon sal verstaan hoe jy oor hom/haar voel. Dit kan ook ’n vriend(in) of familielid wees. Martjie Bosman (*19 September 1954) BOSMAN WORD OP GROBLERSDAL GROOT, waar haar ouers taalonderwysers was. Sy studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1985 ’n meestersgraad in Afrikaanse letterkunde behaal en daarna wiskunde aan die Hoërskool Warmbad gee. In die tagtigs is sy as letterkundenavorser by die RGN werksaam en doen later navorsing oor sosiale vraagstukke en landelike ontwikkeling. Nadat sy ’n ruk as argivaris by ’n radio- en televisiediens gewerk het, is sy as redakteur by Protea Boekhuis aangestel. In 2003 debuteer sy met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang. Haar tweede bundel, Toevallige tekens, verskyn in 2010. Pre-lees Konflik is deel van die lewe. Vroeër jare is konflik gesien as iets wat jy tot elke prys moet vermy. Vandag word daar gereken dat mens konflik moet erken en bestuur. Bespreek in klasverband die maniere hoe julle konflik hanteer. “Verskroeide aarde” in konteks: Die gedig kom uit die bundel Landelik (2003). Die verskroeideaardebeleid is die beleid wat lord Kitchener gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) deurgevoer het. Hy het opdrag gegee dat die plase afgebrand moes word, die huise en huisraad ook. Die diere wat nie gekonfiskeer is nie, is ook doodgemaak. Daarna is die vroue en kinders, gewoonlik op hulle eie waens, getrek deur daardie plaas se diere, na die naaste van verskeie stasies geneem en van daar in oop beestrokke na konsentrasiekampe. Daar word bereken dat meer as 26 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe gesterf het. Veral kinders was die slagoffers van ontoereikende mediese sorg en voedsel en sommige moeders het die meeste van hulle kinders in die kampe verloor. Geld of hout vir kiste was daar nie en gestorwenes is gewoonlik net in ’n kombers begrawe, kinders soms in seepkissies. Boereplaashuise wat nie afgebrand is nie, is partykeer deur die Britse magte gekonfiskeer en as hospitale ingerig. Die enigste vee wat behoue gebly het, was dié wat inderhaas deur die Boere op die plaas versteek is voor die Britte opgedaag het om die plaas te vernietig. Oor al hierdie dinge het Boere wat dit oorleef het, en hulle nageslag, nog vir dekades groot bitterheid jeens die Britse volk gekoester. Die beleid is deurgevoer, omdat die Engelse besef het so lank as die plase bestuur word, sou die Boere die voorraad gehad het om te kon voortveg. Ná die oorlog moes die agtergeblewenes hulle boerderye van voor af opbou. Die Merebank-kamp was naby Durban. Lees Verskroeide aarde 1.Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal: 2.Grootouma Geldenhuys met vier kinders 3.in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank, 4.’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal, 5.Grootoupa te velde wie weet waar. 6.Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal – 7.gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep, 8.die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand. 9.Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond 10.twee bitter woorde: smaad en hoon 11.en die droewe wete van familiegrond 12.vir geslagte tevergeefs bewoon. WOORDVERKLARINGS agterhaal: uitvind / Eng.: find out beestrok: oop treinwa / Eng.: cattle train truck brokke: stukke / Eng.: pieces droewe: droewige, hartseer / Eng.: sad gerug: onsekere of onbevestigde berig / Eng.: rumour hoon: om iemand te spot / Eng.: scorn, mock konfiskeer: in beslag neem / Eng.: confiscate, seize smaad: skandelike belediging / Eng.: insult, scorn tevergeefs: nutteloos, sonder sukses / Eng.: in vain, for nothing velde: slagveld / Eng.: battlefield Pitkos: Die gedig bestaan uit een strofe van twaalf versreëls. Daar is nie deurlopende rym nie, net enkele rymklanke wat verspreid in die eindposisies voorkom. Verskroeide aarde veronderstel dat alle lewe vernietig is en dat die omstandighede eers weer geskik sal moet wees voordat lewe uit die aarde kan voortspruit. Sommige lewe sal totaal vernietig en onvervangbaar wees en dus nooit herstel kan word nie. Die ironie lê daarin dat die spreker saam met haar ouma se bitterheid dié insig geërf het: Om op grond te werk en te woon, maak dit nie noodwendig jou grond nie. LEERFOKUS alliterasie assonansie ironie rym Post-lees Kontekstuele vrae 1.Voltooi: Die geskiedenis waarna verwys word in versreël 1 is … 2.a.Uit hoeveel sinne bestaan die gedig? b.Gee kortliks die inhoud van elke sin weer. 3.Verduidelik waarom “brokke” in versreël 1 ’n goeie woordkeuse is. 4.Verduidelik die ouma se bitterheid en waarom sy smaad en hoon ervaar. 5.Skryf die rymwoorde wat wel voorkom neer en lewer kommentaar daarop. Vir jou joernaal en/of in die klas Gesels met jou ouers of grootouers oor julle familiegeskiedenis, waar hulle oorspronklik vandaan kom, watter terugslae hulle moes verwerk, watter prestasies hulle behaal het en watter invloed dit op hulle en jou lewe gehad het. Skryf dan ’n artikel daaroor. Charl J.F. Cilliers (*25 Januarie 1941) CILLIERS IS IN KAAPSTAD GEBORE en skryf al sedert hy veertien jaar oud was. Hy ontvang sy skoolopleiding in Engels. Later het hy afgetree as redakteur van Hansard en hom op Yzerfontein gevestig. Sy werk het in verskeie versamelbundels verskyn. Hy is enkelouteur van die volgende bundels: Westfalling light (1971), Has winter no wisdom (1979), Collected poems (1960– 2008) en die bundel kinderverse Fireflies facing the moon (2008), The journey (2010), A momentary stay (2011) en die twee haikoebundels: Karoo (2012) en Grains of sand (2013). Pre-lees Skryf ’n paragraaf oor een van die volgende onderwerpe: •Ek word nooit moeg vir die wisseling van seisoene nie, want . . . •Ek wens dit kon net somer/winter/herfs/lente bly, want . . . “die tak vol bloeisels” in konteks: Vir die spreker is die gewilde opvatting dat die lente ’n seisoen van nuwe lewe en groei is, nie die volle waarheid nie. Hy sien ook iets daarin wat nie nuut is nie, omdat hy hom bewus bly van kontras wat altyd in alles teenwoordig is en hom nie deur een gewaarwording laat oorrompel nie. Lees die tak vol bloeisels 1.die tak vol bloeisels 2.se een-tonige skadu 3.teen die lang wit muur WOORDVERKLARINGS bloeisels: knoppe waaruit nuwe blomme sal voortkom / Eng.: blossoms eentonige: sonder afwisseling / Eng.: tedious Pitkos: Hierdie digsoort het sy oorsprong in Japan maar het ook in die Weste gewild geword. Die genre is uiterlik herkenbaar aan die bou (3 versreëls en 17 lettergrepe) en tema (iets wat met seisoene verband hou). Die tema sowel as die teenstelling in die vers dra by tot die grondpatroon van die tradisionele vorm waarin hierdie gedig voorkom. Die bloeisels en die wit muur verskil direk van mekaar omdat die een kleur bevat en die ander net wit is. Tog vorm dit ’n bevredigende eenheid. LEERFOKUS haikoe tema uiterlike bou woordekonomie Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wat word as eentonig beskou? Skryf net die regte antwoord neer: Die bloeisels. / Die skadu. / Die muur. 2.Kan hierdie gedig op grond van die volgende kenmerke as ’n haikoe beskou word en waarom sê jy so? a.versreëls b.lettergrepe 3.Een van die eienskappe van ’n haikoe is dat dit uiteenlopende sake met mekaar in verband bring, dus teenstellings bevat. Noem ten minste drie teenstellings in hierdie gedig. 4.Wat is die tema van hierdie gedig en hoe sluit dit by die haikoe aan? 5.Hoe het hierdie gedig jou indruk van ’n vers bestaande uit net drie reëls beïnvloed? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n haikoe oor enige onderwerp. Probeer soveel as moontlik van die haikoe se eienskappe inwerk. Pre-lees ’n “Droë weer” is ’n term vir weersomstandighede waarin al die tekens van reën daar is, onder meer weerlig, maar dit kom uiteindelik nie tot reën nie. “droë weerligstraal” in konteks: Die vers vertel in uiters spaarsamige woordgebruik van ’n weerligstraal wat nie die verwagte reën bring nie. Dus sal die droogte voortduur. Lees droë weerligstraal 1.droë weerligstraal 2.die verrimpelde vel van 3.’n rivierbedding WOORDVERKLARINGS rivierbedding: die sandstrook waaroor ’n rivier loop / Eng.: river bed Pitkos: Die gedig voldoen aan die basiese vereistes van die haikoe. Wat bou betref, bestaan dit uit drie versreëls. Die tema hou verband met iets uit die natuur, naamlik ’n weerligstraal. Wanneer die weerligstraal flits, verlig dit die rivierbedding wat ook droog is. Die bedding en die droogheid van ’n vel staan in direkte teenstelling tot mekaar. Let op hoe die “v” in versreëls 2 en 3 die onheilspellende klank van ’n weerligstraal naboots net voor dit begin kraak. LEERFOKUS alliterasie beelding haikoe klanknabootsing natuurgedig teenstelling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord. Skryf net die vraagnommer en die letter (a-c) neer. Die beeld “verrimpelde vel van / ’n rivierbedding” is ’n voorbeeld van: a.’n hiperbool b.’n metafoor c.’n teenstelling 2.Beskryf die beeld in versreëls 2–3. 3.Watter klank oorheers die alliterasie? 4.Wat is die funksie van die oorheersende alliterasie? 5.Beskou jy die haikoe as ’n groot uitdaging en waarom? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n haikoe oor enige aspek van die natuur en probeer soveel as moontlik van die tradisionele eienskappe daarin vervat. T.T. Cloete (*31 Mei 1924 – †29 Julie 2015) CLOETE IS IN 1924 GEBORE en het ná uitgebreide studie as ’n prominente letterkundige in Afrikaans bekend geraak. Hy het talle belangrike akademiese werke gepubliseer, maar eers op ouderdom ses en vyftig met die verrassende bundel Angelliera sy debuut as digter gemaak. Daarna het hy hom met nog agt digbundels en elf groot pryse as een van die belangrikste digters in Afrikaans gevestig, waaronder die Hertzog-, Ingrid Jonker- en die Rapport-prys. Intussen het hy ook ’n bundel kortverhale en ’n toneelwerk gepubliseer, maar bowenal betreklik laat in sy lewe ’n verbasende taak verrig deur in die loop van sowat tien jaar honderd en vyftig Psalms in die Ou Vertaling vir gebruik in die Afrikaanse susterskerke in eietydse idioom te herdig. Saam met enkele ander digters se weergawes het dié groot werk in 2001 in Liedboek van die kerk die lig gesien. T.T. Cloete se sukses as digter het van die begin af berus op sy unieke ontginning van die taal as ’n soepel en veranderlike instrument. Hy is veral bekend vir sy nuutskeppings in enkele woorde en die vloeiende grepe waarin frases van ’n versreël sonder leestekens oorloop na die volgende gedagte, maar dikwels ook weer na agtertoe gelees kan word. Verder word Cloete se poësie gekenmerk deur ’n enorme leeskennis en ’n uitgebreide belangstelling in die verstommende wondere van God se skepping. Daarby het hy ’n sterk belangstelling in die natuur, menslike gedrag, in die produkte waarmee mense hul en ander mense se bestaan dokumenteer in boeke, briewe, foto’s, skilderye en alles wat die tegnologie deur die eeue gebring het. Pre-lees Gesels in die klas oor watter soort mens as barbaars beskou word en kyk hoeveel uiteenlopende menings daaroor bestaan. “die barbaar” in konteks: ’n Kenmerk van Cloete se oeuvre is sy knap hantering van die verstegniese aspekte, ingewikkelde sinstruktuur en woordplasing. Een van die bekendste temas in Cloete se werk is die ironiese kyk na die samelewing en die rol van die digter in ’n aanstellerige bestel. In hierdie gedig kritiseer hy gemaksug en materiële barbarisme in die samelewing. Dis ironies dat die moderne samelewing juis groot waarde aan rykdom heg. Hierdie gedig verskil van die meeste mense se opvatting oor wat ’n barbaar is. Dit verwys na die ryk en vername mens. Dié soort mens is selfgesentreer en dis vir hom belangrik om van al die simbole van rykdom omring te wees en aansien te geniet en om ’n openbare figuur te wees. Hy neem trouens leiding in die samelewing, maar eintlik is hy ver van die grootste deel van die samelewing verwyder, omdat hy sy geld aanwend vir uiterlike vertoon. Hy het ook nie belang by sake wat van durende belang is soos kultuur, welsyn, etiek, geluk en samesyn en ander ewigheidswaardes nie. Dit beteken nie dat alle ryk mense barbare is nie. Daar is rykes wat baie vir liefdadigheid en ander sake in openbare belang doen. Vir sulke mense is dit egter nie belangrik om geprys te word en aansien te geniet nie. Lees die barbaar 1.die barbaar is onherkenbaar 2.hy sit soggens agter sy netjiese lessenaar 3.en lees koerante van voor tot agter 4.hy kyk deur ’n bril met getinte donker glase 5.sy foto’s verskyn daagliks in die pers 6.op die tv se nuusbulletins lei hy optogte 7.waar die skare na sy pype dans 8.mens hoor sy stem gereeld oor die radio 9.hy reis internasionaal ekonomiese klas 10.met albei sy vet hande groet hy 11.en glimlag met ’n geoefende gesig 12.hy borsel gereeld sy geel tande 13.en sproei poleigeur in sy toilet 14.stort met geurige jel en aramisseep 15.hy skeer sy skedel kaal en blink 16.dit laat hom jonk en macho lyk 17.’n vetgordel wiel om sy heupe 18.hy het ’n stywe bankrekening 19.’n makelaar en aandele op die jse 20.hy is voorsitter van komitees en organisasies 21.en van die morele higiëne van die volk 22.hy ry bmw’s en mercedes benze 23.met chauffeurs en drie lyfwagte 24.hy gaan onbevrees oral ongewapen 25.die barbaar woon in ’n dubbelverdiepinghuis 26.met ’n mooi tuin vol struike kleurryke sambrele 27.en wit tuinstoele en -tafels staan daar rond 28.waar hy selde in sy min vrye tyd gaan sit 29.saterdagmiddae slaap hy en sondae 30.speel hy soggens gholf met sy baie vriende 31.smiddae tennis op bane in sy agterplaas 32.hy kyk krieket maar nie sokker nie 33.hy drink rooiwyn en eet pekanneute 34.met sy vooraanstaande vriende en vriendinne 35.hy het rakke vol cd’s van al die idols en ikone 36.hy hou bediendes in uniforms aan 37.en het ’n uitstekende kok en butler 38.hy het ’n selfoon en ’n kanarie 39.en ’n siamese kat en ’n engelse fox terrier 40.vet en blink betaal hy inkomstebelasting 41.dorpe en stede strate en pleine groot damme 42.en skole is na hom vernoem die barbaar 43.is onherkenbaar WOORDVERKLARINGS aandele: beleggings in maatskappye / Eng.: shares in companies agterplaas: oop ruimte agter die huis / Eng.: backyard butler: hoofbediende / Eng.: chief servant, butler chauffeurs: motorbestuurders / Eng.: chauffeurs getinte: donker gekleurde / Eng.: tinted Idols: wenners van sangkompetisies / Eng.: winners in singing competitions ikone: helde / Eng.: heroes JSE: Johannesburgse Effektebeurs / Eng.: Johannesburg Stock Exchange kok: persoon opgelei om te kook / Eng.: trained cook macho: manlik / Eng.: macho makelaar: iemand wat beleggings soos aan- dele koop en verkoop / Eng.: person who buys and sells shares morele higiëne - rein gewete / Eng.: clean conscience na iemand se pype dans: alles doen wat iemand sê / Eng.: dance to another’s tune nuusbulletins: nuus op radio en TV / Eng.: news on radio and TV onbevrees: nie bang nie / Eng.: unafraid optogte: mense wat in ’n groep loop om te protesteer / Eng.: protest marches pers: die media: koerante, TV, radio / Eng.: media: newspapers, TV, radio poleigeur: parfuum berei van die plant met mentgeur / Eng.: perfume prepared from plant with mint fragrance skedel: menslike kopbeen / Eng.: human skull stort: was onder lopende water / Eng.: shower vooraanstaande: uitgelese, belangrike / Eng.: distinguished, upper-class Pitkos: Eiewaan, geldmag en ander vergrype kom in hierdie gedig onder skoot. Die barbaar is eintlik bekende mense in die samelewing. Hulle praat gereeld op radio en TV en hul foto’s pryk in koerante. Die barbaar doen al die regte dinge wat hom as gesiene mens moet vestig. Individualiteit is maar ’n skaars eienskap van hierdie persoon wat hom met al die bekende statussimbole omring. Só word die tradisionele woordeboekbetekenis van “barbaar” heel verrassend omgekeer. Die gedig is ’n uitstekende voorbeeld van ironie omdat die hoogste vorm van sosiale aanvaarding soos dit in die gedig uiteengesit is, juis van die hoofkarakter ’n barbaar maak omdat hy geen kulturele agtergrond het nie. LEERFOKUS alliterasie assonansie leestekens lettergrepe ritme teenstelling vrye vers Post-lees Kontekstuele vrae 1.Noem twee dinge in versreëls 2, 3 en 9 wat daarop dui dat die barbaar ook goeie dinge doen ter wille van die openbare mening. 2.Waaruit kan afgelei word dat die barbaar ’n bekende figuur is? 3.Watter versreël wys ’n voorbeeld van ’n teenstelling aan? Skryf die frase oor. 4.Wat bereik die digter deur geen hoofletters of ander leestekens te gebruik nie? 5.Hoe beïnvloed hierdie gedig jou siening van bekende mense? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf vir ’n koerant se sosiale blad ’n onderskrif van 150 woorde by die foto van ’n bekende figuur waarin dié se voorkoms en optrede beskryf word. Philip de Vos (*16 Junie 1939) DE VOS IS IN BLOEMFONTEIN GEBORE. Hy was vroeër ’n taalonderwyser en is veral bekend vir sy spitsvondige limerieke. Dié veelsydige digter is ook ’n fotograaf en sanger en het in meer as 60 operarolle vir verskillende kunsterade gesing. Hy sing ook sy geestige verse by verskeie kunstefeeste. De Vos het 22 bundels op sy kerfstok, sowel as 33 vertalings van rymverse en ander fiksie. Hy is bekroon met die Eugène Marais-prys (1989), ATKV-kinderboektoekenning (1989), M.E.R-prys (1996), Mondiprys (1996) vir die strokies in De Kat, Alba Bouwer-prys (1998) en IBBY internasionale toekenning (2004). Pre-lees Mens ontmoet ander mense wat om die een of ander rede ’n blywende indruk op jou maak. Dikwels oor die dinge wat hulle doen en wat vir jou verspot voorkom. Dit kan ook dié dinge wees waarin jy jou nooit sou begewe of jou tyd mee sou mors nie. “’n Vrou van die dorp Clocolan” in konteks: In Ierland is ’n dorp met die naam Limerick. Maar ’n limeriek is ook ’n digvorm met ’n vaste formele struktuur van Engelse oorsprong. Dis ’n vyfreëlige gediggie met ’n vaste rympatroon: aabba. Die eerste, tweede en die vyfde versreëls is langer as die derde en vierde versreëls. In die langer versreëls is gewoonlik drie en in die korteres twee betoonde lettergrepe. Die eerste versreël bevat meestal ’n eienaam en in die slotversreël is daar ’n onverwagse wending. Die inhoud is uitbundig, lig spottend en dikwels ironies. Verhoudings kom aan bod en emosies wat daarmee gepaardgaan soos haat en jaloesie. Dit speur die komiese in verhoudings na. Lees ’n Vrou van die dorp Clocolan 1.’n Vrou van die dorp Clocolan 2.Was verlief op die man in die maan. 3. Sy’t ’n hart vol van hoop 4. En ’n ou teleskoop – 5.En sy sug nou so ver as sy gaan. WOORDVERKLARINGS die man in die maan: denkbeeldige persoon of niemand / Eng.: fictitious person or nobody Pitkos: Dit is ’n goeie voorbeeld van die lighartigheid en selfs die klug wat hierdie digsoort kenmerk. Hoewel selfs ’n uiters moderne teleskoop haar nie ’n kykie op die man in die maan sou kon gee nie, het sy boonop ’n ou teleskoop en niks sal dus van haar hoop kom nie. LEERFOKUS alliterasie ironie limeriek rym Post-lees Kontekstuele vrae 1.Waar woon die vrou in die gedig? Kies die regte antwoord: a.Op die maan b.Op Clocolan c.Op die aarde 2.Watter ironie kom in versreëls 3 en 4 voor? 3.Waarom sug die vrou? 4.Waarmee, dink jy, spot hierdie limeriek? 5.Bespreek jou reaksie op die gediggie. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf nou self ’n limeriek. Miskien kan jy dit opdra aan iemand wat jy ken. Antjie Krog (*23 Oktober 1952) KROG IS IN KROONSTAD GEBORE. In dié distrik word sy groot op die plaas Middenspruit en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad. Sy behaal ’n BAHons aan die Vrystaatse Universiteit en ’n meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria. Met die verskyning van haar debuutbundel in 1970, Dogter van Jefta, het sy opslae gemaak, nie net omdat sy toe nog op skool en agtien jaar oud was nie, maar omdat haar poësie so sterk vertoon het. In die liriese klank- en beeldende aard van dié gedigte was daar wel nog spore van Ingrid Jonker se poësie, maar dit was ook duidelik dat ’n individu hier gehoor wil word. In een ná die ander bundel wat Krog daarna gepubliseer het, het haar kenmerkende stem in ’n al hoe groter register van temas en vorme gegroei tot by die komplekse, histories gebaseerde bundel Lady Anne van 1989. Daarna was dit bowenal die indrukwekkende bundels Kleur kom nooit alleen nie (2000) en Verweerskrif (2006) wat haar as een van die groot digters in Afrikaans gevestig het. Maar sy is nie net ’n digter nie, en as aktivis en later joernalis wat regstreeks te doen gehad het met die problematiese politieke gebeure in Suid-Afrika tot en met die historiese verkiesing van 1994, asook in die dekade daarna, het sy met twee prosawerke, Country of my skull (1998) en ’n Ander tongval / A change of tongue (2003), ook in die buiteland aansien verwerf. Sy het ook ’n aantal bundels kinderverse gepubliseer en twee bundels met gedigte van die inheemse taalgroepe vertaal en saamgestel. Die eerste een is ’n uitgebreide versameling van gedigte en tradisionele liedere van al nege Afrika-taalgroepe en verskyn in 2002 onder die titel Met woorde soos met kerse. Die tweede versameling verskyn in 2004 onder die titel die sterre sê ‘tsau’ en bevat verwerkings en/of vertalings van gedigte deur ’n aantal San-digters wat in die vorm van Engelse prosa bewaar gebly het. Met dié twee boeke het Krog ’n besondere bydrae tot die bewaring van die inheemse erfenis in Suid-Afrika gelewer. Nasionaal en internasionaal is twee eredoktorsgrade aan haar toegeken en sy was ook Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy is nasionaal en internasionaal met verskeie literêre pryse vereer. Diä!kwain (voor 1873 – † nie bekend nie): Hierdie digter se plek van geboorte en dood is nie bekend nie. Diä!kwain se geboorte- en sterfdatum is ook onbekend. Sy Afrikaanse noemnaam was Dawid Hoesaar. Hy was ’n San wat iewers voor 1873 in die Kenhardt-distrik in hegtenis geneem is nadat hy ’n boer doodgeskiet het wat hom gevolg het ná veediefstal en gedreig het om Diä!kwain se hele familie dood te skiet. Terwyl hy in die Breekwatergevangenis in Kaapstad aangehou is, is hy as werker beskikbaar gestel aan die Duitse taalgeleerde doktor Wilhelm Bleek. Met Diä!kwain en sy mede-Sangevangenes se hulp het Bleek die San-taal en -kultuur opgeteken deur die San se vertellings foneties te transkribeer en in Engels te vertaal. Antjie Krog het die poësie in hierdie geskrifte raakgesien en dit in Afrikaans omgedig. Soms het sy vertaal en glad nie gewysig nie, maar soms verstegniek gebruik om die betekenis daarvan te versterk. Sy merk op dat die Engels waaruit sy dit vertaal het, dikwels opsigtelik letterlike Engelse vertalings van Afrikaanse frases is. Die meeste San kon teen die middel van die negentiende eeu reeds Afrikaans praat, vandaar die Afrikaanse spoor wat so opmerklik was in die opgetekende Engels. Pre-lees Gevangenskap is onvermydelik in ’n gemeenskap waarin misdaad gestraf moet word. Tog kan mens nie onverskillig staan teenoor die droefheid en eensaamheid wat mense in gevangenskap ervaar nie. In die tradisionele San/Boesman-kultuur was gevangenskap as straf ’n vreemde konsep, dus moes dit vir ’n gevangene uit hierdie kultuur des te moeiliker gewees het. “die gebreekte snaar” in konteks: Die San/Boesman-kultuur het grootliks uitgesterf, so ook die taal. Daar was ’n paar variante en dit was tradisioneel ’n skriflose taal tot Bleek dit opgeteken het, waarna ortografie gevolg het. Antjie Krog se omdigting van Bleek se optekeninge is die enigste vorm van hierdie taal wat in Afrikaans behoue is en daar is dus twee digters van die volgende gedig, naamlik Krog en Diä!kwain, omdat die gedagte Diä!kwain s’n was en die Afrikaanse bewoording en digterlike vormgewing Krog s’n. In hierdie gedig weeklaag die spreker oor sy lot. Omdat dit tydens sy gevangenskap verwoord is, kan ons met redelike sekerheid aanneem dit is sy lot as gevangene wat hy bekla. Dit is egter ook universeel van toepassing op enigeen wat voel dat hy of sy van ander mense en die lewe daarbuite vervreemd is. Die snaar as fisieke voorwerp, sowel as die simboliese snaar van die hart, het dus gebreek en die spreker kan glad nie meer sin maak van die wêreld nie, dit is vir hom ’n vreemde plek. Lees die gebreekte snaar 1. mense was dit 2.wat die snaar vir my gebreek het 3. daarom 4.het die plek vir my só geword 5. as gevolg daarvan 6.omdat hulle die snaar gebreek het 7.en ek die trillende geluid deur die lug nie meer kan hoor nie. 8. daarom 9.voel die plek nie meer vir my 10.soos die plek eens vir my gevoel het nie 11. as gevolg daarvan 12. want 13.die plek voel asof dit sommerso oopstaan 14.omdat die snaar gebreek is vir my 15. daarom 16.voel die plek vir my vreemd 17. as gevolg daarvan WOORDVERKLARINGS snaar: gespande, lynvormige voorwerp wat vibreer wanneer dit aangeraak word, gebruik in musiekinstrumente en om pyle met ’n boog te skiet / Eng.: tightly stretched string that vibrates when touched; used for musical purposes as well as for hunting with a bow and arrow sommerso: sonder omhaal / Eng.: carelessly trillende: vibrerende / Eng.: vibrating Pitkos: Deur herhaling van verskillende woorde wat redevoering aanvoor of afsluit, probeer die spreker sy verlatenheid verwoord. Ook die herhaling van ’n frase in ’n vers sonder ander vorme van herhaling wat ritme kan bewerkstellig, is opvallend. Dit ontbreek die vers aan hoofletters of leestekens, met uitsondering van die punt in versreël 7. Alliterasie en assonansie kom egter ruimskoots voor. Verskeie versreëls is ingekeep. Die spreker se agtergrond is dié van ’n jagter-versamelaar en dit is dus paslik dat die gedig nie van hoogdrawende taal gebruik maak nie, maar in roerende eenvoud sy boodskap oordra. LEERFOKUS assonansie herhaling letterlik- en figuurlik- heid uitheffing Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Wat het met die jagter se boogsnaar gebeur? a.Mense het dit gebreek. b.Hy het dit verloor. c.Niks het daarmee gebeur nie. 2.a.Uit watter versreël kan die leser aflei dit is vir die spreker om ’t ewe of hy in die buitewêreld of die gevangenis is? b.Hoekom voel dit vir hom so? 3.Watter woord dui daarop dat die jagter se boogsnaar ook die funksie van ’n musieksnaar kan vervul? 4.Uit watter frase kan afgelei word die spreker is daarvan bewus dat “die plek” nie vir ander mense anders voel nie en hoe word dit beklemtoon? 5.Hoe beïnvloed hierdie gedig jou siening van gevangenskap? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n paragraaf waarin jy ’n tyd in jou lewe beskryf waarin jy baie verlate gevoel het. I.D. du Plessis (*25 Junie 1900 – †11 Desember 1981) HY IS IN PHILIPSTOWN GEBORE en het in Steynsburg en Kaapstad grootgeword, waarvan laasgenoemde die digter se tuiste geword het. Du Plessis het die grade BA, MA, BEd en DPhil behaal, laasgenoemde vir sy proefskrif oor die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied. Sy intense belangstelling in die Maleier-kultuur sou later ook in sy digkuns vorm aanneem en hy het die Maleier-musiek op verskeie gebiede bevorder. Hy het hom ook aktief beywer vir die behoud van die Maleier-woonbuurt in die Bo-Kaap. Vir ’n rukkie was hy ’n joernalis, maar het hom weer na die akademie begewe en is as dosent in tale aan die Universiteit van Kaapstad aangestel. Later was hy die eerste kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland. Du Plessis was bekend vir sy jeugboeke, kortverhale en sy digbundels. Onder toekennings wat hom te beurt geval het, tel die volgende: Scheepers-prys vir jeuglektuur en Hertzog-prys vir poësie. Meer as 70 digbundels, kortverhale en romans het uit sy pen verskyn. Pre-lees Bespreek in groepe: •Het iemand al ooit vir jou ’n geskenk uit ’n ander land saamgebring? •Het jy daarvan gehou of nie en waarom? •Waarom bring iemand gewoonlik vir jou ’n geskenk saam wanneer hulle na ’n ander plek reis? Die gedig in konteks: Djokjakarta (ook Yogyakarta) is ’n stad in Indonesië (Java). By die volgende webwerf kan jy na ’n kaart van die stad se ligging kyk, asook foto’s daarvan: https://www.google.co.za/maps/place/Jogjakarta/@-7.8032504,110.3748449,-13z/data=!3m hl=af. Batik is ’n kunshandwerkvorm waarvolgens materiaal gekleur word met kleursel en was. Tradisionele batik kom oorspronklik van Djokjakarta en Surakarta. Pers, donkerbruin en wit is meestal gebruik. Sekere patrone word net deur die adel gedra. Lees Djokjakarta 1.In Djokjakarta, waar die silwersmede 2.Geduldig hamer op die wit metaal, 3.Het ek vir jou – ’n duisend jaar gelede? – 4.Dié bontgeblomde batikdoek gaan haal. WOORDVERKLARINGS bontgeblomde: kleurvolle blompatrone / Eng.: multicoloured floral pattern doek: stuk materiaal wat jy om jou lyf kan bind of oor ’n tafel gooi / Eng.: cloth geduldig: sonder om ongeduldig te word / Eng.: patiently hamer (ww.): om met ’n hamer te slaan / Eng.: hammer metaal: delfstof wat deur bewerking van vorm kan verander / Eng.: mineral of which the shape can be changed by beating it silwersmede: vaklui wat met silwer werk / Eng.: silversmiths Pitkos: ’n Kwatryn kan as deel van ’n langer reeks gedigte of as onafhanklike gedig gelees word. Hoewel hierdie kwatryn deel van ’n reeks gedigte is, kan dit ook as ’n onafhanklike gedig gelees en voldoende verstaan word. Tradisioneel was die kwatryn se rymskema aaba. Die tradisionele kwatryn vertoon ’n wending in die derde versreël. Hier verander die gedig van ’n algemene vertelling na ’n direkte vraag aan iemand wat vir die spreker spesiaal is, want hy het vir dié mens ’n doek gaan haal. Let wel, hy het nie die doek as ’n aandenking saamgebring nie, maar spesiaal “gaan haal”. LEERFOKUS alliterasie assonansie atmosfeer hoofletters kwatryn lettergrepe ritme rym Post-lees Kontekstuele vrae 1.Waarom sou jy die spreker in die gedig as ’n reisiger beskou? 2.Watter onmoontlikheid kom in die gedig voor? 3.Hoe bind die gedig die plek waar die doek vandaan kom en die artikel wat daarvandaan kom deur klank? 4.Hoe wyk hierdie gedig van die tradisionele kwatrynvorm af? 5.Gee jou opinie omtrent die gebruik van hoofletters waar spelreëls dit nie vereis nie. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n paragraaf aan iemand vir wie jy omgee om te verduidelik hoekom jy enige artikel van jou keuse uit jou kultuur vir hom/haar as geskenk stuur. Koos du Plessis (*10 Mei 1945 – †14 Januarie 1984) DU PLESSIS HET AAN DIE OOS-RAND in Gauteng grootgeword en later sy opleiding as onderwyser in Pretoria voltooi. Hy was as joernalis aan verskeie koerante verbonde. Dit was egter sy talent vir musiek en sang wat hom binne enkele jare as liedskrywer en “late troebadoer”, soos Hennie Aucamp dit stel, as sanger en komponis van formaat in die Afrikaanse musiekwêreld gevestig het. Sy unieke “Kinders van die wind” (wat deur Laurika Rauch se opname klassieke status behaal het) het ’n SARI-toekenning vir liedjie van die jaar ontvang. Ook met latere ballades soos “Sprokie vir ’n stadskind” en “Skielik is jy vry” het Koos du Plessis ’n bekende naam in die lys van liedskrywers en sangers van hoë gehalte geword. Sy lirieke is uitstekend versorg, en saam met dié van enkele ander sangers soos Amanda Strydom, Randall Wicomb, David Kramer en Coenie de Villiers, kan dit sonder meer ook as poësie gelees word. Sy lirieke is in vier bundels gepubliseer. Koos du Plessis is op nege en dertig in ’n motorongeluk oorlede nadat hy slegs drie albums uitgereik het. Ná sy dood is nog ’n album uitgereik met nuwe liedjies wat reeds opgeneem was. Asof hy bestem was vir ’n kort lewe, spreek sy lirieke en musiek byna deurgaans van verlange en verlies. Baie het gebeur sedert Koos du Plessis se dood, maar dat hy ’n fenomenale impak op die ontwikkeling van Afrikaanse musiek gehad het, is moeilik om te betwis. Pre-lees Gesels in die klas oor waar jy jouself oor tien jaar sien. Sal jy baie ongelukkig wees as jy nie daardie mikpunt bereik nie of sal jy kan aanvaar ons lewe verloop nie altyd soos ons dit in die vooruitsig stel nie? “Kinders van die wind” in konteks: Mens kan baie dinge in Du Plessis se musiek lees, juis omdat dit sulke universeel menslike temas aanroer. In hierdie liriek wat ook as gedig waardeer word, skryf hy oor mense wat nie rigting in die lewe kan vind nie en voortdurend swerf. Die slotsom is egter dat selfs mense wat sterk rigtinggedrewe is, maar soekers bly omdat niemand sy of haar lewensloop in alle opsigte kan bepaal nie en alle mense feilbaar is. ’n Verlies, herinnering en droewe sinisme voer die botoon. Selfs herinneringe bly vaag. Lees Kinders van die wind 1.Ek ken ’n ou, ou liedjie 2.van lewenswel en -wee; 3.van lank vergane skepe in 4.die kelders van die see. 5.Die woorde is vergete 6.en tog, die deuntjie draal – 7.soos vaag onthoude grepies uit 8.’n baie ou verhaal … 9.Van swerwers sonder rigting; 10.van soekers wat nooit vind … 11.En eindelik was almal maar 12.kinders van die wind. 13.Gesigte, drome, name 14.is deur die wind verwaai; 15.en waarheen ál die woorde is, 16.sou net ’n kind wou raai. 17.Swerwers sonder rigting; 18.soekers wat nooit vind … 19.En eindelik was almal maar 20.kinders van die wind. WOORDVERKLARINGS deuntjie: wysie; melodie / Eng.: melody draal: sloerend of stadig beweeg / Eng.: linger, move slowly grepies: stukkies uit ’n verhaal / Eng.: extracts, pieces of a story lewenswel en -wee: die mooi en die slegte kant van die lewe / Eng.: the good and bad side of life onthoude (neologisme): iets wat onthou word / Eng.: remembered vergane: wat vergaan het of tot niet is / Eng.: perished, wrecked Pitkos: Musikaliteit word bevorder deur ’n vaste aantal lettergrepe in sekere versreëls. Hoewel ’n vaste rympatroon ontbreek, is daar eenvormige strofebou. Assonansie en alliterasie versterk die musikaliteit. Herhaling en ’n refrein verhoog die musikaliteit. Verskeie metafore wat aan dieselfde gedagte uitdrukking gee, bind die vers. Die ellips word strategies aangewend om te kenne te gee dat daar soveel meer te sê is as wat die gedig kan noem. Omdat alle mense – in mindere of meerdere mate – die swerwerseienskappe in die gedig vertoon, kan almal dus as “kinders van die wind”, dus swerwers, beskou word. LEERFOKUS ellips lettergrepe metafoor musikaliteit refrein stemming Post-lees Kontekstuele vrae 1.In watter strofes kom die refrein voor? 2.Som die inhoud van strofes 1 en 2 in een sin op. 3.Watter verband is daar tussen die versreëls wat met ellipse eindig en wat is die funksie daarvan? 4.Verduidelik die metafoor in strofes 2 en 4. 5.Wat beskou jy as die oorheersende stemming in die gedig? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n liriek met ’n vaste aantal lettergrepe in elke versreël wat handel oor die wind en die mens. Elisabeth Eybers (*26 Februarie 1915 – †1 Desember 2007) EYBERS IS OP KLERKSDORP GEBORE. Sy het grootgeword en skoolgegaan op Schweizer-Reneke, waar haar pa predikant was. Op veertienjarige ouderdom begin sy reeds poësie skryf, aanvanklik in Engels. Sy was net sestien jaar oud toe sy aan die Normaalkollege en Universiteit van die Witwatersrand begin studeer het, waar sy haar BA- en honneursgraad met lof verwerf. Daarna was sy lid van Die Vaderland se kunsredaksie en redakteur van die tydskrif Die moderne vrou. Haar debuut getitel Belydenis in die skemering maak van haar die eerste vrou wat ’n digbundel in Afrikaans publiseer. Sy was ook die eerste vrou wat die Hertzog-prys verower het. In 1961 vertrek sy na Nederland met die doel om net ’n jaar daar te vertoef. Maar sy woon 46 jaar daar tot en met haar sterfdag in Amsterdam. Sy het vier eredoktorsgrade ontvang. Twee maal is sy met die Hertzog-prys bekroon, drie maal met die CNA-prys, asook met die WA Hofmeyr-prys en Ou Mutual-prys. In die buiteland word sy vereer met die gesogte P.C. Hooft-prys (die belangrikste prys in Nederland), die Herman Gorter- en die Constantijn Huygens- en Reina Prinsen Geerligs-pryse. Sy het ook die Orde vir Voortreflike Diens van president Mandela ontvang. Die sopraan Julia Bronkhorst het van haar getoonsette gedigte gesing. Pre-lees Beantwoord die volgende vraag in groepsverband: Ken jy iemand of het jy al van iemand gehoor wat oor en oor dieselfde ding doen en elke keer verwag dat dit hierdie keer anders sal wees? “Verhaal” in konteks: Die vers verskyn in 1946 in die bundel Die ander dors. Die tema is egter universeel van aard, sodat dit vandag nog tot die leser spreek. ’n Toonsetting van die gedig is beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=DsholB8g4qE. Dit handel oor ’n vrou wat dag en nag gewag het op iets wat nooit ’n werklikheid geword het of op iemand wat nooit gekom het nie. Daar is nie genoeg leidrade in die gedig om vir seker te bepaal waarvoor of vir wie sy gewag het nie, maar dit is nie so belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat mens verniet kan wag en dat jy die berusting dan in jouself moet vind deurdat jy krag ontwikkel om die teleurstelling te bowe te kom. Lees Verhaal 1.’n Vrou het stil geword van baie wag: 2.die aarde het gegly deur die spiraal 3.van dag na nag, was beurtelings groen en vaal, 4.en sy het soms gehuil en soms gelag. 5.Ook was sy dikwels wakker in die nag, 6.maar sy het in haar woning en op straat 7.gewoon gehandel en gewoon gepraat 8.en niemand het geweet hoedat sy wag. 9.Verlange word aanvaarding, langsaamaan, 10.want wag is beurtelings hoop en wanhoop, tot 11.die twee versmelt en stilte alleen bestaan. 12.En deur die jare het sy self die slot 13.van die verhaal geword: haar stilte en krag 14.was skoner as die ding waarop sy wag. WOORDVERKLARING langsaamaan: (neologisme) langsamerhand / Eng.: gradually Pitkos: Die Italiaanse en die Engelse sonnet se uiterlike en innerlike bou is nou verwant. Rym speel ’n belangrike rol by al twee hierdie digvorme en met rymwoorde aan die einde van die versreëls verhoog dit beklemtoning van hierdie woorde. Enjambemente versterk die gedagte van gebeure of gedagtes wat onkeerbaar en onafwendbaar is. Enjambemente en die afwesigheid van leestekens waar spelreëls dit vereis, skep ook meerduidigheid. Soms vertoon ’n sonnet kenmerke van sowel die Italiaanse as die Engelse sonnet en dit is nie “verkeerd” nie, maar eerder ’n ontginning van die talle moontlikhede wat klassieke digvorme bied. En dit is dan die “Verhaal” in hierdie gedig: Die een wat wag, bepaal self die slot deurdat haar emosionele krag mooier word as dit (waarskynlik die geliefde of sy liefde) waarop sy wag. LEERFOKUS konflik krisis rym sonnet Post-lees Kontekstuele vrae 1.Na watter “spiraal” word verwys in versreël 2 en wat is die betekenis daarvan? 2.Uit watter woorde is “langsaamaan” saamgestel en wat bereik die digter daarmee? 3.Wat is die funksie van die enjambement in versreëls 2–4? 4.Die spreker in die gedig is ’n eksterne verteller – “’n vrou”, “sy” en “haar”, nie “ek” nie. Origens word die “verhaal” in die verlede tyd vertel. Wat is die funksie hiervan? 5.Voltooi: As jy leer wag, verkry jy soms … wat waardevoller is as die persoon of ding waarop jy wag. Vir jou joernaal en/of in die klas Hier is ’n moeilike opdrag: Kyk of jy ’n sonnet kan skryf oor ’n gebeurtenis in jou lewe. Onthou dat rymwoorde ’n funksie het. Onthou ook dat die uiterlike bou en die tema/boodskap onlosmaaklik deel is van mekaar! H.A. Fagan (*4 April 1889 – †6 Desember 1963) FAGAN IS OP TULBAGH GEBORE en het sy jeug op Somerset-Wes deurgebring. Hy studeer aanvanklik in die godsdiens, maar verwerf later ’n graad in die regte in Londen aan die Middle Temple en het aan dié inrigting verskeie pryse verower in sy akademiese loopbaan. By die jong advokaat se terugkeer na Suid-Afrika was hy een van die eerste lede van die nuut gestigte Nasionale Pers se direksie asook assistentredakteur van Die Huisgenoot. Daarna het hy hom egter voltyds aan sy regspraktyk gewy. Hy was ’n volksraadslid en het in 1943 ’n regter geword, later ’n appèlregter en hoofregter en ’n senator. Fagan was in verskeie genres aktief: kortverhale, poësie, drama, asook ’n studie oor SuidAfrika se rasseprobleme. As dramaturg (waarvoor hy die Hertzog-prys ontvang het) het Fagan ’n groter bydrae gelewer as digter, maar het met sy omdigting van “Nkosi sikelel’ i-Afrika” ’n belangrike spoor in die Afrikaanse poësie getrap. Pre-lees Bespreek in die klas: •Watter nut en waarde het ’n volkslied? •Waarom dink jy dit kan mense verenig of dalk van mekaar vervreem? “Nkosi sikelel’ i-Afrika” in konteks: Hierdie gedig het in 1949 in Soos die windjie wat suis verskyn. Dis waarom “Kosa” en “Soetoe” so anders gespel is as wat ons deesdae gewoond is. “Nkosi sikelel’ i-Afrika” (Xhosa) is in 1897 deur Enoch Sontonga, ’n onderwyser by die Metodiste Sendingskool, as gesang gekomponeer op ’n wysie van Joseph Perry. Die ANC het dit gedurende apartheid as amptelike lied en simbool van die antiapartheidsbeweging gebruik. Dis tans die volkslied van Suid-Afrika, Tanzanië en Zambië. Let wel, die gedig hierna is nie ’n volledige vertaling van die volkslied soos ons dit in Afrikatale sing nie, maar dit bevat wel frases daarvan. Let op die hoofse taalgebruik (“serafskoor” i.p.v. “engelekoor”, “almal verenigd” i.p.v. “almal saam”, “een tuiste” i.p.v. “een huis”, “vele volkre” i.p.v. “vele volke”). Lees Nkosi sikelel’ i-Afrika 1.Uit duisende monde word die lied gedra. 2. Ek sluit my oë; soos ’n serafskoor 3. val daar stemme strelend op my oor: 4.“Nkosi sikelel’ i-Afrika” – 5.ons vra U seën, o Heer, vir Afrika. 6. Ek kyk, en sien die skare voor my staan: 7. Zoeloe en Kosa, Soeto en Sjangaan, 8.en ek, ’n Blanke – vele volkre, ja – 9.almal verenigd om Gods seën te vra 10. op net een tuiste, net een vaderland, 11. want die Alwyse het ons saam geplant 12.en saam laat wortel in Suid-Afrika. 13. “Nkosi sikelel’ i-Afrika” – 14.seën, Heer, die land wat vele volkre dra. WOORDVERKLARINGS Alwyse: God / Eng.: God, All-Wise Blanke: wit persoon; pejoratiewe woord / Eng.: white person; derogatory word serafskoor: engelekoor / Eng.: angelic choir strelend: aangenaam, wat jou goed laat voel / Eng.: caressing, pleasant volkre: volkere, nasies / Eng.: nations, people wortel: wortelskiet, groei / Eng.: take root, grow Pitkos: Hoewel dit ’n sonnet is, het die digter nie streng by die vorm daarvan gehou nie. Lank voordat dit die volkslied geword het, is hierdie gesang al wyd gesing, vandaar ook die spreker in hierdie gedig se aangrypende belewenis daarvan. Die wonder daarvan is dat vele verskillende kulture hier dieselfde wens uitspreek, naamlik ’n versoek dat die Heer – wie ook al die leser as “Heer” beskou – hierdie land sal seën sodat al die inwoners in vrede saam sal leef. LEERFOKUS alliterasie herhalings rym sonnet teenstelling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Noem twee redes waarom die spreker sy “oë” in versreël 2 “sluit”. 2.Haal die vergelyking in versreëls 2–3 aan en verduidelik waarom dit ’n besonder gepaste beeld is. 3.a.Skryf die rymskema van die gedig neer. b.Watter afwyking van die verwagte rympatroon merk jy op? c.Verduidelik die funksie van hierdie besondere rympatroon. Toon die herhaling wat in die gedig voorkom aan. 4.Verduidelik die doel van hierdie herhaling. 5.Hoe kan jy met die inhoud van die gedig identifiseer? Vir jou joernaal en/of in die klas Beskryf die gevoelens en die gedagtes wat deur jou gemoed skiet by die aanhoor van die volkslied tydens ’n openbare geleentheid, soos voor ’n rugbywedstryd of wanneer julle as skool dit saamsing. Diana Ferrus (*29 Augustus 1953) FERRUS, GEBORE OP WORCESTER, is ’n prosaskrywer, digter en storieverteller. Sy behaal ’n graad in sosiologie en bedryfskunde as hoofvakke en ’n honneursgraad in vrouestudies. Sy is verbonde aan die administratiewe afdeling van die Universiteit van Wes-Kaapland, aanbieder van skryfslypskole in Kaapstad en besit ’n uitgewery. Ferrus is veral bekend vir haar gedig oor Sara Baartman, ’n Khoivrou wat in die 19de eeu onder valse voorwendsels na Europa geneem is, in tragiese omstandighede daar gesterf het en wie se oorskot later na Suid-Afrika teruggebring is. Ferrus het dié gedig geskryf terwyl sy in Utrecht studeer het en publiseer later die digbundel Ons Komvandaan. Van haar kortverhale verskyn in verskeie versamelbundels. Ferrus oes twee Kannatoekennings in vir musiek- en woordkuns. Sy is ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging, Bush Poets en Women in Xchains. Pre-lees Gesels in groepe: Hoe sal jy voel as jy van jou ouerhuis weggeneem sou word na ’n ander land en jy kan nooit terugkeer nie al wil jy graag? “Vir Sara Baartman” in konteks: Die gedig handel oor Sara Baartman, wie se naam en van op verskillende maniere geskryf is. Ten einde die gedig voldoende te verstaan, is kennis van haar agtergrond nodig. Sy was ’n Khoivrou wat in ongeveer 1790 in die Gamtoosvallei gebore is en toe sy sowat twintig jaar oud is, verkoop is aan ’n Londense sirkusbaas. Hier is haar menseregte op gruwelike wyse geskend deurdat sy as ’n eienaardigheid ten toon gestel is, omdat sy so anders as Europese vroue gelyk het. Wat in haar Afrikakultuur skoonheid was, was vir die Europeër ’n lagwekkende skouspel. Sy is selfs aan anatomiese ondersoeke by die Natuurhistoriese Museum in Londen onderwerp. Na bewering was haar laaste woorde “Saartjie gaan huis toe” toe sy in 1815 in Parys, Frankryk, oorlede is. Haar liggaam is selfs gedissekteer en haar oorskot is ten toon gestel. Vir meer as ’n eeu en ’n half kon mense steeds na haar brein en beendere gaan kyk in ’n Paryse museum. Sy is later in Parys begrawe, maar Nelson Mandela het gevra dat haar oorskot na Suid-Afrika teruggebring word. Frankryk se parlement het in 2002 aan hierdie versoek gehoor gegee. Sy is op 9 Augustus 2002, Nasionale Vrouedag, te Vergaderingskop, ’n heuwel buite Hankey in die Oos-Kaap, ter ruste gelê. In Ferrus se gedig word Sara aangespreek. Die spreker sê op liefdevolle wyse vir Sara dat sy haar huis toe bring, Suid-Afrika toe. Daarmee verwys sy nie net na Sara se herbegrafnis nie maar na alles wat saam met mens se huis gaan: waardigheid, liefde, respek, geborgenheid en vrede. Sara se geskiedenis word ook in die gedig herroep: die spot wat sy in die lewe moes verduur, die vernedering ná haar dood dat haar liggaam as ’n eienaardigheid gedissekteer is. Die “monster” verwys nie net na die man wat haar weggevoer het nie, maar na die boosheid wat in mense skuil en maak dat hulle ’n ander so kan aftakel. Sara se “tuiskoms” wat deur haar herbegrafnis moontlik gemaak is, beteken ook vrede vir Sara sowel as al die mense van haar lied, daarom kan dit as ’n versoeningsvers beskou word. Lees Vir Sara Baartman 1.Ek is hier om jou huis toe te neem, huis toe – 2.onthou jy die vlaktes, 3.die welige groen gras onder die groot eikeboom, 4.die lawende koeltes en die son wat nie steek? 5.Ek het jou bed berei teen die voet van die berg, 6.jou komberse uitgedos met boegoe en kruisement. 7.Daar waar die proteas pronk in geel en wit, 8.daar sing die rivier jou verwelkomingslied! 9.Ek is hier om jou weg te skeur, 10.weg van die snydende oë van die monster 11.wat wegkruip in die donker met sy kloue van haat, 12.wat jou liggaam versnipper, stukkie vir stukkie, 13.jou siel vergelyk met dié van satan 14.en syne vergelyk met dié van God! 15.Ek is hier om jou te troos, 16.jou moeë hart teen my bors vas te hou, 17.die palms van my hande oor jou wange te vou 18.die lyne in jou nek met my lippe te streel 19.en jou ewige skoonheid in my oë te onthou. 20.Ek is hier om vir jou te sing 21.want ek het vir jou vrede gebring. 22.Ek is hier om jou huis toe te neem, 23.daar waar die oeroue berge jou naam uitroep! 24.Ek het jou bed berei teen die voet van die berg, 25.jou komberse uitgedos met boegoe en kruisement. 26.Daar waar die proteas pronk in geel en wit, 27.daar sing die rivier jou verwelkomingslied! 28.Ek is hier om jou huis toe te neem 29.waar ek vir jou sal sing 30.want jy het ook vrede vir my gebring; 31.want jy het ook vrede vir ons gebring. WOORDVERKLARINGS berei: voorberei, reg- maak / Eng.: prepare boegoe: welriekende plant met medisinale eienskappe / Eng.: buchu, aromatic medicinal plant kruisement: welriekende plant met medisinale eienskappe / Eng.: mint, aromatic medicinal plant lawende: verkwikkende, versterkende / Eng.: refreshing, strengthening pronk: spog / Eng.: show off snydende: bitsige, pynlike / Eng.: scathing, hurtful uitgedos: uitgevat, ver- sier / Eng.: dressed up Pitkos: Die gedig is ’n vrye vers, want dit het nie die formele onderbou van die tradisionele gedig nie. Hoewel die gedig nie aan al die vereistes van die tradisionele ballade voldoen nie, vertoon dit egter verskeie kenmerke daarvan. Vrede ondergaan progressie in die gedig. Verskeie vorme van herhaling verleen musikaliteit aan die gedig, in die besonder klank- en woordherhaling. Hoewel al hierdie voorbereidings niks meer vir Sara Baartman kan beteken nie, vertroos dit die agterblywendes en dit is dus eintlik ’n lied vir die begrafnisgangers. LEERFOKUS alliterasie assonansie ballade herhaling musikaliteit teenstelling vrye vers wending Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Waarna verwys “bed” in versreël 5? a.huis b.graf c.slaapplek 2.Verduidelik die teenstelling tussen strofe 2 en 3. 3.Verduidelik die funksie van die herhalende frase “Ek is hier om jou huis toe te neem”. 4.Waarom is “Ek het jou bed berei” en “proteas pronk” ’n meer geslaagde keuse as byvoorbeeld “Ek het jou bed reggemaak” en “proteas spog”? 5.Beskou jy hierdie gedig as ’n versoeningsvers en hoekom? Vir jou joernaal en/of in die klas Ná baie jare is jy uit ballingskap terug in jou land van herkoms. Maak ’n inskrywing daaroor in jou dagboek en sê hoe jy voel oor alles wat jy byna vergeet het, maar nou herken. Jeanne Goosen (*13 Julie 1938) GOOSEN IS IN PAROW GEBORE en word daar groot. Sy het ’n lisensiaat in musiek verwerf, maar nooit ’n loopbaan daarvan gemaak nie. Goosen het radiografie studeer en as radiografis en arbeidsterapeut in hospitale gewerk. Sy het ook drama studeer om meer van die toneelwêreld te wete te kom. Daarbenewens was sy vir sestien jaar as joernalis aan verskeie dagblaaie verbonde – hoewel sy graag vermeld dat sy ook al ’n visserman, smous en boer was. Sy is veral bekend as prosaskrywer, in die besonder vir haar roman Ons is nie almal so nie (waarvoor sy bekroon is met die Rapport-, CNA- en die MNetprys), maar het ook eenakters (bekroon met die Rapport-prys), kabarettekste en drie digbundels die lig laat sien. Siniese humor oor die ongemaklike kant van die lewe is opmerklik in al haar werk. Pre-lees Suid-Afrika is wêreldwyd bekend as ’n land wat rugbymal is. Gesels oor die volgende in die klas: •Is jy ook rugbymal of hou jy meer van ander sportsoorte? •Dink jy toeskouers by rugbywedstryde dryf hulle geesdrif te ver? “die dag op nuweland” in konteks: Nuweland-stadion is die oudste rugbystadion in Suid-Afrika. Die spreker in hierdie gedig aanskou ’n rugbywedstryd waartydens toeskouers uiters geesdriftig raak. Die spreker is egter nie so entoesiasties nie. Die geweld en geesdrif interesseer haar net soveel as die wedstryd. Lees die dag op nuweland 1.hoera en boland en haak vrystaat 2. skree ons van die pawiljoen 3.vir die rugbyspelers 4. wat soos gestreepte haaie rondduik 5.en na mekaar se boudvleise hap 6. en ons kou grondboontjies en ons kake gaan 7.op en af 8. op en af 9.’n maer meisie van swellendam 10. brei mansokkies 11.en soos ons boland en haak vrystaat skree 12. brei sy al vinniger 13.sodat ek senuweeagtig word 14. oor die spoed 15.waarmee sy die wol 16. oor haar dun dun voorvinger stoot 17.en ek my tong raakbyt 18. oral op die pawiljoen 19.spring mannetjies 20. 21. regop en die planke wip hulle weer terug 22.en dan weer 23. 24. regop en ons kou grondboontjies en ons skree 25.hoera boland haak vrystaat 26. soos die rugbyspelers 27.nou met toenemende venyn na mekaar gryp 28. en alles later bloederig word 29.en die gras mislikgroen regop staan 30.dit begin reën 31. en die blou reën was die bloed dieper 32.in die gras 33. die dag is pers en die son skyn oor alles 34.toe die eindfluitjie blaas 35. brul en skud die hele pawiljoen 36.sodat die potsierlike hoedjies 37. teen ’n ontstellende spoed op en af 38.op en af 39. wip 40. en die rugbyspelers dra die stukkende held 41.skouerhoog en die held gryns 42. en die meisie van swellendam 43.bêre haar breiwerk in ’n sneeuwitdoekie 44. en krap in haar neus 45. die rugbyspelers dra die stukkende held 46.tot voor my WOORDVERKLARINGS Boland!: uitroep wat algemeen in die Wes-Kaap gebruik word om verrassing uit te druk / Eng.: cheer used when Western Province rugby team gets a try haak Vrystaat!: uitroep om ’n span aan te moedig / Eng.: hook Free State! cheer to encourage the Free State rugby team potsierlik: iets wat lagwekkend is, belaglik / Eng.: comical venyn: hatigheid, bitsigheid teenoor ’n ander persoon / Eng.: hatred; malice Pitkos: Die vrye versvorm gebruik nie rym en vaste strofevorms om die gedig te bind nie. Juis daarom maak hierdie soort gedig dikwels ruim gebruik van assonansie, alliterasie en herhaling as samebindende elemente. Inkeping, strofebou en die lengte van versreëls – deel van die gedig se uiterlike bou – versterk die inhoud van die gedig. Kyk byvoorbeeld hoe die ingekeepte versreëls die toeskouers naboots: soms sit hulle net en kyk (versreëls wat teen die kantlyn begin) en soms spring hulle op (versreëls wat al hoe verder van die kantlyn af begin). Anders as ’n wedstryd wat formeel begin en eindig, begin die gedig nie met hoofletters en is dit nie verdeel in strofes (pouses) nie, want dit is deel van die gedig se satire om te sê die hele wedstryd is eintlik ’n deurmekaarspul wat vir die spreker nie veel beteken nie. LEERFOKUS alliterasie assonansie binding bladruimte herhaling ironie satire teenstelling tempo uiterlike bou vergelyking verteltyd vrye vers Post-lees Kontekstuele vrae 1.Aanvanklik praat die spreker van “ons” (versreëls 2, 6, 11), maar later word daar van “mannetjies” (versreël 19) en “hoedjies” (versreël 36) in plaas van “ons” gepraat. Wat is die betekenis hiervan? 2.Waarmee vergelyk die spreker die rugbyspelers? Verskaf aanhalings om jou antwoord te staaf. 3.Hierdie gedig kan as ’n satiriese gedig beskou word. Verduidelik hierdie stelling. 4.Waaruit kan afgelei word die spreker is nie so hart en siel deel van die wedstryd soos die skare toeskouers nie? 5.Laat hierdie gedig jou anders dink oor rugby en hoekom? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n kort paragraaf waarin jy verduidelik hoekom jy ’n rugbywedstryd geniet het of nie geniet het nie. Daniel Hugo (*26 Februarie 1955) HUGO IS IN STELLENBOSCH GEBORE, maar het in Namibië grootgeword waar sy pa predikant was. Later keer hy terug na Stellenbosch waar hy in Afrikaans en Nederlands studeer, en ná sy militêre diensplig voltooi hy ’n meestersgraad, gevolg deur ’n doktorsgraad, met die tema van sy proefskrif die vernufpoësie in Afrikaans. Sy belangstelling in dié onderwerp blyk ook uit sy eerste bundel wat hy in 1981 onder die volkse skuilnaam Daan van der Merwe publiseer. Daarna volg ’n hele aantal digbundels waarin sy deeglike skoling onder D.J. Opperman aan die Universiteit Stellenbosch duidelik blyk. Tot en met sy agste bundel, Verse van die ongeloof (1989), lewer Hugo bestendig goed versorgde verse, maar dis eers met die meer volwasse bundels Dooiemansdeur (1991), Monnikewerk (1995) en Skeurkalender (1998) dat Daniel Hugo hom as beduidende digter vestig. In 2002 verskyn sy twaalfde bundel met die titel Die twaalfde letter, waarin hoofsaaklik liefdesgedigte aan ’n tweede huweliksmaat verskyn. Naas sy eie poësie, publiseer hy ook tematiese bloemlesings en uitgesoekte verse met inleidings oor die werk van ander belangrike Afrikaanse digters, asook verskeie vertalings uit Vlaamse en Nederlandse werke van sowel digters as romanskrywers. Verder het hy as spesialisomroeper verbonde aan die Afrikaanse sender RSG verskeie toekennings vir sy programme oor skrywers en aktiwiteite rondom die Afrikaanse taal ontvang. Pre-lees ’n Namiboloog is iemand wat oor groot kennis van die Namibwoestyn beskik. In Daniel Hugo se eie woorde: “Ek was bevoorreg om my eerste bewuswording as mens in daardie uitgestrekte, aangrypende stuk van Afrika tussen drie groot riviere en twee magtige woestyne te ervaar. Die riviere is die Kunene en die Okavango in die noorde en die Gariep/Grootrivier/Oranje in die suide. Die Namibwoestyn lê in die weste en die Kalahari in die ooste. Namibië se helder, droë naglug maak dit ’n paradys vir sterrekykers.” “Namiboloog” in konteks: Die gedig het in 1983 verskyn en vertel van ’n navorsingstasie by Gobabeb waar mense die veranderlikheid van ekostelsels in hierdie dorre landstreek van die Namibwoestyn bestudeer. Gobabeb is honderd en twintig kilometer suidoos van Walvisbaai in die Namibwoestyn. Dit is geleë in die Naukluftpark, Namibië se grootste natuurreservaat. Die gedig verwys ook na die Gamsberg. Dis waar ’n klein sterrewag in 1970 boop die berg deur die Duitse Max Planck Instituut vir Sterrekunde gebou is. Die ligging is besonder geskik vir ’n sterrewag, omdat die nagte meestal wolkloos is en geen kunsmatige lig die uitsig bederf nie. Die atmosferiese deursigtigheid en lae humiditeit maak die Gamsberg ook ’n uitstekende plek vir ’n sterrewag. Lees Namiboloog 1.by Gobabeb in die sandwoestyn vang 2.hy nagdiertjies tussen die duine met ’n tang 3.hou hul onder ’n mikroskoop om te sien 4.waar die naald moet prik met die formalien 5.en snags kyk hy van Gamsberg se sterrewag 6.hoe sekuur die Skerpioen oor die uitspansel jag WOORDVERKLARINGS formalien:oplossing waarin organiese materiaal ontsmet en bewaar word / Eng.: formalin jag: prooi soek om te vang / Eng.: hunt nagdiertjies: diertjies wat in die nag aktief is / Eng.: small nocturnal animals prik: steek / Eng.: prick sandwoestyn: woestyn sonder plante / Eng.: sandy desert Skerpioen: sterrekonstellasie in die vorm van ’n skerpioen / Eng: Scorpio snags: in die nag / Eng.: during the night sterrewag: waar sterre bestudeer word / Eng.: observatory tang: werktuig wat iets kan vasknyp / Eng.: pliers uitspansel: sterrehemel / Eng: firmament or sky Pitkos: Die digter gebruik ’n kwatryn en koeplet met ’n vaste rymskema om ’n prentjie van ’n wetenskaplike te skep. Al gebruik hy hoofletters vir eiename, is daar geen ander hoofletters of leestekens nie. Dit skep die indruk van iets wat maklik kan verdwyn, want dit verskyn nie binne ’n bekende struktuur soos ’n sin waarin ’n hoofletter die begin en ’n punt die einde aandui nie. Jy kan self besluit of dit iets sê oor die digter se opinie van dit waarmee die namiboloog besig is. Die gedig is ook besonder kort en dit sluit aan by die effek wat deur die gebrek aan leestekens geskep is. Dis baie belangrik om die konteks van die oeroue reuse-Namib – waar bitter min spesies kan oorleef – die hele tyd in gedagte te hou. Die tipografie beklemtoon die beperking van die namiboloog se bestaan, asof hy met slegs twee dinge besig is. Kyk hoe die digter van verskille en ooreenkomste gebruik maak om verbande te trek tussen wat in die kwatryn en in die koeplet beskryf word. Op hierdie manier word dit duidelik hoe hy oor die namiboloog voel. In die slotstrofe word die sterrebeeld die Skerpioen ’n simbool van die diertjies wat die wetenskaplike jag en dié simbool is so oneindig groot dat dit nooit ten volle bestudeer kan word deur hierdie wetenskaplike wat die uitgestrekte Namib probeer bestudeer nie. LEERFOKUS alliterasie assonansie enjambement koeplet kwatryn paarrym stemming verstegniese middele woordkeuse Post-lees Kontekstuele vrae 1.Hoe beklemtoon die digter die weerloosheid van die diere wat deur die wetenskaplike gevang word? 2.Wanneer doen die wetenskaplike sy werk en wat maak hy met die naald? 3.Beskryf twee verskille tussen die aktiwiteite in strofe 1 en strofe 2. 4.Watter vier verstegniese middele gebruik die digter om die koeplet as eenheid saam te bind? Motiveer jou antwoord met voorbeelde uit die teks. 5.Hoe beïnvloed die enjambemente jou ervaring van die namiboloog se aktiwiteite met nagdiertjies en sterrebeelde? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n boodskap van 100 woorde op ’n poskaart aan jou oupa of ouma waarin jy hom of haar van julle vakansie in Namibië vertel. Hendrik Januarie (*16 Oktober 1941) HENDRIK JANUARIE IS OP AMALIENSTEIN naby Ladismith gebore. Hy matrikuleer in 1961 aan die Elsiesrivier Sekondêre Skool. Onder die verskeidenheid beroepe wat hy in sy lewe beoefen het, tel masjienwerker, verpleër by Stikland-hospitaal en klerk by verskeie maatskappye in Kaapstad, Johannesburg en Beaufort-Wes, en die staatsplaas Amalienstein. Hy het in 1973 ’n diploma in Godsgeleerdheid aan die Chaldo Bybelinstituut op Wittebome verwerf, waarna hy deeltyds pastorale werk verrig. Sy debuutbundel, Pro rata, het in 1989 verskyn en sy tweede bundel, Nagjakkals, in 2007. Sy werk handel veral oor die wêreld wat vir hom bekend is, naamlik die Karoo, en hy skryf ook oor 1981 se vloed in Laingsburg, waar sy pa vroeër op ’n plaas gewerk het. Pre-lees Vloede het verreikende gevolge op mense se eiendom maar ook op hulle psige. Gesels in die klas oor vloede waarvan jy gelees of op TV gesien het. “Noue ontkoming” in konteks: Die spreker staan in ’n grot waarvan die wand beskilder is met voorstellings van ’n vloed wat mense baie eeue gelede getref het. Dit is waarskynlik Boesman/San-skilderinge. Die spreker is kennelik bewus van die gevare van ’n vloed, asook die impak wat dit op menselewens het. Noue ontkoming 1.Aangeland 2.is ek oorkoepel 3.deur ’n skulp 4.van ’n rots 5.en teen ’n wand 6.sien ek dié figure 7.in roeserige rooi: 8.wesens hand aan hand, 9.party met arms 10.wild omhoog, 11.andere drywend, 12.één met die hande 13.en die knieë 14.op die grond. 15.Uit die talle stippels, 16.oënskynlik druppels 17.water, kon ek vermoed 18.dit toon ’n vloed. 19.Mettertyd 20.was dit helder: 21.’n instromende 22.watergevaar 23.soos tóé ervaar 24.deur grotbewoners 25.eeue en eeue terug. WOORDVERKLARINGS drywend: iets wat dryf / Eng.: drifting grotbewoners: mense wat in ’n grot woon / Eng.: cave dwellers oorkoepel: bedek soos ’n koepel bo-oor /Eng.: covering like a dome roeserige: soos roes, kleur van roes / Eng.: colour and texture of rust stippels: kolletjies / Eng.: spots wand: rotsmuur / Eng.: wall of a cave Pitkos: Strofebou is betekenisvol. Hoewel die gedig nie ’n rympatroon bevat nie, is daar wel rymende versreëls. Die boodskap wat die spreker wil oordra, is dat ’n vloed nie uniek is nie, dit tref die mens al “eeue en eeue” en dit sal altyd terugkeer. Hierdie boodskap kan ook universeel wees, m.a.w. van toepassing wees op alle rampspoed wat die mens tref; dus moet die mens weet hy sal buitendien nooit veilig wees nie en só leef dat hy elke sekonde van die lewe benut. LEERFOKUS meerduidigheid rym spreker vs. digter strofebou tydsaanduiding Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Wat stel die stippels op hierdie skilderye vir die spreker voor? a.water b.sterre c.sneeu 2.Beskryf die voorkoms van die grot. 3.Lewer kommentaar op die meerduidigheid van die woord “aangeland” (vs. 1). 4.Watter twee woorde in die eerste strofe versterk die gevoel van veiligheid? 5.Beïnvloed die feit dat jy weet hierdie digter het die Laingsburg-vloed van 1981 beleef jou interpretasie van die gedig en hoekom? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n kort koerantberig oor ’n vloed waarvan die weerburo kennis geneem het, maar waarvan nog geen verdere besonderhede bekend is nie. Ingrid Jonker (*19 September 1933 – †19 Julie 1965) JONKER IS OP DOUGLAS GEBORE en ná die vroeë dood van haar ma het sy in armoedige omstandighede by haar ouma naby Kaapstad in die Strand en later Gordonsbaai grootgeword. Sy het later by ’n Kaapse uitgewer gewerk, waar sy ouer skrywers soos Uys Krige en Jack Cope ontmoet en bevriend geraak het met ’n aantal Sestigers soos Breyten Breytenbach, Jan Rabie en Adam Small, almal skrywers wat sou bydra tot haar verwerping van die politieke onreg in daardie tyd. Ná diepe depressie het sy haar lewe beëindig deur by Drieankerbaai die see in te loop. Die belangstelling in haar werk en veral in haar kort en tragiese lewe was ná haar dood veel groter as toe sy geleef het. Daar het net drie digbundels van haar verskyn: Ontvlugting (1956), Rook en oker (1963) en ná haar dood Kantelson (1966). Dit is veral die kort en suiwer liriese gedigte van verlange en verlatenheid in Rook en oker wat haar beroemd gemaak het. In die nadoodse bundel Kantelson was dit weer ’n doodsverlange wat tot lesers gespreek en daartoe gelei het dat van die bekendste sangers haar gedigte getoonset en opgeneem het. Haar kinderdae was onstabiel en die onsekerheid van haar jeug was deurgaans deel van haar digterskap en die enkele kortverhale wat sy geskryf het. Haar verse oor verwonding en verraad het saam met haar einde daartoe gelei dat sy die status van ’n ikoon gekry het. Oor haar dood op ’n koue wintersnag het daar verskeie gedigte in Afrikaans en Engels verskyn. Behalwe die toonsettings van haar gedigte is daar ook verskeie TV-programme en boeke van biografiese aard oor haar lewe gemaak. Dit was egter ná die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika (1994), toe oudpresident Nelson Mandela haar gedig “Die kind” op 24 Mei 1994 in die parlement voorgelees het, dat sy wêreldbekend geraak het. Daar is ook ’n literêre prys in haar naam wat jaarliks om die beurt aan ’n debuutpoësiebundel in Afrikaans of Engels toegeken word. Pre-lees Gaan luister by https://www.youtube.com/watch?v=vRkBQXksyDg om te hoor hoe Laurika Rauch die gedig “Toemaar die donker man” sing. “Toemaar die donker man” in konteks: Ingrid Jonker se dogter se naam is Simone en dit is redelik om te aanvaar die gedig is aan haar opgedra. In ’n poging om haar kindjie te vertroos teen die donker, wat soms vir kinders angs veroorsaak, stel die ma die donker as ’n gawe ou man voor. Sy gee hom allerhande name en eienskappe wat aangename assosiasies vir die kind sal oproep. Die ma en die kindjie is beurtelings aan die woord. In die vers se eenvoud setel ook die skoonheid daarvan, want bloot deur verbeelding, vrae en antwoorde skep die ma vir haar kind gerusstelling. Lees Toemaar die donker man Vir Simone 1.Op die groen voetpad 2.van die horison ver 3.om die aarde skat, 4.stap ’n ou man wat 5.’n oop maan dra in sy hare 6.Nagtegaal in sy hart 7.jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat 8.en ’n rug gebuk aan sy jare. 9. Wat maak hy, mammie? 10.Hy roep die kriekies 11.Hy roep die swart 12.stilte wat sing 13.soos die biesies, my hart 14.en die sterre wat klop 15.tok-tok liefling, 16.soos die klein toktokkies 17.in hul fyn-ver kring. 18. Wat is sy naam, mammie? 19.Sy naam is Sjuut 20.Sy naam is Slaap 21.Meneer Vergeet 22.uit die land van Vaak 23.Sy naam is toe maar 24.hy heet, my lam 25.Toemaar, die donker man 26. Mammie … 27.Toemaar, die donker man WOORDVERKLARINGS biesies: plante wat gebruik word om mandjies mee te vleg / Eng.: rushes fyn-ver: fyn en ver / Eng.: delicate and far heet: sy naam is / Eng.: named jasmyn: blom met skerp, soet reuk, veral in die aand / Eng.: jasmine knoopsgat: gat in kledingstuk vir ’n knoop / Eng.: buttonhole kriekies: insekte / Eng.: crickets lam: liefdesnaam, gewoonlik vir ’n kind /Eng.: term of endear- ment, usually for a child liefling: liefdesnaam / Eng.: darling, term of endearment nagtegaal: ’n soort voël wat ook in die nag sing / Eng.: nightingale sjuut: uitdrukking wat gebruik word om iemand stil te maak / Eng.: sh, hush skat: liefdesnaam / Eng.: treasure (lit.), term of endearment toktokkie: volksnaam vir Psammodes, soort kewer wat ’n klopgeluid maak / Eng.: common name for Psammodes, tapping beetle voetpad: smal paadjie vir voetgangers deur die veld / Eng.: footpath through the veld Pitkos: Die gedig is ’n vrye vers. Alleenplasing en inkeping verdeel die gedig in vrae en antwoorde. Assonansie en alliterasie verleen musikaliteit aan die gedig. Hoewel een versreël nie woordeliks herhaal word en dit nie ’n refrein in die volle sin van die woord is nie, word ander elemente daarin telkens herhaal om dit te beklemtoon. Strofes 1 en 3 bevat baie meer kort klanke as strofe 5; dit vertraag die ritme en dui progressie aan. LEERFOKUS alleenplasing alliterasie assonansie enjambement inkeping musikaliteit personifikasie progressie ritme Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wie is die ou man waarna in die gedig verwys word? Kies die korrekte antwoord: a.donker b.dood c.maan 2.Verduidelik hoekom dit lyk asof die donker ’n maan in sy hare dra. 3.Hoe word die kind se spreekbeurt van die ma se spreekbeurte onderskei? 4.Lewer kommentaar op die alliterasie in versreëls 19–22. 5.Stem jy saam dat die bekoring van hierdie gedig in die eenvoud daarvan lê en hoekom sê jy so? Vir jou joernaal en/of in die klas Kies een maat in die klas om die gedig só voor te dra dat dit ’n rustige atmosfeer skep wat ’n kind aan die slaap kan laat raak. Ronelda S. Kamfer (*16 Junie 1981) GEBORE IN KAAPSTAD, bring Kamfer haar kinderjare in Blackheath en Grabouw deur. Sy behaal matriek aan Eersterivier Sekondêr en ’n BAHons aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Onder die beroepe wat sy beoefen het, tel verpleegster, kelner en administratiewe assistent by ’n bemarkingsmaatskappy. Van haar gedigte is opgeneem in Nuwe stemme 3, My ousie is ’n blom en Bunker Hill. Haar eerste digbundel verskyn onder die titel Noudat slapende honde, waarvoor sy as medeontvanger van die Eugène Marais-prys bekroon word. Dié bundel is ook in Nederlands uitgegee. Dit word opgevolg deur haar bundel grond/Santekraam. Sy skryf veral Kaapse Afrikaans. Ronelda is getroud met die bekende Afrikaanse digter, Nathan Trantraal. Pre-lees Huishoudelike geweld is ’n groot probleem, ook in Suid-Afrika. Die algemene opvatting dat dit net onder laer sosio-ekonomiese klasse voorkom, is foutief. Dit gebeur in alle klasse, soms ook in die rykste en mees gesiene mense se huise. Al word net een van die ouers mishandel, het dit ’n uiters negatiewe invloed op kinders, omdat hulle in hierdie gewelddadige omgewing grootword en dit ’n norm word. “Martha” in konteks: Die spreker in hierdie gedig het midde-in huishoudelike geweld grootgeword. Sy herroep haar kinderjare terwyl sy saam met haar ma huis toe gestap het ná ’n biduur. Dit was nie gelukkige jare nie, want haar ma was ’n slagoffer van huishoudelike geweld omdat haar man haar aangerand het. Uiteraard het die emosionele pyn daarvan ook in haar kind, die spreker in die gedig, weerklank gevind. Die spreker voel magteloos, omdat haar liefde nie haar ma kan red van dié pyn nie. Lees Martha 1.my ma se naam is Martha as 2.iemand my eendag vra hoe baie ek 3.haar liefhet sal ek net sê dat toe 4.ek vier jaar oud was het ek saam 5.met haar in die donker trug huis toe 6.gestap van ’n biduur af waar my 7.pa gewag het om haar te slaan 8.sodra sy instap my ma het altyd 9.vinnig gestap huis toe na haar 10.ander kinders en man toe 11.ek moes sukkel om by te bly 12.toe skielik toe begin ek te huil 13.alleen in die donker omdat al my 14.liefde vir haar niks beteken nie WOORDVERKLARINGS biduur: gemeentelike byeenkoms om te bid / Eng.: prayer meeting sukkel: moeite hê / Eng.: struggle trug: terug / Eng.: back Pitkos: Hierdie vers sou as ’n vrye vers beskou kon word, maar dit toon meer kenmerke van praatpoësie. Anders as in baie ander van Kamfer se verse, gebruik sy nie in hierdie gedig Kaapse Afrikaans nie. Daar is ’n ondertoon in die gedig wat geïnterpreteer kan word as dat die spreker se ma deur haar naam verband hou met die Bybelse Martha, suster van Maria. Die Bybelse Martha het Jesus baie liefgehad en sy het haar huishoudelike take besonder ernstig opgeneem. Hoewel dit nie direk gestel word nie, sou dit as ’n vorm van metonimia beskou kan word, omdat die ma as ’t ware as “’n Martha” gesien kan word. LEERFOKUS enjambement intertekstualiteit ironie leestekens metonimia praatvers stylfigure vergelyking vrye vers Post-lees Kontekstuele vrae 1.Is die spreker in die gedig die enigste kind en hoekom sê jy so? 2.Skryf die woorde neer waarmee die spreker na haar pa verwys. 3.Watter emosie word versterk deurdat daar twee keer in so ’n betreklike kort vers na “die donker” verwys word? 4.Dink jy die vergelyking tussen die intertekstuele Martha en die Martha in hierdie vers is geslaag? Motiveer jou antwoord. 5.Voel jy digters behoort eintlik nie oor hierdie tema te skryf nie en hoekom sê jy so? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n praatjie wat jy op Vrouedag moet lewer oor huishoudelike geweld. Johannes Kerkorrel (*27 Maart 1960 – †12 November 2002) RALPH JOHN RABIE WAS ONDER DIE VERHOOGNAAM Johannes Kerkorrel as Afrikaanse rocksanger en liriekskrywer bekend. Hy was as joernalis verbonde aan die Sondagblad Rapport. Nadat hy uit die destydse staatspresident P.W. Botha se toesprake aangehaal het tydens sy optredes as musikant, is hy as joernalis afgedank. Daarna het hy voltyds begin sing as deel van die Gereformeerde Blues Band. Hulle het bekend geword vir hulle alternatiewe Afrikaanse musiek. Saam met dié groep en as individuele sanger het hy verskeie musiekalbums vrygestel. Hy het ook in België en Nederland bekendheid verwerf. Sy lewe eindig tragies in selfdood, waarskynlik as gevolg van depressie en finansiële probleme. Kerkorrel se sensitiewe lirieke word ook as verse bestudeer. Pre-lees Alhoewel geskiedskrywing objektief behoort te wees, word dit verskillend vanuit verskillende hoeke en vanuit verskillende mense se perspektief gesien. Bespreek die koms van die Europeërs na die Kaap en besluit watter voordele en nadele dit tot gevolg gehad het. “Halala Afrika” in konteks: Die geskiedenis van Suid-Afrika word hierin vertel, asook hoe die land verander het ná die koms van die Europeërs. Hierdie liedteks kan ook as versetlied beskryf word. Dit toon hoe omstandighede verander het ná die verskillende Europese immigrante hier aangekom het. Nederlanders, Franse, Duitsers en Engelse het almal op verskillende tye met skepe hier geland. Daarom kan die skepe in die lied na al die besetters uit die Weste verwys. Hou in gedagte dat nie net Westerlinge hier gejag het en só wild uitgeroei het nie. Van die vroegste inwoners van die land het gejag – nie as sport of om geld daaruit te maak nie, maar wel om voedsel en kleding van diereprodukte te vervaardig. Die Afrikaanse teks word onderbreek met versreëls in ’n Afrikataal wat vry vertaal kan word as “Wees gegroet. Stil, stil, my kind. Pappa sal terugkom en ons almal bly saam. Vreugde en vrede vir Afrika. Mag ons terugkeer, Afrika.” Kerkorrel se lied is ook op YouTube beskikbaar. Lees Halala Afrika 1.Toe die wêreld hier nog jonk was 2.en die horison wyd en oop 3.was dit groen hier in die halfrond 4.suid van die ewenaar 5.en in die skemer as die son sak 6.en die beeste huis toe loop 7.klink die roepstem van die vroue 8.oor die heuwels van die land 9.halala, halala 10.ewig is ons afrika 11.tula tula mtanami 12.tula tula sanaboni 13.tula tula mtanami 14.ubab uzobuya sihlale naye 15.ubab uzobuya sihlale sonke, hmmm-hmmm 16.toe kom die skepe uit die weste 17.wit seile oor die see 18.om te vra vir kos en water 19.en te bly vir soveel meer 20.en die land wat een tyd oop was 21.die land het ons verruil 22.vir die ghetto’s van die stede 23.is ons koperdraad gegee 24.halala, Afrika 25.sasiphila kamnandi 26.mayibuye afrika 27.Daar was rykdom in die maag 28.van ons moeder afrika 29.diamante, steenkool, goud, edel metaal 30.en die mense word die slawe hier 31.want die mense word betaal 32.om te tonnel in die aarde 33.elke greintjie uit te haal 34.en die groot en oop grasvlaktes 35.span dit toe met doringdraad 36.en van die olifant tot die gemsbok 37.al die diere moes kom buig 38.voor die mag van die grootwildjagter 39.voor die mag van sy groot geweer 40.totdat net die stilte oorbly 41.tot net die stilte heers 42.halala, mayibuye afrika WOORDVERKLARINGS doringdraad: metaaldraad wat op kort afstande stekels het wat dit moeilik maak om daardeur te klim / Eng.: barbed wire edel metaal (gebruiklike spelling: edelmetaal): baie waardevolle metaal soos goud, silwer en platina / Eng.: extremely precious metal like gold, silver and platinum ewenaar: denkbeeldige sirkel om die middel van die aarde tussen die twee poolstreke / Eng.: equator ghetto’s: oorspronklik die afgesonderde woonplek in stede waar die Jode moes bly; tans armoedige woonbuurt / Eng.: originally a neigbourhood reserved for Jews; presently a poor neighbourhood greintjie: baie min; elke stukkie / Eng.: grain, shred grootwildjagter: per- soon wat groot diere soos olifante, renosters en buffels jag / Eng.: big-game hunter halala: emosionele klank om uiting te gee aan weemoed en/of hoop; geen vaste woordbetekenis / Eng.: emotional sound to express wistfulness and/or hope; no fixed meaning of the word halfrond: hemisfeer / Eng.: hemisphere heuwels: hoogtes groter as ’n koppie, maar kleiner as ’n berg / Eng.: hills mayibuye: terugkeer / Eng.: return sanaboni: klein kindjie / Eng.: little baby skemer: oorgang van dag na aand / Eng.: dusk tula: stil maar, slaap maar / Eng.: hush Pitkos: Die eerste en derde strofes begin met “toe” en etlike versreëls begin met “en”. Albei woorde word gebruik wanneer ’n verhaal vertel word. In die teks laat dit ook hierdie verhaal voortstu. Daar word mildelik van assonansie en herhalings gebruik gemaak wat bydra tot die liriese en musikale karakter van die teks. LEERFOKUS assonansie herhaling ironie teenstelling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Voltooi: Die mense op die skepe wou aanvanklik … hê. 2.Haal ’n versreël uit strofe 4 aan wat ’n teenstelling vorm met die inhoud van versreëls 2 en 20. 3.Watter gedagte wil die refrein by jou inskerp? 4.Watter teenstellings kom daar tussen die eerste en vyfde strofe voor? 5.Die gedig begin met “toe”, wat ’n spesifieke tyd aantoon. Vertel die verhaal wat in die teks ontplooi word in jou eie woorde. Vir jou joernaal en/of in die klas Stuur ’n e-pos aan ’n klasmaat waarin jy vertel waarom jy bly is jy lewe nou in die land en nie gedurende enige ander tyd van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Pre-lees Gesels oor die rol van musici: Is dit hulle plig om mense van vraagstukke bewus te maak? Is hulle doel nie uitsluitlik om ons te vermaak nie? Motiveer jou standpunt hieroor deur na die invloed van jou gunstelingkunstenaars te verwys. “Blou aarde” in konteks: Die aarde staan as die Blou Planeet bekend vanweë sy voorkoms vanuit die ruimte – amper sewentig persent van die aarde se oppervlak bestaan uit water. Die kleur blou dra egter ook die konnotasie van hartseer en verlange, en in die lig daarvan dui die titel op die hartseer wat die mens veroorsaak – op globale sowel as persoonlike vlak. Die wreedheid van die Nazi’s en die 120 miljoen onskuldiges wat in die twintigste eeu onder ’n Kommunistiese bewind doodgemaak is, word in hierdie lied uitgesonder as voorbeelde van die mens se wreedheid. Die eensaamheid van die mens, sy prestasies en kapasiteit vir die goeie word ook in “Blou aarde” verwoord. As jy na Johannes Kerkorrel se musikale weergawe van “Blou aarde” wil luister, sal jy dit by die volgende webadres vind: http://grooveshark.com/ !/s/Blou+Aarde/Kuru7?src=5. Lees Blou aarde 1.hier stap ons nou 2.in die voetspore van die brontosourus 3.hier oor die woestyne waar een tyd oerwoud 4.was 5.kan jy sien hoe ver het ons gekom 6.in die sirkels van die tyd 7.met ons medaljes en ons wonde 8.stap ons oor die drumpel uit 9.ongeskonde 10.en die wêreld is ’n groot blou bal 11.wat stil deur die ruimte val 12.en ek en jy is kinders 13.wees is ons gelaat 14.en soms vir ’n oomblik 15.kan ons mekaar se taal 16.verstaan 17.niks kan die oorlog keer nie 18.niks kan teen sy mag marsjeer nie 19.hy trek ’n hakekruis 20.en sy maak haar hare los 21.hy het ’n hamer en ’n sekel 22.en sy dans in die sandwoestyn 23.en ons streel met ons blote hande 24.oor die eindelose sand 25.onverbonde 26.en die wêreld is ’n groot blou bal 27.wat stil deur die ruimte val 28.en ek en jy is kinders 29.wees is ons gelaat 30.en soms vir ’n oomblik 31.kan ons mekaar se taal weer praat 32.en eendag sal dit beter wees 33.eendag sal ons wel verstaan 34.waarom mense so wreed kan wees 35.net om soms weer soveel meer te gee WOORDVERKLARINGS brontosourus: ’n dinosourus van die Jurassiese Periode, die grootste bekende landdier / Eng.: brontosaurus, a dinosaur from the Jurassic Period, the biggest known land animal hakekruis: swastika, Nazi’s se kenteken / Eng.: swastika, emblem used by the Nazis hamer en ’n sekel: kentekens van die Kommunisme / Eng.: hammer and sickle, Communist symbol ongeskonde: nie geskend nie, heel / Eng.: undamaged, whole onverbonde: nie verbind of verplig nie, vry / Eng.: free, uncommitted wees: sonder ouers / Eng.: orphan Pitkos: Die vers begin met die visie van die mens as spesie binne die konteks van miljoene jare van lewe op die aarde. Die verstommende ontwikkeling oor die tyd heen en wat die mens met sy vermoëns maak, word gekoppel aan die ek en jy en die ons wat tans hier op aarde lewe. Omdat mense nie in vrede kan leef nie en altyd met mag en geweld wil oorheers, word medemense en die aarde vernietig. Nes die aarde wel deel van ’n sonnestelsel is, maar soos ’n groot blou bal deur die ruimte val, word die mens uitgebeeld as ’n individu wat alleen deur die tyd voortstap. Al wat jy kan doen, is hoop op beter insig en begrip sodat ’n sterker band met medemense en ons planeet bewerkstellig sal word. Ons verstaan nie mekaar se taal nie en ons verstaan mekaar nie as mens nie. Deur alleenplasing word verbande en verskille beklemtoon. Omdat die gedig ’n lied is, word daar ruim van alliterasie en assonansie gebruik gemaak om ritme te bevorder, en herhaling bevorder verder die ritme. Daar is progressie merkbaar wat dui op hoop vir die toekoms in die laaste vier versreëls. Metafore bind sentrale begrippe in die gedig, bv. die bal in strofe 2, iets waarmee kinders speel, het geval en die kinders is wees gelaat, sonder beskerming. Die gedig lewer só kommentaar op oorlog waarmee die mens homself ’n weeskind gemaak het. LEERFOKUS alleenplasing alliterasie assonansie herhaling metafoor progressie refrein teenstelling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Noem twee vorms van herhaling wat die ritme bevorder. 2.Wat is die sentrale gedagte in die gedig? 3.Die metafoor in strofe 2 van kinders wat met ’n groot blou bal speel, behoort ’n vrolike beeld in die werklikheid te wees en tog is dit nie die geval in die gedig nie. Hoe skep die digter ’n stemming van hartseer? 4.Hoe beklemtoon die alleenplasing van “was” in versreël 4 die twee voorafgaande strofes? 5.Dink jy daar is hoopvolle progressie in die gedig? Verduidelik jou standpunt. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n e-pos aan ’n maat in ’n oorloggesteisterde land waarin jy skryf dat jy op TV tonele gesien het van die oorlog in sy/haar land en waarin jy die maat sterkte toewens. Uys Krige (*4 Februarie 1910 – †10 Augustus 1987) KRIGE IS GEBORE OP DIE PLAAS BONTEBOKSKLOOF en het grootgeword op ’n plaas naby Bredasdorp en later in Kaapstad. Hy het ’n graad in die regte aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Ná hy ’n ruk as joernalis gewerk het, is hy na Europa, waar hy met die meesters in die wêreldletterkunde se werk vertroud geraak het, in die besonder die Spaanse skrywer Lorca. By sy terugkeer na Suid-Afrika volg hy weer ’n joernalistieke loopbaan, vestig hom in Kaapstad en trou met die aktrise Lydia Lindeque. In hierdie stadium het hy ernstiger begin skryf. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy as oorlogskorrespondent na Noord-Afrika, wat in talle van sy gedigte neerslag vind. In 1941 is hy as krygsgevangene na Italië weggevoer, maar het aan die einde van die oorlog ontsnap en uiteindelik na Suid-Afrika teruggekeer. In die laat vyftigerjare is hy weer vir studie na Europa, waar hy met ander Sestigerskrywers in aanraking gekom het. Die Universiteite van Natal en Rhodes het eredoktorsgrade aan hom toegeken vir sy dramas. Teen die einde van sy lewe het hy in Onrus gewoon, waar hy aan maagkanker dood is. Hy het van die beste vertalings uit Europese tale in Afrikaans op sy kerfstok en het 38 publikasies die lig laat sien. Hy is bekroon met die Hertzog-prys vir Poësie en die Hertzog-prys vir Drama. Pre-lees Soldate word gewoonlik met geweld geassosieer. Dit is seker net iemand wat self al op die slagveld was wat sal kan getuig van die eensaamheid van ’n soldaat en die nutteloosheid van oorlog. Bespiegel ’n paar minute in die klas daaroor. “Die soldaat” in konteks: Uys Krige was as oorlogskorrespondent in NoordAfrika tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945). “Die soldaat” het in 1942 in sy bundel Oorlogsgedigte verskyn. Hy beeld die dorre, eindelose, kleurlose grysheid van die woestynlandskap uit. Die ruimte waarin die gedig se handeling plaasvind, is op die Somalilandse grens, Desember 1940. Lees Die soldaat 1.In hierdie dorre verlatenheid 2.van ’n vaal wêreld 3.wat langsamerhand veryl, vervloei 4.sy vae omlyninge verloor 5.in ’n nog valer hemel, 6.alleen 7.langs die stofpad deur die woestyn 8.stap 9.’n enkele soldaat. 10.En Fort Wajier lê ver, lê ver, 11.onderkant die eerste ster. 12.Net 13.’n jong soldaat 14.alleen. 15.Alleen 16.met die wêreld van lief en leed 17.wat hy omdra in sy hart, 18.verborge, apart, 19.en wat slegs hy van weet. 20.Alleen 21.in die woestynaand se skemering 22.wat stadig om hom kring 23.vaal soos die stof 24.waardeur sy swaar soldateskoene plof. 25.En Fort Wajier 26.– enigste oase in dié woesteny 27.waarheen elk kronkelende kameelpad lei, 28.waar smiddags ’n suggie wind stil deur die blare stryk, 29.die stekende hitte, sidderende gloed dan voor die koelte wyk; 30.al oord waar saans die palms silwer glinster onder die maan, 31.diep, diep onder in die steil swart putte die stil waters staan; 32.enigste plekkie in die wildernis 33.waar lamplig, mensestemme, water en voedsel te vinde is – 34.lê ver, lê ver, 35.onderkant die eerste ster. 36.Met sy helm op sy kop, 37.bandolier om sy lyf, 38.watersak op sy heup, 39.roer oor sy skouer, 40.stap hy aan deur die stof: 41.’n enkele vaal stippel 42.teen die nog valer vaal 43.van die ontsaglike hemel, 44.die ontsaglike aarde, 45.in hierdie grou grensgebied 46.waar die dag 47.hom meng met die nag, 48.die lig hom gestadig 49.oplos in die skaduwee. 50.En Fort Wajier lê ver, lê ver, 51.onderkant die eerste ster. 52.’n Enkele vaal stippel 53.in die vaal heelal. 54.Maar terwyl die soldaat aanstap, 55.aanstap, 56.al maar aanstap 57.langs die stofpad deur die woestyn, 58.rek sy skaduwee hom trapsgewyse uit, 59.trek dit skuins oor die pad, 60.oor ’n breë strook lawaklip heen 61.tussen die doringbome in. 62.Die skaduwee van die soldaat 63.val oor die pad. 64.Die skaduwee van die soldaat 65.val oor die woestyn. 66.Die skaduwee van die soldaat 67.val oor Afrika. 68.Vas en strak en swart en dreigend 69.val die skaduwee van die soldaat 70.wyd oor die wêreld. 71.En Fort Wajier lê ver, lê ver, 72.onderkant die eerste ster. Op die Somalilandse grens, Desember 1940 WOORDVERKLARINGS bandelier (destyds nog “bandolier” gespel): skouerband met patrone / Eng.: bandoleer, cartridge belt gestadig: stadig, langsaam / Eng.: slowly, steadily grou: grys / Eng.: grey heelal: kosmos / Eng.: universe langsamerhand: stadigaan, geleidelik / Eng.: slowly lawaklip: gestolde lawa / Eng.: lava stone oase: skuiling in dor streek / Eng.: oasis omlyning: buitelyn / Eng.: outline ontsaglike: baie groot, enorme / Eng.: immense oord: plek, streek / Eng.: place, locality oplos: deel word van ’n ander stof / Eng.: dissolve plof: dowwe geluid maak / Eng.: thud roer: geweer / Eng.: rifle stippel: kolletjie / Eng.: speckle, dot strak: onbeweeglik, onbuigsaam / Eng.: taut, rigid strook: lang smal stuk / Eng.: strip stryk: vee / Eng.: sweep trapsgewyse: langsamerhand, stap vir stap / Eng.: step by step vaal: askleur, bleekgeel, kleurloos / Eng.: ashen, pale, dull verborge: nie sigbaar nie / Eng.: concealed verlatenheid: eensaamheid / Eng.: loneliness, desolation veryl: word deursigtig, deurskynend / Eng.: grow sparser Pitkos: In die gedig loop ’n soldaat alleen deur die eindelose woestyn. Sy alleenheid en die wydheid en woestyn wat hom aan alle kante omring in sy meedoënlose staptog, word met behulp van herhaling en variasie in die verslengtes uitgebeeld. Die lengtes van strofes sowel as versreëls varieer. Die inhoud bou op tot ’n klimaks, en die slotstrofe beklemtoon die futiliteit van oorlog, want die soldaat het steeds nie sy bestemming bereik nie. Die oase word ’n simbool van rus, van lewe teenoor die moordende woestyn, vrede teenoor oorlog. Die soldaat is terselfdertyd bevryder en verwoester, draer van dood en verwoesting. Hierdie soldaat veg nie, maar is in die gebied waar die geallieerde magte die Duitse opmars probeer stuit en terugdryf. Net die feit dat hy hier loop, is ’n teken van ’n weermag se teenwoordigheid. Die oorlog hang soos ’n skaduwee, ’n bedreiging, ’n simbool van die dood oor die hele gebied wat in oorlog gewikkel is. Aanvanklik is dit “’n enkele” en “’n jong soldaat”, maar vanaf strofe 8 word dit “die soldaat”, waarmee die soldaat breër betekenis kry as verteenwoordiger van die oorlog. Fort Wajier is ’n werklike bestemming (op internet te sien as Wajir Fort), maar as dit onder die eerste ster is, word dit ’n ideale maar nie ’n haalbare bestemming nie. Distansiëring van die belangrikste objek en bestemming skep vrae waarop die leser ’n antwoord wil vind. Fort Wajier is ’n plek op aarde en kan nie werklik anderkant die eerste ster lê nie. Só word die afstand na Fort Wajier deur middel van oordrywing of ’n hiperbool gevestig. LEERFOKUS alleenplasing alliterasie distansiëring hiperbool musikaliteit progressie refrein sintuiglikheid teenstelling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Waarheen is die soldaat op pad? Kies die korrekte antwoord: a.Pretoria b.Na ’n rivier c.Fort Wajier 2.Skryf die woorde in die eerste strofe wat die woestyn beskryf, neer. 3.Verduidelik hoe die digter die volgende stylmiddele in strofe 1 gebruik om die soldaat in die woestyn uit te beeld: a.distansiëring b.alliterasie c.teenstelling d.alleenplasing 4.Verduidelik progressie in die gedig aan die hand van ruimtes wat beskryf word. 5.Wat dink jy wil hierdie gedig sê? a.Om ’n soldaat te wees kan goed én sleg wees, want jy bring bevryding en verwoesting. b.Om ’n soldaat te wees is goed, want jy bring bevryding. c.Om ’n soldaat te wees is sleg, want jy bring verwoesting. Vir jou joernaal en/of in die klas Bespreek die volgende stelling in die klas en kom dan tot ’n gevolgtrekking: Oorlog moet tot elke prys vermy word, want dit het net negatiewe gevolge vir die mens en die omgewing. C. Louis Leipoldt (*28 Desember 1880 – †12 April 1947) LEIPOLDT IS OP WORCESTER GEBORE. Hy is tuis deur sy ma onderrig. Vir ’n ruk ná skool was hy as joernalis werksaam en het ook vir buitelandse koerante verslag gelewer oor die Anglo-Boereoorlog. Ná die oorlog (1902) is hy na Engeland waar hy medies studeer het. Daarna werk hy as skeepsdokter, skooldokter, mediese inspekteur van skole en kinderarts. Hy was ’n meestersjef en digter, met diplomas van drie van Europa se beroemde sjefs. Die Hantamstreek was sy hartland en dit is ook waar hy begrawe is, in die Pakhuispas. Dié veelsydige mens het diep spore in die Afrikaanse letterkunde getrap en was een van die leidende figure in die Tweede Taalbeweging. “By my is en was die skryfkuns altyd hoofsaak in my lewe,” het hy verklaar. Temas in sy werk is die natuur, die Maleier-kultuur en die Anglo-Boereoorlog. Buiten gedigte het hy romans, toneelstukke, kinderverhale, kookboeke en ’n reisjoernaal geskryf. Hy was ’n medeontvanger van die Hertzog-prys en het ’n eredoktorsgraad in die lettere van die Universiteit van die Witwatersrand ontvang. Pre-lees Wanneer ’n verhouding of ’n vriendskap tot ’n einde kom, is dit nooit aangenaam nie. Soms kwyn ’n verhouding en sterf ’n natuurlike dood. Ander kere stel een van die partye nie meer belang nie, en soms eindig so ’n verhouding selfs gewelddadig. “Wys my die plek” in konteks: Die gedig het oorspronklik in die bundel Skoonheidstroos verskyn wat in 1932 gepubliseer is. Leipoldt staan met sy praatpoësie nader aan die spreektaal van die tyd waarin hy gedig het, toe Nederlands nog ’n groot rol gespeel het. Uit die inhoud van die gedig blyk dit dat ’n liefdesverhouding skipbreuk gely het. Die spreker herroep natuurtonele wat hy en die geliefde saam aanskou het en hoe hulle dit ervaar het. Hierdie tonele en waar hulle saam gestaan het, het dieselfde gebly, ook die invloed wat dit op hom het, maar die geliefde is nie meer dieselfde nie en is nie meer teenwoordig nie. Die plekke waar die geliefdes saam was, bestaan dan wel nog, maar die liefde het eensydig geword. Juis daarom bestaan hierdie plek streng gesproke nie meer nie, want een van die geliefdes se liefde het getaan. Lees Wys my die plek 1.Wys my die plek waar ons saam gestaan het, 2. Eens, toe jy myne was – 3.Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het, 4. Vroeër, toe jy myne was. 5.Kyk, dis dieselfde; die silwer see 6.Blink in die sonskyn, soos lang verlee 7.Dit eenmaal geblink het, ’n welkomsgroet 8.Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed. 9.Wys my die plek waar ons saam gekniel het, 10. Eens, toe jy myne was – 11.Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het, 12. Vroeër, toe jy myne was. 13.Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou, 14.Lag soos voorheen op my en op jou; 15.Dit skitter nog altyd ’n welkomsgroet 16.Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed. 17.Wys my die plek waar ons saam geloop het, 18. Eens, toe jy myne was – 19.Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het, 20. Vroeër, toe jy myne was. 21.Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra, 22.Wie van ons twee moet die meeste dra? 23.Jy wat vergeet het – of ek wat boet 24.Vir my liefde wat uithou en alles vergoed? WOORDVERKLARINGS besiel: inspireer / Eng.: inspire boet: betaal, ly / Eng.: suffer eens: eenmaal, lank gelede / Eng.: in the past, once upon a time gekniel: op knieë gegaan / Eng.: kneeled getaan: verdof, gekwyn / Eng.: faded, pined away skitter: blink / Eng.: shine, sparkle verlee: verlede, lank gelede / Eng.: long ago Pitkos: Die bou van die strofes is identies. Elkeen van die strofes se begin herhaal die titel. Die inhoud van die eerste strofe word in groot mate in die opeenvolgende strofes herhaal, met sekere afwykings, wat dan juis hierdie mislukte verhouding beklemtoon en die gevoel van die spreker duideliker uitdruk. Die korter en langer versreëls versterk die gevoel van hoe dit was en hoe dit nou is. Die gedig is besonder liries as gevolg van die herhaling van woorde en frases en die alliterasie en assonansie, en rym wat deurgaans voorkom, maar nie deurgaans ’n vaste rympatroon volg nie. Die klimaks word beklemtoon deur die gebruik van opeengestapelde heffings, as ’t ware ’n uitroep van pyn. Soos meestal in Leipoldt se poësie, speel die natuur ’n rol. LEERFOKUS herhaling retoriese vraag teenstelling tipografie uitheffing Post-lees Kontekstuele vrae 1.Die eerste versreël van elke strofe lyk dieselfde, maar met ’n verskil. Skryf die aksiewoorde wat verskil neer. 2.a.Watter verband is daar tussen die twee se verhouding en die natuur? b.Verwys na versreël 21. Watter afleiding kan jy daaruit maak? 3.Verduidelik waarom “boet” die spreker? 4.In elke strofe rym die eerste en derde versreël. Gebruik hierdie rymwoorde om die verloop van die verhouding weer te gee. 5.Wat dink jy wil die gedig vir ons sê? a.Mens moet eerder nie liefhê nie, sodat jy seerkry kan vermy. b.Die een wat aanhou liefhê, kry die seerste. c.Die een wat ophou liefhê, kry die seerste. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief aan ’n maat en vertel van ’n verhouding of ’n vriendskap wat verbrokkel het, hoe jy daaroor voel en wat jy gedoen het om die situasie te probeer red. N.P. van Wyk Louw (*11 Junie 1906 – †18 Junie 1970) HY IS OP SUTHERLAND GEBORE en het in die Karoo-wêreld en Kaapstad grootgeword. Benewens sy skryftalent was hy ook musikaal begaafd en het ’n fotografiese geheue gehad. Hoewel hy in Engels skoolgegaan het, sou hy later een van die grootste Afrikaanse digters en denkers word. Hy het aan die Universiteit van Kaapstad studeer en was professor aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam. Louw het drie eredoktorsgrade ontvang. Hy debuteer ’n jaar ná sy jonger broer W.E.G. Louw in 1935 as digter met Alleenspraak, waarvoor hy met die Hertzog-prys bekroon is (hierdie uitsonderlike eer sou hom vier maal te beurt val, vir poësie, prosa en drama). Hy vestig hom daarna met Die halwe kring (1937) as belangrike nuwe digter. Vir die Voortekkereeufees skryf hy ’n dramatiese koordig, Die dieper reg, en in 1941 verskyn sy groot epiese vers Raka, wat tot vandag toe geen gelyke het nie. Daarop volg Gestaltes en diere met ’n ryk verskeidenheid van temas en digvorme, en daarop volg nog ’n indrukwekkende bundel met die titel Nuwe verse. Intussen publiseer hy ook verskeie belangrike hoorspele vir die radio, waarvan Dias, Die held en Lewenslyn die bekendste is. In 1956 verskyn sy grootse versdrama, Germanicus, waarin ’n greep uit die geskiedenis van die Romeinse ryk die problematiek van politieke mag ondersoek. Later sou hy dit opvolg met nog ’n historiese versdrama, Die pluimsaad waai ver, wat hy in 1966 vir die Republiekfees van Suid-Afrika geskryf het, maar wat eers in 1972 gepubliseer is. Sy laaste, besonder komplekse digbundel Tristia het in 1962 verskyn. Verder het hy in die loop van twee dekades belangwekkende opstelle en beskouings oor die politiek en die literatuur gepubliseer, wat saam met sy skeppende werk sekerlik die grootste nalatenskap van een skrywer in Afrikaans is. Pre-lees Bespreek in die klas: Dit is my gunstelingseisoen, want … “Winter” in konteks: Die gedig verskyn in Van Wyk Louw se tweede bundel, Die halwe kring (1937). “Winter” is die derde van vier sonnette in die siklus “Vier gebede by jaargetye in die Boland”. Let wel, dis vier gebede, nie vier jaargetye nie. Die eerste twee sonnette het met die herfs en die laaste twee met die winter te doen. Die siklustitel verwys na die Boland met sy Mediterreense klimaat en winterreënval. Sagte reën en donker dae is kenmerkend van hierdie tyd in die Boland. Elkeen van die gedigte is ’n gebed en dui op die sikliese verloop van die natuur. Die verloop of groei wat in die natuur teenwoordig is, is ook kenmerkend van die mens se bestaan en groei. Lees Winter 1.Nou lê die aarde nagtelang en week 2.in die donker stil genade van die reën, 3.en skemer huise en takke daeliks bleek 4.deur die wit mistigheid en suising heen. 5.Dis alles ryk en rustig van die swaar 6.geheime wasdom wat sy paaie vind 7.deur warm aarde na elke skeut en blaar, 8.en ver en naby alles duister bind 9.in vog en vrugbaarheid en groot verlange; 10.tot ons ’n helder middag skielik sien 11.die gras blink, en die jong graan teen die hange, 12.en weet dat alle rus die lewe dien: 13.hoe kon ek dink dat somer ryker is 14.as hierdie groei se stil geheimenis? WOORDVERKLARINGS daeliks: daagliks, elke dag / Eng.: daily hange: hellings / Eng.: slopes mistigheid: vaagweg sigbaar as gevolg van die mis / Eng.: fogginess, mistiness nagtelang: nagte lank / Eng.: throughout the nights skeut: nuwe loot of botsel; hoeveelheid vloeistof / Eng.: sprig, shoot (of plant); draught (of wine or water) wasdom: volwassenheid / Eng.: adulthood week: sag word; deurweek (regdeur nat word) / Eng.: soft; soaked Pitkos: Hierdie derde sonnet in die siklus sluit aan by die rypwordingsproses van die vorige twee. Dit sal goed wees om die vorige twee sonnette te lees om die progressie in die siklus te ervaar. Die onsigbare, onverwagte groei wat tydens die winter plaasvind, het ook ’n geestelike implikasie: onsigbare, onbewuste innerlike verryking en wasdom vind by die spreker en by alle mense plaas, wat die inhoud ’n universele betekenis gee. Die woordkeuse, klankaanwending en die gebruik van enjambemente dra by tot die langsame en gedrae tempo van die gedig. In die gedig word teenstellings versoen: donker en lig, sodat die halwe kring voltooi kan word. Die retoriese vraag in die slot bevestig die gevolgtrekking van die spreker. Die spreker gee hiermee te kenne dat die winter net so ’n “ryk” (“prolific”) seisoen soos somer of lente is omdat die groei, hoewel dit nie sigbaar was nie, ondergronds en in die geheim begin het. LEERFOKUS alliterasie enjambemente sonnet tempo Post-lees Kontekstuele vrae 1.Skryf die woorde neer wat na reën verwys. 2.Dui die tydsaanduidings in die gedig aan en verduidelik die progressie daarvan. 3.In watter opsig is versreël 10 ’n teenstelling met die vorige versreëls? 4.Dui die alliterasie in versreël 9 aan, en toon aan watter verband daar tussen die allitererende woorde is. 5.Beskryf die doeltreffendheid van die woordkeuse en die enjambemente om die stadige, gedrae tempo in die gedig te verseker. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n kort artikel vir julle skoolkoerant oor die winter se voordele bo die somer in jou omgewing en hoe die aktiwiteite van die skool daarby aangepas is. W.E.G. Louw (*31 Mei 1913 – †24 April 1980) LOUW IS OP SUTHERLAND GEBORE en het daar en in Kaapstad grootgeword en in Engels skoolgegaan. Aan die Universiteit van Kaapstad het hy ’n meestersgraad in Afrikaans behaal en ’n doktorale eksamen afgelê aan die Gemeentelijke Universiteit in Amsterdam, waarna hy ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het. Later was hy professor in Afrikaanse taal en letterkunde aan Rhodes Universiteit en daarna in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Kort ná 1930 het ’n groep Afrikaanse digters met hul eerste bundels in so ’n mate van die vorige generasie afgewyk dat hulle as ’n groep die Dertigers genoem is. Eintlik was dit net die verskuiwing na ’n persoonlike, belydende soort poësie waarin geloofstwyfel en die sensuele of romantiese verlange ’n ander benadering gebring en wat hulle as groep verbind het, want in onderwerp en vorm is hulle werk baie duidelik van mekaar te onderskei. Onder hulle het W.E.G. Louw die mees kenmerkende Dertiger gebly met gedigte soos “Stil aand”, “Vaalvalk” en “Villa Scacciapensieri” wat as modelle van die Dertigers se werk beskou kan word. Sy blywendste bydrae is egter die gedigte met Bybelse motiewe. In sy latere bundels, wat soms met lang tussenposes verskyn het, is die essensie van sy liriese poësie nog teenwoordig, hoewel hy meer oor die wêreld van sy jeug en die kwessies van ’n veranderende samelewing en die angs wat dit meebring, skryf. Dit kom veral voor in sy voorlaaste bundel, Vensters op die vrees (1976), en in Opvlugte en opdragte (1980) wat kort ná sy dood verskyn het. W.E.G. Louw was ook ’n kenner van die klassieke musiek en die skilderkuns, onderwerpe wat hy in verskeie gedigte in sy latere bundels ontgin het. Behalwe literêre studies het hy ook ’n paar bundels essays oor kuns en kultuurbeskouings, asook ’n boeiende reisjoernaal gepubliseer. Louw is met die Hertzog-prys (as medeontvanger) vir sy poësie vereer. Pre-lees Maria was ’n vrou uit die Bybelse geskiedenis wat geboorte aan Jesus gegee het. Die skoonheid van hierdie gedig lê nie daarin of die leser ’n Christen is of nie, maar in die verstegniek. Gesels in die klas oor Jesus se moeder Maria deur antwoorde op die volgende vrae te vind: Was sy ’n belangrike of ’n onbekende meisie in haar gemeenskap? Was sy met Jesus se aardse vader Josef getroud toe sy Jesus verwag het? Wie het vir haar die boodskap gebring dat sy Jesus verwag? “Maria” in konteks: Die gedig kom uit ’n reeks van vier gedigte met die titel “Vier sonnette” wat in die bundel Terugtog in 1940 verskyn het. Dit het ’n Bybelse tema en vertel van die oomblik toe die engel aan Maria verskyn het. Dié oomblik word in die gedig geskets soos wat Maria dit beleef het. Eers was sy verleë oor die glansende engel se teenwoordigheid, toe was sy bang. Met die engel se oë stip op haar het hy aangekondig dat sy geseënd is, omdat sy swanger is en Jesus vir haar gebore sal word. Toe hy verdwyn, was dit asof sy snikke, haar eie of dié van die ongebore kind, reeds kon hoor. Dit is opmerklik dat die engel nie net met lelies in sy hand verskyn nie, maar met drie wittes. Daarom is dit ’n redelike verwagting dat dit iets sal simboliseer wat binne die gedig duideliker sal word. Lees Uit: “Vier sonnette” Maria 1.Deur daardie tuintjie het sy stil gegaan, 2.haar hande need’rig oor haar bors gevou, 3.toe hy, verblindend soos die son, daar staan: 4.drie wit lelies het hy in sy hand gehou. 5.Half-skaam, verleë, het sy opgekyk 6.en is opeens met groot vrees bevang: 7.sy oë het van haar nie afgewyk, 8.sy vleuels het oor heel die tuin gehang. 9.“Geseën is jy onder die vroue” – sy woorde – 10.of was dit winde? – verruis nog in haar oor, 11.toe hy teen die son in goue vlug verdwyn … 12.Sy het haar neergebuig en half-versmoorde 13.klein snikkies in haar hart gehoor, 14.van verlossing reeds die vreugde en die pyn. WOORDVERKLARINGS afgewyk: weggekyk / Eng.: deviated (in terms of looking away from somebody) need’rig: nederig, nie hoogmoedig nie / Eng.: humble neerbuig: buig, jou onderwerp aan iets of iemand / Eng.: bend down, condescend opeens: meteens / Eng.: suddenly verblindend: baie helder lig wat jou amper blind laat / Eng.: dazzling verleë: skaam wees oor iets / Eng.: to be embarrassed verlossing: om bevry te word (van sonde); bevalling (by geboorte) / Eng.: salvation, redemption; delivery (childbirth) verruis: afgelei van “ruis” (neologisme) / Eng.: derivation of “rustle” (neologism) versmoorde: iets (in dié geval haar snikke) wat versmoor word / Eng.: smothered, stifled vleuels: vlerke / Eng.: wings vlug: om te vlieg / Eng.: flight Pitkos: Die Bybel kan as interteks beskou word, aangesien hier na ’n spesifieke episode in die Bybel verwys word. (Lukas 1:31–35 is een van die verwysings.) W.E.G. Louw maak van die uiterlike bou van die sonnet gebruik om ’n beeld te skep en dan ’n toepassing daarop te be- werkstellig. In een gedeelte van die gedig word die engel se verskyning beskryf. In die ander deel praat hy, verdwyn dan en Maria besef die implikasie van sy boodskap. LEERFOKUS beklemtoning elisie enjambement interteks Italiaanse sonnet simbool teenstelling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Waar was Maria en wie het sy daar ontmoet? 2.Som die gebeure in die gedig kortliks op. 3.Hierdie gedig word as ’n Italiaanse sonnet beskou. Verduidelik waarom. 4.Die woorde “verblindend soos die son” (versreël 3) word voorafgegaan en gevolg deur kommas. Wat is die funksie van hierdie kommas? 5.Sou jy sê Maria kan binne die Christelike konteks as ’n diep gelowige vrou beskou word? Waarom sê jy so? Vir jou joernaal en/of in die klas Kies een klasmaat om die rol van die engel te speel en een klasmaat om Maria se rol te speel. Bied dan ’n kort opvoering aan van wat in die gedig beskryf word. Lucas Malan (*19 Julie 1946 – †15 April 2010) MALAN IS GEBORE IN MODIMOLLE, waar hy ook grootword, en hy matrikuleer in Polokwane. Aan die Normaalkollege in Pretoria verwerf hy ’n onderwysdiploma en ’n BA in Afrikaans-Nederlands. Tydens sy loopbaan as onderwyser verwerf hy twee honneursgrade, ’n MA (met lof) en ’n doktorsgraad. As dosent onderrig hy aan die Technikon Witwatersrand en Johannesburg College of Education. Die tema van die mens se sterflikheid, die gesin wat verbrokkel en die natuur as bron van lewe én ondergang, sou later met variasies telkens weer in Malan se poësie voorkom en vorm ná sewe bundels ’n deurlopende lyn in sy werk. Hy debuteer in 1981 met ’n Bark vir die ontheemdes en daarna volg nog ses bundels tot en met 2008. Sy poësie is na vorm en taalgebruik fyn versorg en hy gebruik dikwels die vaste versvorm, hoewel hy die vrye vers ook beoefen. Iets wat opval in sy werk, is dat beide sy bundel- en gedigtitels in die meeste gevalle uit een woord bestaan, soos Tydspoor (1985), Kaartehuis (1990) en Afstande (2002). Dit dui op ’n voorkeur vir verdigte taalgebruik, hoewel sy verse toeganklik is. Hy het ook enkele kortverhale en radiodramas geskryf. Pre-lees Veral gedurende die tienerjare is daar soms stremming tussen ouers en kinders. •Bespreek die probleme wat van julle kant af met volwassenes ervaar word. •Waarom voel julle dikwels dat julle nie verstaan word nie? •Watter aanbevelings kan julle doen om harmonie in die verhoudings te bewerkstellig? “Versoening” in konteks: “Versoening” het in die digter se tweede bundel Tydspoor (1985) verskyn. Die inhoud handel oor ’n seun wat probeer vrede maak met sy gestorwe vader. Op grond van die beelde van boer en houtkapper wat opgeroep word, kan mens aanvaar dat dit die vader se beroep was. Met die beeldnetwerk, die band met die verlede, word ’n hegte struktuur geskep. Lees Versoening 1.Ag Pa, laat ons nou vrede maak, 2.jy raas so in jou kis, 3.jy skaaf so aan ’n kwas 4.wat lankal reeds vergete is; 5.Oliewenhoutsfontein se bome 6.groei nie meer so dik en gaaf 7.dat meubelmakers in hul drome 8.tafelblaaie uit ’n stam kan saag 9.of saaidbôrds kan prakseer nie; 10.daardie plasie naby Pelgrimsrus 11.is ook vergange al verkoop, 12.die opbrengs gaandeweg verkwis – 13.en jy’t jou hawer nooit gesaai nie – 14.net so min het ek miskien geword 15.wat Pa dalk wou, maar nietemin, 16.die saad is klaar gestort: 17.hier agter in my tuin begin 18.die jong tambotie en kiaat 19.al elke somer lustiger 20.van swaar en digte greine praat. WOORDVERKLARINGS gaaf: goed, voortreflik / Eng.: good, excellent grein: draad van hout / Eng.: grain of wood kwas: harde kol in hout waar ’n tak uitgegroei het; dui op probleem / Eng.: knot in wood; indicates a problem lustiger: opgewekter / Eng.: more cheerfully Oliewenhoutsfontein: plaasnaam, ouer vorm van “olyfhout”, letterlik by die fontein waar daar olyfhoutbome is. Eng.: name of a farm, older form of “olive wood”, literally at the fountain where there are olive wood trees opbrengs: oes, verkoop- bedrag / Eng.: harvest, income from sale prakseer: maak, ontwerp / Eng.: craft saaidbôrd: buffetkas met plek vir eetgerei en breekware / Eng.: sideboard or cabinet for crockery and cutlery skaaf: glad skuur / Eng.: plane down vergange: lank terug / Eng.: long ago, past verkwis: onoordeel- kundig bestee, vermors / Eng.: waste versoening: om vrede te maak / Eng.: make peace, reconciliation Pitkos: Met behulp van deurlopende beelde en die verwysing na die verlede en die hede word die onversoenbaarheid tussen pa en spreker aangesny. Vaste strofebou met gedeeltelike rym kom voor. Die rympatroon wat deurgaans voorkom, verander in die tweede strofe. In die eerste en vierde strofe word die pa en die konflik direk blootgelê. Die Engelse uitdrukking “sowing wild oats” (veral van ’n jong man gesê) beteken dat ’n persoon in sy jong dae maar ’n bietjie roekeloos en bandeloos gelewe het. In die gedig word die idioom nuut aangewend. Verskillende betekenisse van kwas en hout word gesuggereer: ’n kwasterige persoon, aan jou kwas kry, ’n mens wat hardekwas is. Die saad waaruit ’n boom ontstaan, is gesaai, die hout se grein word digter. Die gedig bestaan uit slegs een sin, waarin die pa direk aangespreek word, en die gedig eindig met “praat”. Die simboliek van die herhalende beelde werp verder lig op die inhoud en die interpretasie daarvan: bome word beskou as simbole van lewe, asook voortdurende herlewing; boer word verbind met vrugbaarheid, asook oorwinning oor die dood; tuin dui op vrugbaarheid en om sake in orde te kry; en somer verwys na adolessensie. Samevattend wil die spreker met sy pa vrede sluit, want die ou grond en die ou bome het verbygegaan en in die spreker se tuin groei nuwe bome wat ook goeie hout het. Só word die bome dan simbool van iets goeds, iets wat vir die nageslag bewaar kan word, maar ook van waardes wat die nageslag in ere hou. LEERFOKUS herhaling meerduidigheid metafoor personifikasie punktuasie rym Post-lees Kontekstuele vrae 1.a.Maak ’n lys van al die verskillende boomsoorte wat in die gedig genoem word. b.Watter verwysings is daar na boerdery? Watter woord in die derde strofe sluit aan by “vergete” in versreël 4? 2.Toon aan hoe die toonaard van konflik in die eerste strofe deur herhaling en assonansie versterk word. 3.Haal die metafoor in die eerste strofe aan. Verduidelik hoe funksioneel die beeld is. 4.Wat, dink jy, is die oorsaak van die onmin in hierdie ongemaklike situasie? Motiveer jou antwoord. 5.Lewer kommentaar op die rym soos dit in die gedig aangewend word. Dink jy dit is geslaagd? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief aan ’n vriend(in) en beskryf die verhouding tussen jou en jou ouers. Eugène N. Marais (*9 Januarie 1871 – †29 Maart 1936) HY IS IN PRETORIA GEBORE waar hy in Engels onderrig is, en het deels daar grootgeword. Voor sy tienerjare het hy by sy ouer broer in Boshof gaan woon en daar skoolgegaan. Kort daarna is hy egter saam met sy ouer suster na die Paarl, waar hy op skool blootgestel is aan Hollands, Engels en Latyn en op jeugdige ouderdom begin skryf het. Terug in Pretoria het hy as prokureursklerk gewerk. Hier is hy later as verslaggewer aangestel en was ’n fel teenstander van president Paul Kruger. Hy trou met Lettie, die liefde van sy lewe, en haar dood by die geboorte van hulle kind laat hom ontredder. Hy is Londen toe, waar hy hom as regstudent ingeskryf het, maar glad nie ’n briljante student was nie. Marais het teruggekeer na Suid-Afrika en weer joernalistiek beoefen. Marais het ook ’n lang ruk in die Waterberg vertoef. Deur die jare het hy al hoe meer die status van ’n hoogs begaafde, selfs geniale figuur in Suid-Afrika se kultuurgeskiedenis verwerf. Hy het as joernalis, skrywer van kortverhale, gedigte en boonop as natuurkundige ’n breë spektrum in sy publikasies gedek. Sy bundel vertellings van die San-mense wat hy in Afrikaans onder die titel Dwaalstories (1927) oorgelewer het, word tot vandag toe as ’n juweel in die Afrikaanse literatuur beskou. Hoewel hy betreklik min gedigte gepubliseer het, is daar ook ’n stuk of tien wat as klassieke verse beskou word. Sy publikasies oor die natuurlewe, Die siel van die mier (1934), Burgers van die berge (1938) en The soul of the ape (wat eers lank ná sy dood in 1969 verskyn het), word vandag nog as populêrwetenskaplike fiksie hoog aangeskryf. Hy het ’n komplekse geaardheid en ’n diep gekwelde persoonlike lewe gehad wat weens sy verslawing aan morfien tot selfdood gelei het. Pre-lees Almal is nie altyd bly oor reën nie, maar in ’n relatief droë land soos Suid-Afrika is dit gewoonlik ’n welkome verskynsel; soveel te meer vir woestynbewoners. In die woestyn is water uiters skaars en dit reën soms vir jare nie. Hoe groter die gebrek aan water en reën, hoe groter die uitbundige vreugde wanneer dit gebeur. “Die dans van die reën” in konteks: Die titel van die gedig kondig die inhoud daarvan aan in die vorm van personifikasie. In die San- of Boesmantradisie word die dans ’n ritueel met gepaardgaande kleurryke uitbeelding. Dit word bevestig met die subtitel “Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn”. Die gedig beeld uit hoe die weer opsteek, nader kom en hoe die reën dan uitsak. Groot en klein diere is opgewonde daaroor en verwelkom die reën asof dit hulle suster is. Aangesien die subtitel aandui dit is ’n lied, kan die leser verwag dat dit ’n liriese gedig is. Dié effek word bereik deur herhaling van woorde en frases en alliterasie. In die uitbeelding van die naderende reën word die hele landskap betrek. Lees Die dans van die reën Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn 1.O die dans van ons Suster! 2.Eers oor die bergtop loer sy skelm, 3. en haar oge is skaam; 4. en sy lag saggies. 5.En van ver af wink sy met die een hand; 6.haar armbande blink en haar krale skitter; 7. saggies roep sy. 8.Sy vertel die winde van die dans 9.en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot. 10.Die grootwild jaag uit die vlakte, 11. hulle dam op die bulttop, 12.wyd rek hulle die neusgate 13. en hulle sluk die wind; 14.en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien. 15.Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete, 16. en hulle kruip nader en sing saggies: 17. “Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!” 18.En haar krale skud, 19.en haar koperringe blink in die wegraak van die son. 20. Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier; 21. sy trap af van die hoogte; 22. sy sprei die vaal karos met altwee arms uit; 23. die asem van die wind raak weg. 24. O, die dans van ons Suster! WOORDVERKLARINGS berggier: berghaan (volksnaam vir Terathopius ecaudatus), ’n soort roofvoël / Eng.: bateleur (common name for Terathopius ecaudatus) bergtop: kruin van ’n berg / Eng.: top of a mountain bruilof: troue / Eng.: wedding bulttop: kruin van ’n bult / Eng.: top of a ridge dam op (opdam): bymekaarkom in ’n groep / Eng.: gather in a group grootwild: groot diere soos die boksoorte / Eng.: larger animals, like antelope; big game hoogte: steilte / Eng.: slope karos: velkombers / Eng.: blanket made of animal hides kleinvolk: kleiner diere en goggas / Eng.: smaller animals and bugs oge: oë / Eng.: eyes vaal: dowwe, gryserige kleur / Eng.: pale, sallow vuurpluim: pluim verwys na vere, helder- kleurig soos vuur / Eng.: fiery plume werf: gebied om ’n woning / Eng.: yard, area surrounding a homestead wink: nader roep / Eng.: indicate to someone to approach, beckon Pitkos: Die reën word deurlopend deur middel van personifikasie uitgebeeld. Die suster is geklee soos iemand vir ’n feestelike geleentheid. Elke strofe het ’n eiesoortige bou. Sommige strofes fokus meer op die koms van die reën en ander weer op die omgewing se reaksie. Geen eindrym kom voor nie, maar alliterasie en onomatopee bewerkstellig ’n klankryke gedig. Daar is klimakswerking en sintuiglike waarneming, want die skaars hoorbare en sigbare aankoms van die Suster (die Reën) word al hoe harder en duideliker tot dit ’n fees word. LEERFOKUS alliterasie klimaks liriese elemente onomatopee/klanknabootsing personifikasie sintuiglikheid strofebou Post-lees Kontekstuele vrae 1.Watter soort fees is in hierdie gedig ter sprake en hoekom sê jy so? 2.Waarna verwys: a.die “vaal karos” in versreël 22? b.“die vuurpluim van die berggier” in versreël 20? 3.Skryf die personifikasie neer wat aantoon: a.daar is ’n veraf gerammel b.die weerlig slaan uit c.die weer dreun harder d.die eerste druppels val e.die wind gaan lê 4.Die eerste en laaste strofes is langer as die middelste twee. Hoe verskil die inhoud van hierdie strofes van die inhoud van die middelste twee strofes? 5.Hoe beïnvloed die personifikasie in hierdie gedig jou siening van die natuur? Vir jou joernaal en/of in die klas Maak ’n Facebook-inskrywing waarin jy enige verskynsel in die natuur personifieer. Johann Lodewyk Marais (*21 Desember 1956) MARAIS IS IN HILLBROW GEBORE en hy word groot op die plaas Sans Souci in die Harrismith-omgewing. Hier leer Marais ook Sesotho praat. Hy behaal later ’n honneursgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, asook ’n meestersgraad (met lof) in skeppende skryfwerk en ’n doktorsgraad wat handel oor Eugène Marais se werk. Marais was as navorser verbonde aan die RGN en het later kursusse in skeppende skryfwerk by Unisa aangebied. In 2005 word hy ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van Pretoria. In sy poësie verken hy verhoudings in die natuur, die vernietiging daarvan, verganklikheid en sy plek in Afrika. Hy erken dat sy werk sterk outobiografies is. Sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), is met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Daarna publiseer hy nog ses digbundels en ’n prosawerk oor Mosambiek. Pre-lees Die bloubok is ’n uitgestorwe spesie wat in Afrika en veral in die suidwestelike Kaap-omgewing voorgekom het. Dié diere het geleef van ongeveer 8000 v.C. tot 1800, toe die laaste van hierdie spesie deur die mens uitgewis is. Europese setlaars het die bokke in die sewentiende eeu begin jag en origens hulle habitat met die ontwikkeling van plase vernietig. Vandag is daar net vier voorbeelde van hierdie bok oor in museums en al vier is in Europa: Wene, Stockholm, Parys en Leiden. Die bok was baie lief vir grasvlaktes met goeie weiding en genoeg water, soos in die omgewing van Caledon, Bredasdorp en Swellendam in die 1700’s. Tussen 1781 en 1784 het die Franse avonturier en natuurkundige François le Vaillant deur Afrika gereis en die voël- en dierelewe bestudeer. Sy notas, tekeninge en skilderye is vandag baie waardevol, al is dit omstrede. Die Suid-Afrikaner, doktor R.H.N. Smithers, ’n beroemde taksonoom en natuurhistorikus, se werk is ons enigste moderne bron van inligting oor hierdie dier wat nie meer bestaan nie. “bloubok” in konteks: Die gedig vertel van ’n saak wat die digter baie na aan die hart lê. “bloubok” kom uit sy bundel Verweerde aardbol (1992) wat gedigte vol kommer oor die aarde se toestand bevat. Hy benader dit soos ’n wetenskaplike verslag deurdat hy na verskeie bronne verwys. Die Latynse spesienaam word gevolg deur ’n beskrywing van die geskiedenis, habitat, gewoontes en voorkoms van die dier. Die digter speel met die terme “taksonomie” en “taksidermie”, want deur sy gedig laat hy die bok voortbestaan soos ’n taksidermis wat ’n dier se vel voorberei, opstop en op ’n realistiese manier uitstal. Die verskil is dat die bok in sy gedig weer lewe en deur die vlaktes draf. Lees bloubok Hippotragus leucophaeus 1.Ek wil in my vers ’n bloubok laat loop 2.in vlaktes Kaapse gras voor die invoer 3.van skape in 400 n.C. 4.en ons klein historie van skiet en skiet 5.om trofeë op die voorstoep te hang. 6.Voor geweerskote sou klap, wiele rol 7.en hartbeeshuise diep die binneland 8.intrek, het in klein troppies of alleen 9.dofblou, byna grys, die bloubok gewei. 10.Die kop (bruin voor en ligter aan die kant) 11.sal hy flink optel om te kyk na klip 12.en grasveld tot teen die gekartelde 13.horison waar die gletsers talmend skuif. 14.In Smithers se taksonomie beskryf 15.hy (volledig) “smal, gepunte ore”, 16.“’n liggekleurde bolip” en die mooi 17.gerifde horings se egalige 18.kurwe (kyk bl. 699). 19.Die bene met strepe aan die voorkant 20.en die donker stert wat by die hak hang, 21.verdof in ’n glaskas in ’n museum. 22.Dan tree hy luiters wei-wei uit die tyd 23.of hy loskom uit die gesoute vel, 24.opgestop en onsigbaar vasgenaai, 25.werkliker as uit François le Vaillant 26.se kwas van 1781. 27.Van die bloubok se draf oor sagte gras 28.en sy spore oor die vlaktes bly slegs 29.die taksidermie van die vers intak. WOORDVERKLARINGS binneland: deel van die land ver van die kus / Eng.: interior of the country dofblou: effens blou / Eng.: faint blue egalige: gladde / Eng.: smooth flink: lewenslustig / Eng.: lively gekartelde: golwende / Eng.: undulating gerifde: met riwwe / Eng.: ribbed gewei: geloop en vreet / Eng.: grazed gletsers: digte ysmassas wat weens die gewig daarvan baie stadig voortbeweeg / Eng.: glaciers hartbeeshuise: primi- tiewe huise bestaande uit pale met gras of strooi of riete / Eng.: wattle-and-daub houses historie: geskiedenis / Eng.: history intak: ongeskonde, onbeskadig, in goeie toestand / Eng.: intact kwas: iets om mee te verf / Eng.: paintbrush luiters: onskuldig / Eng.: unaware onsigbaar: kan nie gesien word nie / Eng.: invisible taksidermie: proses om velle van dooie diere te behandel, op te stop en uit te stal soos hulle in lewe gelyk het / Eng.: taxidermy taksonomie: sistematiese, wetenskaplike rangskikking of klassifikasie van diere en plante / Eng.: taxonomy talmend: stadig / Eng.: dawdlingly troppies: klein groepe bokke / Eng.: small herds vasgenaai: vasgewerk met naald en gare / Eng.: sewn together verdof: dowwer raak / Eng.: becomes fainter volledig: sonder dat iets ontbreek / Eng.: complete voorstoep: veranda voor die huis / Eng: front verandah of a house werkliker: meer realis- ties / Eng.: more realistic Pitkos: Die subtitel van die gedig is funksioneel omdat dit die hele gedig tot by die laaste versreël beïnvloed. Verskeie wetenskaplike werkwyses en verwysings regdeur die gedig sluit hierby aan. Die eerste gedagte word met ’n enjamberende sin aangekondig: Die digter/spreker se doelwit word gestel. Die daaropvolgende “sinne” bevat elkeen verskillende aspekte van ’n wetenskaplike studie. Dus gebruik die digter een lang strofe, verdeel in sinne, om oor die bloubok wat uitgesterf het, te skryf. Daar is geen ander vaste patrone nie. Die rym ontbreek en selfs die ritme en woordorde is grotendeels nie eksklusief dié van ’n gedig nie. Tog is dit nie ’n stuk prosa nie, want die digter kies tipografie en sy inleidende aankondiging om ’n gedig te vorm. Die woordkeuse gee aan die gedig ’n verdere wetenskaplike toonaard terwyl alliterasie en assonansie tog sekere woorde beklemtoon en sleutelgedagtes verbind. Deur die digter se persoonlike verbintenis met hierdie wetenskaplike benadering en sy waarneming van die natuur kry die gedig ook ’n emosionele, subjektiewe kwaliteit. LEERFOKUS alliterasie herhaling klanknabootsing leestekengebruik voorplasing Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wanneer en waar wil die spreker met sy gedig die bloubok weer lewend maak? 2.Watter negatiewe optrede van die mens word deur herhaling beklemtoon? Gebruik twee aanhalings om jou antwoord te staaf. 3.Die digter gebruik soveel alliterasie in die laaste drie versreëls dat dit klanknabootsend raak. Stem jy saam? Motiveer jou antwoord met illustrasies. 4.Wat is volgens die spreker die oorsaak daarvan dat die bloubok uitgesterf het? 5.Het hierdie gedig jou bewustheid en gevoel oor die toestand van die aarde verander? Verduidelik jou antwoord. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief van 120 woorde aan die koerant waarin jy jou kommer uitspreek oor ’n omgewingsaak wat jou pla. Fanie Olivier (*23 Junie 1949) HY IS IN PRETORIA GEBORE en matrikuleer aan die Hoërskool Port Natal. Olivier behaal ’n meestersgraad (met lof) in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy deel van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium was. Hy studeer in die literatuurwetenskap aan die Universiteit van Utrecht en verwerf sy doktorsgraad aan die Potchefstroomse Universiteit. Later verwerf hy ook ’n LLB en word as advokaat toegelaat. Hy was professor in Afrikaans aan die Universiteite van Venda en Adam Mickiewicz. ’n Kenmerk van sy werk is dat feitlik al sy bundel- en gedigtitels met kleinletters geskryf word. Dié manier van skryf kom ook by talle ander digters voor, maar in sy geval is dit so deurlopend dat dit ’n Olivier-stempel geword het. Die tweede kenmerk is lang frases en selfs sinne wat as titels voorkom. Ook dié verhalende soort titel is niks nuuts in die poësie nie, maar kom veral in Olivier se werk dikwels voor. Dit gee aan sy poësie ’n “geselstoon” of ’n skynbare alledaagsheid, wat nie met oppervlakkigheid verwar moet word nie. Temas in sy werk kan saamgevat word as die mens op soek na liefde en vervulling. Later, naas reis- en herinneringsverse, is daar verse wat sterk protes lewer teen die politieke onreg van apartheid. Pre-lees ’n Besoekersboek is ’n boek waarin mens skryf wanneer jy ’n plek besoek het. Mense wat ná jou die plek besoek, sien jou naam en kommentaar en dan weet hulle iets van jou en hoe jy oor die plek voel, al ontmoet hulle jou nooit. Die digter sien hoe mense onthou wil word deur die boodskappe of tekeninge wat hulle op allerhande verskillende plekke maak. Dink byvoorbeeld aan Banksy en sy wêreldberoemde graffiti. Hoekom doen hy dit? Die gewilde boek deur Nanette van Rooyen, Ek was hier, speel af in Kaapstad en gaan juis ook oor ’n graffitikunstenaar. “besoekersboek” in konteks: Die gedig is in die vorm van ’n Engelse sonnet, alhoewel die ritme nie presies met dié van ’n Engelse sonnet ooreenstem nie. Die spreker in die gedig vertel van verskeie graffiti in die vorm van skrif of ’n tekening wat hy sien. Die eerste plek is ’n tronksel, waar ’n gevangene sy naam en die aantal dae van sy gevangenisstraf op die muur aangeteken het. Die tweede kwatryn bestaan slegs uit vrae oor graffiti wat die spreker teëkom. Die derde kwatryn maak melding van rotstekeninge, maar ook van die Gideonsbybel. Dit is die Bybeltjie wat deur die organisasie bekend as die Gideons gratis in skole, hospitale, tronke, hotelle en gastehuise beskikbaar gestel word. Gewoonlik bevat dié Bybeltjie net die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke. Mense wat nie hul eie Bybels het nie, lees waarskynlik nie gewoonlik die Bybel nie, tensy hulle in die een of ander noodsituasie verkeer. Daar is voor in die Gideonsbybel ’n kort beskrywing van hoe ’n mens in nood gered kan word, met aanhalings uit die Bybel. Daar is ook ’n plek vir die lesers om hul naam en die datum neer te skryf as hulle op ’n dag besluit dat Jesus hul Verlosser is. In die laaste koeplet word die tema van die gedig baie persoonlik vir die spreker wanneer hy ook kies om sy naam in te skryf al is dit nie in ’n tradisionele besoekersboek nie. In hierdie gedig verwoord Fanie Olivier die menslike behoefte om onthou te word. Dis ’n manier om teen die dood te rebelleer, maar dit is terselfdertyd ook ’n manier om sterflikheid te erken, om te bely dat die mens se lewe ook maar net ’n plek is waar hy oorgeslaap het. Lees besoekersboek 1.op die sel se mure het iemand uitgekrap 2.(of liewer: ingekrap): sy naam en al die dae 3.van sy duskantse verblyf. gaan mens op stap 4.deur duikweë stasies onder brûe bly draai die vrae 5.wie was dié peter? waar kom pam vandaan? 6.hoe het die vriendskap tussen brian en ed begin? 7.sou w.a.l. se ouers hom meer as normaal geslaan 8.het? hoe lank het lieb sy liesbet bly bemin? 9.ek loer na hiërogliewe. ’n boer het my gewys 10.waar jagtonele oorgebly het teen die krans. 11.vóór in die gideons se bybel is ’n lang lys 12.lesers wat hul teen sterflikheid probeer verskans. 13.’n kind hoes seer; ’n lam huil stomgemaak. ek skraap 14.moed bymekaar: ek was hier en hier het ek geslaap. WOORDVERKLARINGS bemin: liefhê / Eng.: love skraap bymekaar (bymekaarskraap): / Eng.: gather something in a hurry or with great effort duikweë: paaie onder brûe of spore / Eng.: subways underneath bridges or railways duskantse: aan hierdie kant / Eng.: on this side gideons se bybel: / Eng.: Gideon Bible hiërogliewe: onleesbare skrif uitgekerf deur antieke beskawings soos die Egiptenare / Eng.: hieroglyphs jagtonele: tekeninge van ’n jagtog / Eng.: paintings of hunting scenes krans: hoë afgrond van rotse / Eng.: cliff moed: dapperheid / Eng.: courage sel: tronksel / Eng.: prison cell sterflikheid: tydelikheid van lewe / Eng.: mortality stomgemaak: stilgemaak / Eng.: made mute verblyf: blyplek, plek waar iemand ’n ruk gewoon of vertoef het / Eng.: dwelling place, residence verskans: beskerm / Eng.: shield, ensconce Pitkos: Die spreker gebruik die streng vorm van die Engelse sonnet. Hy vertel ’n storie wat by ’n onbekende naam in die tronk begin en by sy eie naam in ’n Gideonsbybel eindig. Die digter skakel die strofes aanmekaar deur die behoefte van mense om onthou te word op verskillende maniere te illustreer. In elke strofe verwys hy na mense wat op verskillende tye en plekke hulle name of tekeninge iewers gelos het. Die onderliggende vrees wat mense hiertoe dryf, word in die gedig ondersoek. Dis opvallend dat Olivier nooit hoofletters gebruik nie; in hierdie gedig het dit ’n besondere funksie, naamlik dat dit alle mense gelykmaak in die sin dat almal moet sterf. Soos niks belangrik genoeg is om met hoofletters gespel te word nie, is geen mens ook belangrik genoeg om nie te sterf nie. Die spreker wonder oor die mense wie se boodskappe hy teëkom en die digter beeld dit uit deur ’n strofe wat slegs uit vrae bestaan. Die titel vind in strofe 3 weerklank in die vorm van ’n boekie, die Gideonsbybel. Die klimaks kom in die rymende koeplet voor, waar die spreker ook sy naam saam met die ander lesers van die Bybeltjie neerskryf. Die einde van die gedig sluit by die begin aan, omdat die dood daarin ter sprake is. LEERFOKUS alliterasie beklemtoning Engelse sonnet kruisrym voorplasing Post-lees Kontekstuele vrae 1.Noem die vyf plekke waar mense volgens die gedig hulle name skryf. 2.Waarna verwys “duskantse verblyf” in versreël 3? Kies die korrekte antwoord: a.die hemel b.die lewe c.die tronk 3.Hoe verskil graffiti, hiërogliewe en rotstekeninge in terme van tyd? 4.Hoe dink jy word die tema versterk deur die gebrek aan hoofletters in die gedig? 5.Dink jy die vorm van die Engelse sonnet is ’n goeie keuse vir dit wat die digter met hierdie gedig wou sê? Motiveer jou antwoord. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf enige graffito wat jy gesien of uitgedink het neer. Verduidelik dan in 100 woorde waarom die persoon of jy dié graffito geskryf het. D.J. Opperman (*29 September 1914 – †22 September 1985) OPPERMAN IS GEBORE OP DIE PLAAS GEDULD (nommer 2) naby Dannhauser. Hy bring sy jeug in die Swartfoloos-vallei en die KwaZulu-Natalse en Vrystaatse platteland deur. Sy vroeë skoolopleiding ontvang hy in Engels. Later studeer hy aan die destydse Natalse Universiteitskollege en sluit sy akademiese loopbaan as professor aan die Universiteit Stellenbosch af, waar hy aan die Letterkundige Laboratorium verbonde is wat jong digters se talent ontwikkel. Verskeie hoogaangeskrewe digters in Afrikaans het onder sy studente getel. Met die verskyning van D.J. Opperman se Heilige beeste (in 1945) was dit sonder meer duidelik dat ’n heel ander stem en ’n nuwe soort poësie in Afrikaans gebore is. Anders as die poësie van die Dertigers, het Opperman ’n strak, afgeronde vers met konkrete beelde en ’n toespitsing op die aardse belewenis van die mens gepubliseer. Hy was ook een van net enkele digters wat reeds met ’n debuutwerk die Hertzog-prys ontvang het. Daarna het hy met agt verdere digbundels en drie versdramas uitgestyg tot ’n kolos in die Afrikaanse literatuur. Hy is vier maal met die gesogte Hertzog-prys en verskeie ander pryse bekroon. Sy rol as letterkundige en samesteller van die belangrikste bloemlesings in Afrikaans, onder meer Groot verseboek, het aan hom ’n hoë aansien verleen. Sy werk is kompleks en uiteenlopend, maar deurgaans van die hoogste gehalte. Kortom, die digterskap van D.J. Opperman sal in enige taal as die werk van ’n meester gereken word. Pre-lees Almal wil graag sy eie besittings hê. Dis waarom ons werk om in hierdie behoeftes te voorsien. So het elke mens ook sy drome oor waar hy wil bly. By die meeste mense is daar ook die begeerte na ’n eie stukkie grond waar hy hom kan vestig. “Edms. Bpk.” in konteks: Die spreker vertel van die stukkie grond wat hy vir hom gekoop en omhein het om sy eienaarskap te bevestig. Hy gebruik die formele saketerm “Eiendoms Beperk” om te beklemtoon dat hy dit wettig gekoop het. Dit het hom egter nie gehelp nie, want ’n voël en ’n slang beskou dit ook as hulle eiendom. Die bakkapel laat krullerige merke op die grond waar hy seil en die janfiskaal maak ’n geluid wat as “dzzzt-dzzztdzzzt” geskryf kan word. Lees Edms. Bpk. 1.Ek het ’n stukkie grond gekoop 2.met melkhout op; dit afgekamp 3.en teen die hek ’n naam geverf 4.sodat verbygangers besef: 5.Dis Dirk se erf. 6.Janfiskaal sit op my melkhoutboom, 7.sit op ’n kruin, sit op ’n rots, 8.en proklameer in sy lied 9.soggens en saans luidkeels: 10.“Dis my gebied.” 11.Bakkapel glip uit my melkhoutbos, 12.verby die kruin, verby die rots, 13.en teken op sandkolle waar hy kom 14.oral in ouderwetse skrif: 15.“Alles … alles my eiendom.” WOORDVERKLARINGS afgekamp: omhein / Eng.: fenced bakkapel (volksnaam vir Naja flava): soort slang / Eng.: (common name for Naja flava), type of snake Edms. Bpk.: afkorting vir Eiendoms Beperk, eiendomsmaatskappy met beperkte aanspreeklikheid / Eng.: abbreviation for Pty Ltd, property company with limited liability janfiskaal: laksman (volksnaam vir Lanius collaris), voëlsoort / Eng.: butcherbird, fiscal, Jackie Hangman (common names for Lanius collaris) kruin: hoogste punt / Eng.: the top luidkeels: hard / Eng.: loudly melkhoutboom (volksnaam vir Sideroxylon inerme): beskermde boom in Suid-Afrika / Eng.: (common name for Sideroxylon inerme), milkwood; protected tree in South Africa ouderwetse: outydse / Eng.: old-fashioned proklameer: aankondig / Eng.: proclaim Pitkos: Die gedig bestaan uit drie strofes van dieselfde vers- en strofelengte. Elkeen van die strofes bestaan uit vyf versreëls waarvan die vyfde versreël korter is. Slegs die derde en vyfde versreëls van elke strofe rym. Die spreker het ’n stukkie grond gekoop, maar hy is nie die enigste aanspraakmaker op die eiendom nie. Soos in die Paradys is hier op die spreker se stukkie grond ook ’n slang teenwoordig. Volgens die drie strofes verloop die gedig in drie fases. Met die verskillende aanspraakmakers, en met dit wat elkeen van hulle verteenwoordig, kry hierdie oënskynlik speelse gedig universele betekenis, naamlik dat ons niks op hierdie aarde, nie eens ons blyplek, ons eie kan noem nie, want ons deel dit en die hele wêreld met ander wesens. LEERFOKUS beeldspraak herhaling leestekens personifikasie rym simboliek strofebou universaliteit Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wie se wettige eiendom is die erf? 2.Noem drie maniere waarop die spreker sy eienaarskap van die erf bevestig. 3.Verduidelik die beeldspraak wat die voël en die slang personifieer. 4.Verduidelik die betekeniswaarde van “Bpk.” binne die konteks van die gedig. 5.Hoe is die tema van die gedig ook op jou lewe van toepassing? Vir jou joernaal en/of in die klas Beskryf in ongeveer 200 woorde jou gunstelingplek en waarom jy baie graag daar sou wou woon. Pre-lees Mynwerk is ’n baie gevaarlike beroep as jy dink hoeveel berigte van noodlottige ongelukke daar vandag nog gereeld oor die nuus kom. In die 1940’s het mynwerkers in verskillende soorte ongelukke gesterf, byvoorbeeld weens rotsstortings. “Na die myninstorting” in konteks: Die gedig lyk soos ’n gebed, want die spreker praat direk met God. Dis egter nie ’n tradisionele gebed nie. Die spreker erken dat hy en sy medemynwerkers eintlik vreemd voel by God. Hulle verkies die aarde, nie die hemelse glans nie, al was hul lewe bitter swaar. Hulle is gewoond aan die “klamme skaduwees” van die ondergrondse ruimte waar hulle meestal gewerk het. Hulle het nie die sonlig geken nie, daarom is hulle ongemaklik in God se lig. Die dood is nie vir hulle ’n tuiste nie. Hulle wil liewer weer by hul kinders en tuine wees. Die beste ding was die vyfuurfluit, wat die einde van die werksdag aangekondig het. Dan kon hulle huis toe gaan. Dis die aardse tuiste wat hulle verkies, nie God s’n nie. Pitkos: As jy die titel en die laaste versreël saam lees, is dit soos ’n opsomming van die hele gedig. Hierdie gedig wat in die vorm van ’n gesprek met God is, bestaan uit twee strofes. In die een strofe word die mynwerkers se lewe beskryf. In die ander strofe vertel die spreker van hul dood. Daar is geen vaste rymskema nie, maar sekere woorde word deur eindrym uitgelig en beklemtoon. Die atmosfeer is somber in die eerste strofe wat die harde lewe van die mynwerkers beskryf. Die agtervoegsel “-lose”, wat “sonder” beteken, word twee keer gebruik. Dit beklemtoon hoe die mynwerkers sonder baie dinge moes klaarkom. Die digter gebruik ’n enjambement om die spoed waarmee dood kan kom en die finaliteit daarvan te beklemtoon. Lig of die gebrek daaraan is ’n motief wat regdeur die gedig voorkom. Saam met die verwysings na klippe is dit belangrike elemente wat ’n mynwerker elke dag ervaar. Die “vreemde glans” verwys na goddelike lig, waaraan die spreker nie gewoond is nie en waarin hy nie met sy dagtaak kan voortgaan nie. Lees Na die myninstorting 1.Ons wat gedurig moes verdien, 2.het nooit met kommerlose oë 3.U daggeel lig gesien; 4.ons moes soos sonnelose gras verkwyn 5.in klamme skaduwees van die masjien. 6.Met pletterende klippeval 7.het U ons skielik afgesluit 8.van kinders, tuine en die vyfuurfluit 9.om rond te swerf deur U heelal. 10.Maar ons kan klippe net vergruis, 11.in hierdie vreemde glans van U 12.is ons nie tuis. WOORDVERKLARINGS daggeel lig: die geel sonlig van die dag / Eng.: yellow of sunlight by day gedurig: die hele tyd / Eng.: all the time glans: blink lig / Eng.: gloss, lustre kommerlose: sonder om bekommerd te wees / Eng.: unworried pletterende: neervallende / Eng.: crashing sonnelose: wat nooit son kry nie / Eng.: without sun swerf: rondtrek sonder ’n tuiste / Eng.: rove vergruis: in fyn stukkies opbreek / Eng.: crush verkwyn: stadig swakker word / Eng.: languish, decline vyfuurfluit: fluit wat die einde van die werksdag aandui / Eng.: whistle at five o’clock to announce the end of the workday Post-lees Kontekstuele vrae 1.Herskryf die volgende paragraaf en vul die ontbrekende woorde in. Die mynwerkers wat dood is, het sonder ________ gewerk, want hulle was baie arm. Hulle was altyd bekommerd en het onder in die myn gewerk waar dit _________ en _________ was. Hulle is dood in ’n ____________. Hulle is mense wat __________ en __________ by hul huise gehad het. Hulle skof het elke dag om ___________ geëindig. Nou kom hulle nie tot rus in die _______ nie, want hulle is net tuis by bekende aardse dinge soos hulle _______, nie in die hemelse teenwoordigheid van _________ nie. 2.Die rotsstorting is die mees dramatiese oomblik in die gedig. Dink jy dit word tipografies voldoende beklemtoon? Motiveer jou antwoord. 3.Watter woord dui op ’n wending in die gedig? 4.Kan jy met die spreker simpatiseer? Verduidelik jou antwoord. 5.Kontras word deurgaans in die gedig gebruik. Pas die onderstaande woorde in kolom B by die woorde in kolom A sodat woorde met die teenoorgestelde betekenis langs mekaar staan. A lig mens floreer heelal donker gras B tuis skaduwees klippe masjien verkwyn glans LEERFOKUS eindrym enjambement ironie kontras onomatopee/klanknabootsing vergelyking Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n dialoog van 120 woorde tussen die spreker en sy vrou die aand voor die ongeluk waarin sy vir hom vertel van ’n nare voorgevoel wat sy het. Patrick Petersen (*6 Julie 1951 – †7 Junie 1997) PATRICK PETERSEN IS GEBORE IN WOLSELEY en matrikuleer aan die Sekondêre Skool Bergrivier in Wellington. Hy studeer in die teologie en behaal sy graad daarin aan die Universiteit van Wes-Kaapland, waarna hy in verskeie gemeentes dien tot hy leraar word van die Verenigende Gereformeerde gemeente in Vredenburg en in Sint Helenabaai woon. In 1995 behaal hy die MTh-graad oor swart Afrikaanse poësie. Petersen was ook ’n bydraer tot en redakteur van die bundel wat by die eerste swart uitgewery op die Kaapse Vlakte verskyn het. Hoewel baie digters van sy tyd verengels het, het hy geglo Afrikaans is “’n krag van Afrika tot bevryding”. Hy was by uitstek Afrikaans – Engels was vir hom ’n vreemdheid. Petersen het bygedra tot die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging in 1995. Hy publiseer drie bundels en van sy ander gedigte is opgeneem in drie versamelbundels. Later is sy werk ook in Nederlandse bloemlesings opgeneem. In die tagtigerjare begin hy Progressiewe Uitgewery, wat hy uit sy pastorie op Vredenburg bedryf en waardeur hy hoofsaaklik sy en ander digters se strugglepoësie publiseer. Hy het sy eie finansiërings- en verspreidingskanale geskep en soms selfs sy huishoudelike geld gebruik om sy droom te finansier. Sy voortydige dood op die ouderdom van ses en veertig jaar in ’n motorongeluk is allerweë as ’n groot verlies beskou. Pre-lees Gesels in die klas oor enige van die volgende onderwerpe: •Wie weet wie was Albertina Sisulu se man? •Wat was hierdie man se verhouding met die legendariese Nelson Mandela? “(vir albertina sisulu)” in konteks: Petersen was bekend as ’n digter van die huislike sfeer en hierdie gedig is ’n voorbeeld daarvan. Selfs in hierdie liriese huisgedigte speel die omringende sosiaal-politieke omgewing ’n groot rol. In die voorwoord tot sy debuutbundel amandla ngawethu skryf hy dat hy die lewe sien as “’n opeenvolging van humor waarin die wêreld saam lag, van bitterheid, fanatieke haat, kleurapartheid in eie geledere, grenslose liefde, hoop en uiteindelik die dood”. Ook hierdie gedig dra die tekens daarvan met woorde wat deur swart sprekers van Afrikaans in die townships soos Orlando en Soweto gebruik word, in hierdie geval hoofsaaklik Kaapse Afrikaans. Albertina Sisulu was die eggenote van die legendariese ANC- vryheidsvegter Walter Sisulu, boesemvriend van Nelson Mandela, en hulle is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis, wat hulle op Robbeneiland uitdien. Voor Walter in 1989 vrygelaat is, moes Albertina dus “huis en haard” aan die gang hou. Sy verwerf die noemnaam Mama Afrika omdat sy in die tyd toe die leiers van die ANC in gevangenskap was, die rol van Moeder van die Nasie vertolk het. Lees (vir albertina sisulu) 1.Toe jy die lamp helder oordag aansteek 2.die land van hoek tot kant uitbesem 3.van dag na nag, beurtelings uitbrand en uitsweet 4.vir die nageslag, het jou pit ’n nuwe lig besing. 5.Ook het jy dikwels eensaam gaan bad 6.en jaar na jaar in jou koesta het jy kap zip. 7.Soms oor huis en haard jou gedagtes kazat, 8.kaantie wag jy, soos altyd in Orlando, daar vir dit. 9.Hoop weerhou jou om gesig te koop, 10.selfs ontong het jy pal oopgestoot. 11.Omkom van die bom ryp die tamatie 12.op jou najaartong ’n seën, 13.vir al die 14.pad se wietie. WOORDVERKLARINGS gesig koop: ander se gunste en gawes soek / Eng.: win someone’s favour helder oordag: in die daglig / Eng.: in broad daylight huis en haard: huis- houding en kroos / Eng.: hearth and home kaantie: terwyl, intussen / Eng.: while, in the meantime kap zip: stilgebly / Eng.: remain silent kazat: nagedink / Eng.: gave something a lot of thought koesta: huis / Eng.: home nageslag: jou kinders en al hulle nakomelinge / Eng.: descendants najaartong: toe jy al oud was / Eng.: words spoken in the fall of someone’s life, late in someone’s life ode: lofsang, pryslied / Eng.: ode, praise song omkom van die bom: as die bom bars, as alles op die lappe kom / Eng.: when the balloon goes up ontong: ondersese eiland wat bokant die water uitgestoot het / Eng.: island under the sea that raised above sea level pit: die stukkie lap (kern) wat die lamp laat brand / Eng.: lampwick uitbesem: skoonvee / Eng.: to clean some- thing with a broom wietie: voortdurende raad en vermaning, en “weet nie”, verwysend na onbekende toekoms / Eng.: advise, not knowing Pitkos: Die gedig is ’n ode aan Albertina Sisulu. In die tyd toe haar man en die ander ANC-leiers op Robbeneiland aangehou is, het sy die volk se hoop brandend gehou. Dit word pragtig met metafore van Bybelse herkoms uitgebeeld. Dit suggereer dat Albertina Sisulu die leiding moes neem en hoop staande moes hou terwyl haar man in die tronk was. Die gedig is ’n vrye vers, maar dit maak vrylik gebruik van swart Afrikaanse uitdrukkings soos dit in die swart townships van Suid-Afrika gepraat word. Sy het haar nooit laat onderkry nie, telkens uitgestyg en pal haar pad oopgestoot. Die digter maak ook van woordspeling ge- bruik: Die bom is meer as ’n gesegde, dit verwys ook na die opstand wat aan die broei was in Orlando en kan beskou word as ’n profesie van die 1976-opstande in Soweto. LEERFOKUS assonansie metafoor Kaapse Afrikaans woordspeling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Haal ’n frase aan wat daarop dui dat Albertina Sisulu a.dag en nag gewerk het. b.deur die hele land gewerk het. 2.Verduidelik die betekenis van die volgende idiomatiese uitdrukkings in Kaapse Afrikaans: a.“omkom van die bom” b.“om gesig te koop” 3.Noem een woord in Kaapse Afrikaans wat dieselfde beteken as a.terwyl b.tuiste c.om stil te bly 4.Lewer kommentaar op die digter se gebruik van Kaapse Afrikaans in hierdie gedig. 5.Hoe beïnvloed die gedig jou siening van Albertina Sisulu? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief van 250 woorde aan enige openbare figuur wat vir jou ’n simbool van krag en lig is om jou bewondering en waardering vir dié persoon uit te druk. P.J. Philander (*25 November 1921 – †7 Februarie 2006) HY IS OP CALEDON in die Wes-Kaap gebore en het hom later in Kaapstad aan die Opleidingskollege Zonnebloem as onderwyser bekwaam. Hy was by verskeie skole in die Kaapprovinsie werksaam tot hy en sy gesin in 1969 permanent verhuis het na New York in die VSA, waar hy tot sy dood gewerk en gewoon het. Sy eerste digbundel, Uurglas, verskyn reeds in 1955 en word gevolg deur Vuurklip in 1960 wat ’n toekenning van die destydse Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap ontvang het. In dié twee bundels is daar ’n aantal lang gedigte wat met kruisrymende kwatryne die lewe van polities benadeelde figure uit die geskiedenis weergee, en in die lang epiese gedig Zimbabwe (1968) sit hy dié versvorm voort, hoewel dit telkens as navolgings van D.J. Opperman se meesterlike Joernaal van Jorik (1949) beskou is. Vanuit Amerika publiseer hy nog drie digbundels, Konka (1978), Venster (1982) en Ostrakon (1986), terwyl ’n groep nuwe gedigte in 1996 opgeneem word in ’n Keur uit sy gedigte wat Daniel Hugo saamgestel het. In 2002 verskyn sy laaste bundel, Trialoog. Philander het ook ’n bundel kortverhale, Hoefyster vir die hart (1983), en in 2000 ’n kort roman gepubliseer met die titel Rebunie wat na ’n vulkaniese berg buite Calvinia verwys en oor die lotgevalle in 1901 van die bruin rebel Abraham Esau van Calvinia handel. Pre-lees Bespreek in die klas: •Hoe belangrik is dit om meer te wete te kom van ander bevolkingsgroepe se kultuur, tradisies en gewoontes? •Hoe kan ons dié doel bereik? “Vir die wis en die onwis” in konteks: Die gedig is opgeneem in die bundel Ostrakon (1986). Ostrakon was ’n stuk keramiek (stuk wat van ’n pot afgebreek is) wat as “stembriefie” gebruik is om te besluit of iemand ongewens was om in ’n bepaalde stad te bly. As die meerderheid besluit het dat die persoon uit die stad verban moes word, is dit gedoen. Die bundeltitel beteken dus “uit die gemeenskap verban”. Die eerste Nederlanders aan die Kaap het kos van die inheemse bevolking geruil met tabak en koper. Die inheemse bewoners, onder wie die Boesmans of San, sou op die lange duur egter veel meer betaal as kos, naamlik hulle alleenreg om in die land te woon, voedselbronne volgens hulle eeue oue metodes te be- nut en rotsskilderinge aan te bring waar hulle ook al kom. “Al ons soorte opslag” verwys ook na alle soorte mense, van watter rasse ook al. Die woord “goëlkrag” verwys na die ekonomiese krag van Kaap de Goede Hoop wat uiteindelik rampspoedig sou wees vir inheemse bewoners se heerskappy oor grond. Die Kaap het nie werklik “goëlkrag” gehad nie, maar dit is hoe die Boesman, wat nie Europese ekonomie verstaan het nie, dit sou ervaar. Lees Vir die wis en die onwis 1.Nie net vir koper en tabak 2.het Hottentot, half- en kwartnaatjie 3.lappe tatgai en plakkie aan jou 4.by die Kaap de Goede Hoop verruil nie, 5.maar ook weens die wanbegrip 6.dat Boesman baas sou bly 7.van grot en klip 8.om wildsbokke te verwe 9.waar hy ook al swerwe 10.en dat tussen al ons soorte opslag 11.ook julle prooi sou bly van sy goëlkrag. WOORDVERKLARINGS goëlkrag: towerkuns, bonatuurlike magte / Eng.: magic power halfnaatjie: ’n kind van wie een ouer wit en een swart of bruin is / Eng.: child with one white and one black parent kwartnaatjie: die kind van ’n halfnaatjie / Eng.: child of a mixed- race person lappe: groot stukke veld / Eng.: large patches of field onwis: waarvan jy nie bewus is nie / Eng.: what you don’t know opslag: wat nie geplant of gesaai is nie, maar vanself opkom / Eng.: regrowth, self-sown plants plakkie: vetplant, botaniese naam Cotyledon / Eng.: succulent, botanical name Cotyledon prooi: slagoffer / Eng.: victim, prey tatgai: ’n eetbare knolplant wat in Malmesbury se omgewing groei / Eng.: edible bulb plant growing in the Malmesbury area verwe: verf / Eng.: paint wis: wat jy weet / Eng.: what you know Pitkos: Die gedig is nie in ’n herkenbare formele vorm geskryf nie: Daar is elf versreëls van wisselende lengte en slegs die laaste vier versreëls rym. LEERFOKUS alliterasie ironie rym Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Die woord “opslag” (versreël 10) beteken in die konteks van hierdie gedig: a.plante wat nie gesaai of geplant is nie, maar self opkom. b.die nageslag; die mense wat nou in die land bly. c.onverwagte gevolge. 2.Waarom is “Kaap de Goede Hoop” (versreël 4) ironies vanuit die perspektief van die Hottentot en Boesman? 3.Noem twee gevolge wat die ontmoeting tussen die toenmalige inwoners van die land met die Nederlanders tot gevolg gehad het. 4.Die begrip “baas” (versreël 6) staan sentraal in die gedig. a.Toon aan hoe die woord uitgehef word. b.Waarom, dink jy, is “baas” so prominent in die gedig? 5.Dink jy dat die koms van die kolonialiste ’n nadelige uitwerking op die land gehad het? Motiveer jou standpunt. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n e-pos aan ’n klasmaat waarin jy hulle uitnooi na ’n geleentheid wat tipies van jou kultuur is. Beskryf die kos wat voorgesit gaan word, die manier waarop dit voorberei gaan word en watter kosse in jou kultuur uitgesluit word. Mathews Phosa (*1 September 1952) HY IS GEBORE IN ’N TOWNSHIP BUITE NELSPRUIT, woon die Tshaerane Primêre Skool in Carlsruhe by en slaag matriek aan die Hoërskool Maripi in Acornhoek, waar tagtig persent van sy studie in Afrikaans geskied en waar hy die hoogste punte in Suid-Afrika en Namibië behaal vir Landbouwetenskap. Hy studeer in die regte aan die Universiteit van die Noorde, waar hy sy LLB behaal met ’n onderskeiding in Handelsreg. Hierna praktiseer hy as prokureur in Nelspruit. Weens sy betrokkenheid by die ANC en MK gaan hy in 1985 in ballingskap en ontvang militêre opleiding in die destydse Oos-Duitsland. Ná 1994 word hy premier van Mpumalanga. Tans is hy tesourier-generaal van die ANC. Hy is in 1994 deur die Cambridge Biographical Studies genomineer as Man van die Jaar. In 1995 ontvang hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Boston. Kort ná die politieke omwenteling van 1994 in Suid-Afrika verskyn sy digbundel Deur die oog van ’n naald. Die bundel bevat net 24 gedigte, voorafgegaan deur vier kort beskouings oor die aard van politieke strewe en die rol wat taal as versoenende medium daarin kan speel. As iemand wat nege tale magtig is, is Phosa toegerus om oor so ’n onderwerp te praat. Die eerlike, ongekunstelde manier van nadink en vrae stel oor die politiek van verdrukking gee aan sy gedigte ’n ander toonaard as die soms aggressiewe protesverse van ander beswaarde Suid-Afrikaanse digters. Dit ontbreek sy gedigte aan snydende ironie en emosionele lading, maar dit verkry effek deur die besinnende en versoenende aard daarvan. Pre-lees In Suid-Afrika was daar tot in 1994 ’n berugte vergoedingsisteem, die dopstelsel, wat deur wynboere in veral die Wes-Kaap gebruik is. Plaaswerkers is daagliks met goedkoop wyn vergoed. Só het die boer die werkers weens verslawing aan hom verbind en kon hy met hulle maak wat hy wou. Hy kon hulle onder meer lyfstraf toedien, gewoonlik omdat hulle te bedwelm is van alkohol om te kan werk – wat ironies genoeg die gevolg is van hulle verslawing wat juis deur die boer aangehelp is. Volgens die feodale sisteem kon die plaaseienaar die werkers ontslaan soos en wanneer hy wou, want die wet het hom dit nie verbied nie. Hierdie tradisie het tot alkoholisme onder plaaswerkers en die gepaardgaande sosiale skade gelei wat veral Kaapse gemeenskappe tot vandag toe erg benadeel. Die gebruik het met die Europese setlaars in die sewentiende eeu begin en hoewel dit in 1960 verban is, is die verbod nie toegepas nie. In 2003 het die dopstelsel onwettig geword en dié wet is sedertdien streng toegepas. Mens mag nie drank gebruik om iemand te betaal of salarisaftrekkings te regverdig nie. Alkoholisme is egter steeds ’n groot probleem. Baie werkers bestee steeds hul lone op alkohol wat deur sommige boere of onwettige sjebiens aan hulle verkoop word. “’n Doppie op Malmesbury” in konteks: Die sprekers in die gedig teken protes teen die dopstelsel aan. In een deel van die gedig is die seun aan die woord en in ’n ander deel sy pa. Die gedig toon hoe werkers geslagte lank op wynplase in die onhoudbare situasie van drankverslawing vasgevang is. Dan eindig die gedig in ’n gebed. Hoewel daar geen eindrym is nie, gebruik die digter ander verstegniese middele om sekere woorde en gedagtes te beklemtoon. Enjambement word gebruik om die natuurlike ritme en inhoud van die gesprek te bewerkstellig. Die gedig gebruik hoofsaaklik Kaapse Afrikaans. Die woorde “lat” en “’n doppie” word herhaal om te suggereer dat die sprekers Jakop aanhou vermaan dat hy die fisieke mishandeling moet verduur. Natuurlik is die spreker in strofe 1 se dialoog skreiende ironie, want hy wil omstandighede juis anders hê. Lees ’n Doppie op Malmesbury 1.Pa, staan tog stil 2.lat die baas jou slaan 3.lat ons wyn kan kry. 4.Hou op skeef neuk, 5.netnou jaag hy ons 6.van sy plaas af. 7.Dis ’n feudal system, Jakop: 8.Werk vir wyn tot jy bly lê – 9.’n doppie vir brekfis, 10.’n doppie vir lunch 11.en ’n laaste horinkie vir die bed. 12.Bly gekoring en hou jou bek! 13.Here, ek vra vir ’n jop sonder dop. WOORDVERKLARINGS baas: werkgewer / Eng.: boss brekfis: ontbyt / Eng.: breakfast dop: sterk drank / Eng.: a drink doppie: verkleinings- vorm van “dop” / Eng.: diminutive of “dop” feudal system: feodale stelsel waarvolgens mense verblyf op die eienaars se grond kry in ruil vir hulle arbeid / Eng.: system by which people are granted the right to live on the owners’ property in ex- change for their labour gekoring: dronk / Eng.: drunk, intoxicated horinkie: ’n glasie wat soos ’n horing lyk / Eng.: small glass in the shape of a horn hou jou bek: bly stil / Eng.: shut up lat: Kaapse Afrikaans vir “dat” / Eng.: Cape Afrikaans for “in order that” lunch: middagete / Eng.: lunch lyfstraf: straf bestaande uit die toediening van houe / Eng.: corporal punishment ’n doppie op: drink ’n drankie op iemand se gesondheid / Eng.: toast to someone’s health skeef neuk: nie saam- werk nie, moeilikheid maak / Eng.: being difficult Pitkos: Die kind as spreker begin en eindig hierdie gesprek. Hy rig in twee afsonderlike sinne twee eienaardige versoeke aan sy pa. Uit sy woorde blyk die onreg en sosiale implikasies van die dopstelsel duidelik. Die pa se antwoord en lewensbeskouing blyk uit sy antwoord aan sy seun. Die emosie van sy antwoord lê in die taal- en leestekengebruik. Die laaste strofe bestaan uit net een versreël – anders as die ander strofes – en die leser kan dus verwag dat hierdie versreël ’n belangrike saak in die gedig sal beklemtoon. Die digter gebruik woordspeling (“’n doppie” verwys nie net na die dopstelsel nie, maar ook na die gemoedelike gesegde “kom ons drink ’n doppie op iemand”), alliterasie en assonansie, en sodoende val die fokus telkens weer op die tema van uitbuiting. Die titel is op sigself ironies omdat dit te kenne gee dat ons ’n heildronk op Malmesbury moet drink om gebeure daar te vier, terwyl hy presies die teenoorgestelde bedoel, naamlik dat dit ’n tragedie is. LEERFOKUS enjambement ironie Kaapse Afrikaans Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wie is in die eerste strofe aan die woord? Waarom sê jy so? 2.Hoe dikwels kry die werkers wyn? Haal aan om jou antwoord te staaf. 3.Noem twee dinge wat eienaardig is omtrent die seun se versoek aan sy pa. 4.Wat bedoel die pa wanneer hy vir Jakop sê dis ’n “feudal system”? 5.Hoe beïnvloed hierdie gedig jou siening van drankgebruik? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf en illustreer ’n plakkaat wat teen die gevare van drankmisbruik waarsku. Pre-lees Gesels in die klas oor die volgende onderwerp: Kan enige regering al die probleme in ’n land oplos en net voorspoed bring, en hoekom sê jy so? “’n Baadjie met ’n gaatjie” in konteks: Die spreker lewer kommentaar op die nuwe demokratiese bestel in Suid-Afrika. Sy boodskap is egter nie net polities nie, want dit dra ook ’n universele boodskap en ’n waarskuwing. Lees ’n Baadjie met ’n gaatjie 1.Jou nuwe baadjie 2.is vol gaatjies. 3.Dis vigs-bullets 4.omkoop-kolletjies. 5.Jou laaities let you down 6.hulle is skerp. 7.Die 4x4’s 8.die arms deal. 9.Wie’s nie besig 10.met iets wat worry nie? 11.Dié wat kies, is mense 12.hulle vertroue verraai 13.dié wat beloftes maak 14.met die doel om dit nie na te kom nie 15.die skuins lippe wat leuens spoeg 16.in alle rigtings. 17.Jou nuwe baadjie lyk oud 18.want jou maniere is oud. WOORDVERKLARINGS arms deal: wapentransaksie bullets: koeëls laaities: jong seuns / Eng.: young boys let you down: het jou in die steek gelaat vigs: verworwe immuniteitsgebreksindroom / Eng.: Aids worry: kommerwekkend is Pitkos: Die gedig bestaan uit nierymende koeplette en een strofe van ses versreëls. Hoewel rym skaars en nie patroonmatig is nie, skep assonansie en alliterasie wel ritme. Hierdie ritme het ook die funksie dat dit herhaal soos die gedig inhoudelik ook oor herhaling gaan: Die mens se oudste sondes haal hom maar weer in. ’n Nuwe regering se “nuwe baadjie” toon gou tekens van verwering omdat korrupsie en leë beloftes maar weer deel word daarvan. LEERFOKUS alliterasie ironie klanknabootsing ritme strofebou voorplasing Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wat word bedoel met ’n “nuwe baadjie” en aan watter spreekwoord in Afrikaans herinner dit? 2.a.Benoem die rymwoorde in die eerste twee strofes. b.Wat is die funksie van hierdie rymwoorde? 3.Toon die alliterasie in versreëls 15–16 aan. 4.Wat bereik die digter met voorplasing in die sesde strofe? 5.Beskou jy hierdie gedig as ’n grap of moet dit as ’n ernstige waarskuwing opgeneem word en hoekom sê jy so? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief aan ’n koerant waarin jy ’n probleem in die samelewing aanroer sonder dat jy ’n persoon se naam noem. Henning Pieterse (*8 Augustus 1960) PIETERSE IS IN WAGENINGEN, HOLLAND, GEBORE terwyl sy pa daar studeer het. Hy het in Stellenbosch en Pretoria skoolgegaan en behaal al sy grade buiten die doktorsgraad met lof. Nadat hy ’n dosent in taalkunde aan Unisa was, word hy hoof en professor van Die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria, ’n pos wat hy tans nog beklee. Hy was ook redakteur van Tydskrif vir Letterkunde. Pieterse is hoofsaaklik as digter bekend, maar het ook waardevolle vertalings van Rilke se poësie uit Duits gedoen, waarvoor hy die Nedbank-Akademie-prys ontvang het. Origens waag hy sy hand aan kortverhale. Hy neem deel aan die Poetry International in Rotterdam en Dichters in Elzenveld in Antwerpen. Vir hom is klassieke musiek die hoogste kunsvorm en hy put daaruit vir sy poësie. Van sy verse is deur Riku Lätti getoonset. Pieterse publiseer drie digbundels. Vir sy debuut Alruin is hy bekroon met die Ingrid Jonker- en Eugène Marais-prys en vir Die burg van hertog Bloubaard met die Hertzog-prys. Pre-lees “Mapungubwe I” in konteks: Hierdie gedig het in die bundel Die burg van hertog Bloubaard (2000) verskyn. In die Bloubaard-sprokie het Bloubaard sy vrou toegang tot die hele kasteel, behalwe een vertrek, gegee. Wanneer sy die vertrek teen sy bevele binnegaan, word sy deur haar man vermoor. Die proses herhaal hom met elkeen van die hertog se vroue. Só bly hy elke keer alleen agter. Mapungubwe was tussen 1075–1220 ’n koninkryk by die samevloei van die Limpopo- en Shashe-rivier. Die oorsprong daarvan was waarskynlik die Koikultuur wat bedrewe was in ivoor- en goudhandel. Die hoofstad van die koninkryk is nou ’n Wêrelderfenisgebied. In 1932 is tydens opgrawings in die gebied onder meer op ’n goue renoster afgekom wat in 2002 herontdek is by Pretoria Universiteit, waarheen dit oorspronklik geneem is. ’n Burg is gewoonlik op ’n hoogte gebou. Só was Mapungubwe ook ’n eiesoortige burg. Lees Mapungubwe I 1.Die troon waarop die stil koning sit, 2.gepoleerde klip, kyk suid. 3.’n Lou wind onthou die stemme 4.van swermendes in die vallei. 5.Hy sien my, delwend tussen mure 6.na artefakte vir my vers, 7.blou glaskrale, ’n potskerf, 8.reste van ’n goue septer. 9.Ek rig sy hutte op uit die grond, 10.steierwerke vir my vers, 11.kamers met ivoor en gekleurde glas 12.wat sy dansende krygers versier het. 13.So hoog as hul roestende spere 14.hurk sy krygers in hul graf. 15.(Stof waai langsaam in 16.deur die vensters van my gedig.) 17.’n Vergulde renoster se horing stomp af. 18.(Maak toe die deure, maak die mure dig.) 19.Die grond word lank gebalsem 20.deur sy krygers se geurende lywe. WOORDVERKLARINGS artefakte: eenvoudige kunswerke of voor- werpe deur mense in prehistoriese tye ge- maak / Eng.: artefacts burg: kasteel; vesting / Eng.: castle; stronghold; keep delwend: grawe / Eng.: digging gebalsem: met balsem (dikwels geurig) behandel om ontbin- ding te verhoed / Eng.: embalmed geurende: wat ’n aangename geur afgee / Eng.: fragrant hurk: met geboë bene afsak sonder om plat op die grond te sit / Eng.: squat krygers: soldate / Eng.: warriors lou: tussen warm en koud / Eng.: lukewarm reste: oorblyfsels / Eng.: remains spere: spiese / Eng.: spears steierwerke: raamwerk van pale en planke ge- bruik by bouery; stel- lasie / Eng.: scaffolding vergulde: met goud- blad oorgetrek / Eng.: gilded, gold-plated Pitkos: Die bundel word ’n burg van papier, die skatkamer van gedigte. Die verlede word gebruik, opgediep en dit word die boustof van gedigte. Daar is ’n sikliese gang, want wat dood was, kry weer lewe in die gedig. Ook die gedig kry lewe deurdat dit uit beelde en herinneringe van die verlede geskep word. Daar is trouens voortdurend ’n opeenvolging en afwisseling van lewe en dood. Die spreker doen hom voor as ’n argeoloog, maar hy is eintlik ’n digter. Hy soek na artefakte om vir hom ’n gedig te maak. Hoewel die versreëls meestal deur leestekens geskei word, sluit elke versreël telkens elemente van die vorige een in. LEERFOKUS meerduidigheid metafoor parentese personifikasie sinskonstruksie Post-lees Kontekstuele vrae 1.Noem sewe artikels (artefakte) uit die verlede wat hier genoem word. 2.Watter verskillende persone word in die gedig genoem? 3.Verduidelik versreël 9 in jou eie woorde. 4.a.Skryf die handelinge van die spreker neer. b.Toon nou die verband tussen die handelinge en die verlede aan. c.Watter verband is daar tussen die spreker se aktiwiteite en die digterskap? d.Watter verband is daar tussen die vergulde renoster en die titel van die gedig? 5.Bespreek jou reaksie op die gedig. Vir jou joernaal en/of in die klas Kies enige deel uit die geskiedenis en vertel aan die klas waarom juis dit vir jou interessant is. Ina Rousseau (*3 Februarie 1926 – †13 Augustus 2005) GEBORE IN ROODEPOORT, bring sy haar kinderjare hier en in Krugersdorp deur. As kind het sy meestal Engels en Duits gelees. Aan die Universiteit Stellenbosch behaal sy die BA-graad met Duits as hoofvak. Hierna het sy gehelp met die letterkundige tydskrif Ons eie boek en was sy tegniese assistent by die kantoor van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Daardie daaglikse hantering van woorde, die vorm, herkoms en funksies daarvan, sou dwarsdeur haar loopbaan as digter in haar poësie neerslag vind. Sedert haar jeugjare skryf sy. Sy is een van net enkele Afrikaanse digters wat reeds in ’n debuutbundel gedigte gepubliseer het wat jare later nog as klassieke verse beskou sou word, soos “Eden” en “Potchefstroom” uit haar debuut Die verlate tuin, waarvoor sy die Reina Prinsen Geerligs-prys ontvang. Geen ander digter het al so versigtig met woorde en die reëls van die grammatika in hul poësie te werk gegaan nie. Ná haar debuut verloop daar sestien jaar voor haar tweede bundel, Taxa, verskyn. Dit het so verbasend anders gelyk as die eerste een met sy Bybelse temas oor die verlore paradys en het vormlik so sterk verskil van ander digters se werk uit daardie periode, dat dit nie naastenby na waarde geskat is nie. In haar derde bundel publiseer sy gedigte wat tematies aansluit by die vorige en tegnies ook op die hoogste vlak staan. Nog drie bundels verskyn waarin haar fyn gevoel vir klank en die betekenis van woorde steeds opvallend is en handel oor die verlies van ’n geliefde. Daarna het sy na Kaapstad verhuis en ’n stil bestaan in Tuine gevoer. Eers in 1995 publiseer sy weer ’n bundel, waarin onder meer fel kritiese verse oor ekologiese verval verskyn en waarvoor sy die Hertzog-prys ontvang. Twee jaar voor haar dood verskyn ’n keur uit haar gedigte. Sy publiseer ook twee kortverhale saam met drie ander vroueskrywers en ’n individuele bundel kortverhale. Pre-lees Kersfees is vir die meeste mense wat dit kan bekostig ’n tyd van vrede, geskenke, ’n feesmaal en seënwense. Dit is tradisioneel die viering van Jesus se geboorte, maar oor die wêreld heen vier talle nie-Christene ook dié dag, hoewel nie as ’n religieuse fees nie. Tog hoef mens net op internet in te tik “Kersfees & slagting” om te lees van massamoorde wat juis op Kersdag gepleeg is. Dit was ironies ook die geval toe Jesus gebore is en Herodes alle seuntjies van twee jaar en jonger laat vermoor het, omdat hy bang was daar word ’n leier onder die Jode gebore wat vir hom gevaar kan inhou. “Kersfees 1996” in konteks: Die gedig vertel van twee dinge wat direk die teenoorgestelde van mekaar is, naamlik negentien mense wat doodgemaak is en ’n heerlike Kersfeesete. Uit die bou en tipografie van die gedig is die verskille tussen die twee strofes reeds duidelik. Daar word nie gesê na watter gebeurtenis dit verwys en waar in die wêreld dit gebeur het nie; juis daarom word dit universeel in die sin dat dit algemeen is dat mense afgemaai word. Tog word die twee strofes deur rym in al twee strofes met mekaar verbind. Ook die syfer 19 verbind die 1996 in die titel met die negentien mense wat afgemaai is. Die sterre in die vensterraam bind met “Kersfees” in die titel omdat die ster ’n simbool van Kersfees is. Dit is ook betekenisvol dat die strofe wat oor die slagting handel korter is as die strofe oor die feesmaal. Die ellips aan die einde van strofe 1 dui daarop dat die spreker nie eens na die hele nuusberig geluister het om uit te vind wie die oorledenes was en wie vir hulle dood verantwoordelik was nie. Dit kom daarop neer dat die moord nie so belangrik soos die Kersete is nie en dat die spreker nie juis daardeur geraak is nie. Sintuiglikheid – in hierdie geval sig, smaak en reuk – speel ’n rol in stemming. Lees Kersfees 1996 1.“Onverklaarbaar is hulle afgemaai. 2.Later is die neëntien liggame 3.een-een toegedraai in swart plastiek 4.en toe in voertuie gelaai …” 5.Die nuus is aan ons opgedis 6.waar ons gesit het by ’n vensterraam 7.besprinkel met blink sterre, 8.besig om voldaan 9.’n brosgebraaide hoenderhaan 10.gegeur met vinkel, uitmekaar te haal. WOORDVERKLARINGS afmaai: iets of iemand doodmaak / Eng.: cut down, kill besprinkel: iets strooi of laat drup / Eng.: sprinkle brosgebraaide: gebraai tot bros / Eng.: fried until crisp gegeur: Eng.: flavoured haan: deel van ’n geweer / Eng.: part of a rifle hoenderhaan: manlike hoender / Eng.: cock neëntien: wisselvorm van negentien / Eng.: nineteen onverklaarbaar: iets wat nie verklaar kan word nie / Eng.: inexplicable opdis: om kos voor te sit / Eng.: dish up opdis: om ’n storie te vertel wat nie welkom is of nie waar is nie / Eng.: spin or invent a yarn uitmekaar te haal: los te maak van mekaar / Eng.: to take to pieces vinkel: krui wat gebruik word om kos te geur / Eng.: herb used to flavour food, fennel voldaan: tevrede, afgehandel / Eng.: content Pitkos: Die digter gebruik tipografie, strofes en leestekens om onderskeid te tref tussen teenoorgestelde sake en afstand op die moorde te skep. Een strofe vertoon geen eindrym nie, terwyl ’n meer harmonieuse stemming in die ander strofe geskep word deur eindrym. Tog word die twee strofes deur ander elemente tot ’n eenheid gebind. Syfers dra ook by tot binding in die gedig. Twee woorde met meer as een betekenis dra daartoe by dat betekenis uitgebrei word. Deur sekere inligting te verswyg, word universele waarde aan die gebeure gegee. Strategiese woordkeuse dra ook by tot stemming. Die haan wat in hierdie gedig geëet word, het verskeie letterlike en figuurlike betekenisse. Dit is ’n simbool van verraad, omdat ’n haan drie maal gekraai het toe Judas vir Jesus verraai het. Die haan word ook as rigtingwyser op ’n kerk gebruik, hy wys dus letterlik “hoe die wind waai”, ’n Afrikaanse uitdrukking om te sê dit wys wat iemand se gesindheid is. ’n Haan is ook ’n deel van ’n geweer. Die Afrikaanse uitdrukking “geen haan het daarna gekraai nie” (niemand het ooit weer daaroor gepraat nie) is veral hier van toepassing: Die eters praat nie eens weer oor negentien mense wat gesterf het nie, so min maak dit vir hulle saak. LEERFOKUS alliterasie assonansie sintuiglikheid stemming strofebou teenstelling woordkeuse Post-lees Kontekstuele vrae 1.Skryf net die woorde neer wat van toepassing is op die mense wat doodgemaak is: lyksakke lykswaens voertuie plastiek lykbesorgers 2.Noem twee verskille tussen strofes 1 en 2 wat bou, lettertipe en leestekens betref. 3.Sou jy sê dit is betekenisvol dat juis ’n haan en nie ’n hen nie vir Kersfees geslag is? 4.Hoe beïnvloed sintuiglikheid jou ervaring van die moord en die Kersete? 5.Is die spreker se onbetrokkenheid by die slagting van negentien mense na jou mening die enigste manier waarop mens op sulke nuus kan reageer? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n e-pos van 100 woorde aan ’n vriend(in) om te vertel van iets treurigs wat op Kersdag gebeur het. Adam Small (*21 Desember 1936) SMALL IS OP WELLINGTON GEBORE. Sy familie aan vaderskant is Christelik-Gereformeerd en dié van sy ma Islamities; dié invloede prent by hom vroeg reeds kulturele en godsdienstige verdraagsaamheid in. Sy vormingsjare is op die plaas Goree buite Robertson in die Boland, waar sy pa skoolhoof en lekeprediker van die plaaswerkers was. Later verhuis die Smalls na Retreat op die Kaapse Vlakte, waar Small kennis maak met Kaaps, die spreektaal van werkersklasmense wat hy so treffend in sy werk aanwend. Hy gaan skool aan die Dominikaner Immaculata-skool en aan die Sint Columbia Christian Brothers. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Kaapstad in Tale en die Filosofie en voltooi in 1963 ’n MA met onderskeiding in die filosofie. In hierdie tyd studeer hy ook aan die Universiteite van Londen en Oxford. By sy terugkeer word Small dosent aan die Universiteit van Fort Hare, en in 1960 word hy een van die grondleggers van die Universiteit van Wes-Kaapland en die eerste professor van die Departement Filosofie. Hy raak in die vroeë sewentigs betrokke by die Swartbewustheidsbeweging. As een van die segspersone van hierdie beweging moes hy in 1973 onder politieke druk bedank, maar keer in 1984 terug na die UWK as professor in maatskaplike werk. Small se gedigte spreek van opstand en verbittering. In die digbundels Kitaar my kruis (1961) en Sê Sjibbolet (1963) protesteer hy oor die pyn en lyding wat sy mense onder apartheid moes deurmaak. Ná die verskuiwing van Distrik Ses se inwoners verskyn ’n bundel onder die ironiese titel Oos wes tuis bes Distrik Ses. ’n Keur uit al die Afrikaanse digbundels, Kô laat ons sing, verskyn by Kwela in 2011. Met hierdie digbundels het Small hom as Sestiger en protesdigter gevestig. Sy grootste werk is die drama, Kanna hy kô hystoe (1965), wat deur André P. Brink bestempel is as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse drama. Ander bekende dramas deur Small is Joanie Galant-hulle en Krismis van Map Jacobs. Hy het ook twee bundels essays van sosiaal-filosofiese aard, ’n bundel Engelse gedigte, Black, Bronze, Beautiful, en ’n drama in Engels, The Orange Earth, gepubliseer. In 2012 word die Hertzog-prys vir al sy dramas aan hom toegeken nadat hy vir jare oor die hoof gesien is vir hierdie gesogte toekenning. Sy jongste werke is die digbundel Klawerjas (2013) en die drama Goree (2014). Pre-lees “Doemanie” in konteks: Die Bybelse profeet Johannes het in die woestyn gaan woon om God se Woord te bring. Daar het hy ’n eenvoudige boodskap vir die mense gebring en ’n kleed van kameelvel gedra, kaalvoet geloop en van wilde heuning en sprinkane geleef. Moderne predikante, wat deur sommiges ook profete genoem word, sien daar egter heel anders uit, omdat baie van hulle togas op die preekstoel dra en party van hulle nie arm mense is nie. Die spreker hekel dus die predikant, maar hy hekel terselfdertyd almal wat kamma vir die armes preek, maar self soos rykes en as rykes leef. Lees Doemanie 1.’n Proefiet van Jesus djý? 2.’n proefiet? 3.djy moet djou palys-hys 4.djy moet djou aeroplane-motorkar 5.djy moet daai kamma sêd smile van djou 6.en djou tears 7.en djou woerawarra op die pulpit 8.moet djou skorrelsvol braai-atappels en -vleis? 9.djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel! 10.en hoe lyk dit moet djou kale pote vi’ daai streamline ding 11.hoe lyk dit moet djou toega vi’ die vel van ’n kameel 12.hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’ sprinkane en wille hiening? WOORDVERKLARINGS aeroplane-motorkar: vliegtuig-motor / Eng.: aeroplane car braai-atappels: braai- aartappels / Eng.: fried potatoes braaivleis: gebraaide vleis / Eng.: barbecued meat daai: daardie / Eng.: that djou: jou / Eng.: your djy: jy / Eng.: you doemanie: dominee / Eng.: clergyman, minister, pastor hiening: heuning / Eng.: honey hys: huis / Eng.: house kale: kaal / Eng.: bare kamma: nie opreg nie, vals / Eng.: pretentious moet: met / Eng.: with palys-hys: paleis-huis / Eng.: palace house proefiet: profeet / Eng.: prophet pulpit: preekstoel / Eng.: an elevated platform used in preaching sêd: treurige / Eng.: sad skorrelsvol: skottels vol / Eng.: dishes full of streamline: vaartbelynde tears: trane toega: toga / Eng.: robe vi’: vir; in plaas van / Eng.: for, instead of wille: wilde / Eng.: wild woerawarra: toga; hoogdrawende taal / Eng.: robe; high-flown language Pitkos: Hierdie gedig is ’n siniese, selfs verbitterde vergelyking tussen moderne predikante en die profeet Johannes. Die digter bedien hom van die vrye versvorm. Herhaling en vergelyking speel ’n belangrike rol. Kennis van ’n interteks is ’n vereiste om die gedig voldoende te kan verstaan. Daar is aanduidings dat die spreker in die gedig hom in ’n soortgelyke posisie as Johannes bevind. Deur satire en ironie word skreiende sosiale kommentaar gelewer. LEERFOKUS alliterasie assimilasie enjambement herhaling intertekstualiteit leestekens ontronding satire vrye vers Post-lees Kontekstuele vrae 1.Maak ’n opsomming van die dominee in die gedig se lewensomstandighede en bediening. 2.Is die spreker in die gedig positief of sinies teenoor die dominee ingestel en hoekom sê jy so? 3.Watter woorde in versreël 11 vertoon alliterasie? 4.Hoe ondersteun die vrye versvorm die inhoud van die gedig? 5.Dink jy alle predikante kan gemeet word aan die lewenstandaard van die dominee in die gedig? Vir jou joernaal en/of in die klas Maak ’n inskrywing op Facebook waarin jy sê hoe jy meen ’n predikant behoort te leef. Peter Snyders (*14 November 1939) SNYDERS IS IN WYNBERG, KAAPSTAD, GEBORE, word daar en in Athlone groot en matrikuleer aan die Hoërskool Athlone. Hy behaal ’n BA-graad in chemie, letterkunde en linguistiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Tans werk hy aan sy meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Snyders skryf ook lirieke in Engels en Afrikaans, wat hy dan in Nederlands vertaal. Hy het musiek studeer en lirieke vir twee musiekgroepe geskryf. Hy tree gereeld by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op en sy dramas is ook opgevoer in die Kunstekaap, The People’s Space-, die Baxter- en die Staatsteater en op die Kaapse Vlakte. Hy het Suid-Afrika by die International Poetry Festival verteenwoordig. In 1980 debuteer hy as digter in Brekfis met vier saam met drie ander digters. Daarna publiseer hy vier individuele digbundels en is medeskrywer van ’n kortverhaalbundel. Sy poësie word oorheers deur die humor en satiriese kommentaar van mense wat vooraf weet dat hulle aan die verloorkant van die lewe staan en dus maar daaroor moet lag. Snyders se poësie en sy twee toneelstukke, Political joke van 1983 en Political joke van 2002, beweeg op die vlak van geestigheid met die absurde politieke toneel in SuidAfrika as sentrale motief. Snyders se Kaapse Afrikaans is ’n wesenlike kenmerk van sy gedigte. Pre-lees Hoewel Kaapse Afrikaans ’n volwaardige vorm van Afrikaans en die moedertaal van ’n groot segment Afrikaanssprekendes is, bly Standaardafrikaans steeds in skole, universiteite en die meeste hoofstroommedia die vorm van Afrikaans wat voorkeur geniet. Enkele tydskrifte en koerante in Kaapse Afrikaans het egter ’n groot leserstal en akademici begin hulle afvra of Standaardafrikaans inderdaad die standaardvorm van die taal is. “Moedertaal” in konteks: Die spreker is baie trots op haar kind wat geleerd is. Die ma moedig haar kind aan om “regte” Afrikaans te praat, want dis hoekom sy hom laat verder studeer het. Uiteraard is haar moedertaal Kaapse Afrikaans. Sy het nie beswaar teen haar kind se akademiese Afrikaans of sy Standaardafrikaans nie, maar sy gaan nie iets anders as Kaapse Afrikaans praat nie. Op ’n hartseer maar ironiese manier misken sy egter ook haar moedertaal, want sy het haar kind laat studeer sodat hy “regte” Afrikaans kan praat. Sy gee nie om as hy skrywers kritiseer wat skryf soos sy ma praat nie. Maar dan sê sy terselfdertyd hy moet net nie van haar verwag om op haar ouderdom van moedertaal te verander nie. Só word die belangrike kwessie van moedertaal en skryftaal in hierdie kort “gesprek” ironies en pittig op die spits gedryf. Lees Moedertaal 1.Kind, as djy wil regte Afrikaans praat, 2.doenit! 3.Dis waam mamma jou lat opleerit; 4.kritisaais skrywers wat skryf 5. soes mamma praat, 6.maa moenie ve’wag 7.mamma moet nou change nie. WOORDVERKLARINGS djy: jy / Eng.: you doenit: doen dit / Eng.: do it kritisaais: kritiseer / Eng.: criticise lat: laat / Eng.: let maa: maar / Eng.: but moedertaal: taal waarmee die spreker grootgeword het / Eng.: mother tongue; vernacular opleerit: opleer het, bedoelende verder gaan studeer het / Eng.: studied further (up higher) soes: soos / Eng.: like ve’wag: verwag / Eng.: expect waam: waarom / Eng.: why Pitkos: Dit ontbreek die vers aan ’n vaste rympatroon en die hele vers kan as een sin gelees word. Kaapse Afrikaans en “regte” Afrikaans word hier teenoor mekaar gestel. Inkeping en ’n enjambement bevorder die onstuitbaarheid van die vorm van Afrikaans wat net so gebruiklik soos Standaardafrikaans is. Palatalisasie en assimilasie kenmerk die spreker se voorkeurvorm van Afrikaans. LEERFOKUS ironie enjambement inkeping Kaapse Afrikaans leestekens praatpoësie Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Watter vorm van Afrikaans praat die spreker in die gedig? a.Kaapse Afrikaans b.Standaardafrikaans c.Swak Afrikaans 2.Waaruit kan afgelei word die ma beskou die Afrikaans waarin die kind gestudeer het as ’n hoër vorm van Afrikaans? 3.Noem drie kenmerke plus een voorbeeld elk van die Afrikaans wat die spreker praat. 4.Hoe bevorder die enjambement en inkeping in versreëls 4–5 die onstuitbaarheid van Kaapse Afrikaans as ’n volwaardige vorm van Afrikaans? 5.Stem jy saam met die ma se weiering om ’n ander soort Afrikaans te praat en hoekom/hoekom nie? Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n gedig in die vorm van praatpoësie oor jou moedertaal. Jy kan enige vorm van Afrikaans in die gedig gebruik. Lina Spies (*6 Maart 1939) SPIES IS OP HARRISMITH GEBORE, maar bring twee jaar van haar jeug op Stellenbosch deur. Sy matrikuleer op Harrismith en behaal haar meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch, ’n UOD aan die Vrystaatse Universiteit, studeer aan die Vrije Universiteit in Amsterdam en behaal ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria. Sy word aangestel as professor in AfrikaansNederlands aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy later aftree en steeds woon. Spies is een van die prominente digters wat in die sewentigerjare hul talent by D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium aan die Universiteit Stellenbosch gaan slyp het. Vir haar debuut Digby Vergenoeg is sy met die Ingrid Jonker- en Eugène Marais-prys bekroon. Met nog sewe digbundels het sy ’n belangrike figuur in die Afrikaanse poësie geword. Ná haar verblyf in Nederland het sy dikwels verklaar dat sy twee tuistes het, naamlik Suid-Afrika, en dan spesifiek Stellenbosch, en daarnaas Amsterdam in Nederland. Dié passie vir twee heel uiteenlopende ruimtes en lewenswyses kom dwarsdeur haar poësie na vore in talle gedigte waarin die landskap, die ervaring en teleurstellings van liefdesverhoudings en haar waardering vir groot kunstenaars soos Rembrandt van Rijn en Mozart die grondslag vorm. Haar poësie het ’n sterk persoonlike aard en sy gebruik hoofsaaklik ’n deurdagte vorm van die vrye vers. Twee van haar sosiaal betrokke gedigte, “’n Paternoster vir Suid-Afrika” en “Lied van die kinders”, het deur die jare as klassieke verse oor die onskuld van kinders bekend geraak. Pre-lees Waar daar konflik is, ly die kinders altyd. Hulle is die onskuldige party en besonder blootgestel. Deur die eeue heen het die lot van kinders tydens oorloë mense aangegryp, tog ly kinders steeds wanneer volwassenes met wapens slaags raak. Selfs waar daar nie openlike geweld is nie, word kinders soms juis deur die mense wat hulle moet beskerm, geweld aangedoen. Ons word dikwels in SuidAfrika deur die media ingelig oor kinders wat in dwelmgeweld of in polisieoptrede in die kruisvuur beland. “Lied van die kinders” in konteks: Die Bybelse verwysing “Laat die kindertjies na My toe kom” verwys na die dissipels wat wou verhinder dat die kinders Jesus pla, maar Hy het hulle tereggewys en die kinders aangemoedig om na Hom toe te kom. Die tema van die gedig is dat kinders ly onder die brute geweld wat deur volwassenes geskep word. Oral waar dus konflik of geweld is, ly ook die kinders. In die gedig word etlike gevalle uit die geskiedenis en uit verskillende lande gebruik om hierdie stelling te ondersteun: die massamoord deur Nazi’s op Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945), die Viëtnam-oorlog tussen kommunistiese Noord-Viëtnam en Amerikaans gesteunde Suid-Viëtnam (1954–1975), die Ierse Republikeinse Leër se stryd teen Britse oorheersing in Ierland, die slagting by Ma’alot in Israel (Mei 1974) waartydens die Demokratiese Front vir die Bevryding van Palestina ’n woonstelblok betree het en 22 kinders in die bevrydingspoging gesterf het, en die Joodse seuntjies wat gesterf het toe Herodes hulle laat vermoor het met Jesus se geboorte in Betlehem. Die leser word daaraan herinner dit is kinders, die onskuldiges, die geweldloses, wat die Koninkryk van God sal beërwe. Lees Lied van die kinders 1.“Laat die kindertjies na My toe kom” 2. Die Joodse seuntjie 3. wat sy armpies in die lug steek 4. voor die SS, 5. sy oë wyd gerek, 6. op sy mou die groot, geel Dawidster. 7“Laat die kindertjies na My toe kom” 8. Die Viëtnamese dogtertjie 9. oumens-krom aan haar stok geklem 10. op die slagveld heen en weer 11. terwyl oor haar bors 12. ’n kruisie hang. 13.“Laat die kindertjies na My toe kom” 14. Die klein vergete Ier 15. op ’n sypaadjie in Belfast 16. tussen die bloed en bomme 17. wat opnuut sy land vrymaak. 18.Laat die kindertjies van Israel na My kom, 19.gevang in die kruisvuur by Ma’alot – 20.bang hasies in ’n bos wat brand. 21.Laat hulle kom, die gevreesde koningskinders van my volk 22.wat die Romeine doodgesteek het 23.toe in ’n stal se stank van mis en bloed, 24.Ek self die Kind van Betlehem was. 25. Verhinder hulle nie 26. Herodes 27. 28. 29. dissipels soldate grootmense 30.Hulle hoort in my koninkryk: 31.hulle weet van wonde 32.sonder om te twyfel of te vra. 33.Laat hulle kom 34. kinders van Dachau 35. kinders van Korea 36. kinders van Saigon 37.Ek sal hul teen my sy vasdruk 38.en my hande op hul lê. WOORDVERKLARINGS Dachau: Duitse konsentrasiekamp / Eng.: German concentration camp Dawidster: ’n geel ster wat die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog op hulle klere moes vertoon / Eng.: yellow star to be displayed on clothing by Jews during the Second World War geklem: vasgeknyp / Eng.: clenched koninkryk: gebied waar die koning heers / Eng.: kingdom kruisvuur: skietery uit twee rigtings, oor-en- weer-skietery / Eng.: crossfire slagveld: terrein waar geveg plaasvind / Eng.: battlefield verhinder: voorkom, keer / Eng.: prevent Pitkos: Die strofebou en tipografie van die gedig varieer. Hoewel die eerste twee strofes uit ewe veel versreëls bestaan, verskil al die ander strofes in hierdie opsig. Ironie kom deurgaans voor. Met behulp van herhaling en hiate word kinderleed en dié wat daarvoor verantwoordelik is, uitgehef. Kennis van die geskiedkundige gebeure waarna verwys word, is noodsaaklik om die gedig te verstaan. Die inkeping in strofe 5 demonstreer beweging: Soos elke versreël verder van die kantlyn af beweeg, so moet kinders ook toegelaat word om nader aan die spreker te beweeg. LEERFOKUS herhaling hiate/spasies ironie sintaksis tipografie uitheffing Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wie is die SS en na watter oorlog verwys dit? 2.a.Watter emosie word vertoon met oë “wyd gerek” in versreël 5? b.Waarom ervaar die kind hierdie emosie? 3.Plaas die pleknaam en die korrekte nasionaliteit bymekaar: Dachau, Saigon, Belfast, Ma’alot, Joodse seuntjie, Kinders van Israel, Ier, Viëtnamese dogtertjie. 4.a.Haal die metafoor in versreël 20 aan en verduidelik waarom die beeldspraak geslaagd is. b.Toon ook die alliterasie daarin aan en hoe dit die beeld verder versterk. 5.Beskryf watter emosies jy ervaar het toe jy hierdie gedig gelees het. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief aan die media waarin jy jou uitspreek teenoor die geweld waaraan kinders in die samelewing blootgestel word en stel ’n oplossing voor om die probleem aan te pak. Wilma Stockenström (*7 Augustus 1933) SY IS OP NAPIER in die Overberg-distrik naby Caledon gebore en ná skool behaal sy ’n BA-graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch. Daarna woon sy in Pretoria, waar sy behalwe toneelwerk op die verhoog en vir TV ook as vertaler werk. Later verhuis sy en haar man na Kaapstad, waar sy tans nog woon. Reeds in haar eerste bundel publiseer sy verse wat in hul aardse beelding en komplekse grammatika ’n eiesoortige toon verkry deur die ironiese en skeptiese manier waarop die mens en sy dwaashede bekyk word. Die fantasie van sprokies, folklore en die geskiedenis van ontdekkers en pioniers in Afrika word keer op keer verbind met die eietydse mens en dit waarna soms so futiel gestrewe word. In haar derde bundel bereik sy soms meesterlike hoogtes met verse. Vir haar digbundel Van vergetelheid en van glans word sy met die Hertzog-prys bekroon, en vir haar vyfde roman Abjater wat so lag (1991) ontvang sy weer die Hertzog-prys. Haar digbundel Monsterverse bevat van die mees komplekse gedigte in Afrikaans. Sy word met drie pryse daarvoor bekroon. Daarna publiseer sy ’n opdragwerk in die vorm van ’n epiese gedig oor die Franse Hugenote se koms na Suid-Afrika onder die titel Die heengaanrefrein en nog twee digbundels. In 2007 verskyn ’n keur uit haar poësie onder die titel Die stomme aarde. Verder het sy vyf prosawerke gepubliseer, waarvan die eerste vir TV verwerk en uitgesaai is, en die liries-epiese novelle in die vorm van ’n monoloog, Die kremetartekspedisie, wat in sewe tale vertaal is. Pre-lees Daar is ’n advertensie wat lui dat die volgende oorlog nie oor hulpbronne of grond of enige ander saak geveg sal word nie, maar oor water. Die waterbronne is beperk, veral in Suid-Afrika, wat as ’n droë land gesien word. Ten spyte daarvan besoedel ons die water, selfs die riviere, in so ’n mate dat dit lewensgevaarlik vir gebruik geword het. “Koichab se water” in konteks: Die mens se nietigheid en sy vermetelheid daarenteen word uitgebeeld. Die mens is geneig om die werklikheid te weerspieël of te vervals. Seweduisend jaar oue suiwer water word uit ’n kraan getap en op allerlei maniere vir reiniging gebruik en daardeur besoedel. Daar heers spanning tussen skeppende, lewegewende en ontbindende kragte. Die Koichab-rivier, waarna die titel onder meer verwys, vloei weswaarts aan die suidekant van die Namib, verskaf water aan Walvisbaai en Swakopmund en is honderd en dertig kilometer ver met ’n pyplyn aangelê. Die water in hierdie gedig het egter op alle water betrekking, want ten spyte van die kosbaarheid daarvan, gebruik die mens dit argeloos. Lees Koichab se water 1.Seweduisend jaar se opgebergde sagtheid 2.tap ek uit ’n kraan en was gewoon 3.wit nylon en droogdrupgoed daarin. 4.Dan na die kombuis om kospotte rond 5.te skuif en by aanbrandsel water te gooi. 6.Toe dié water die lig sien, het dit 7.kortliks gewonder hoekom juis toe. 8.Toe vloei dit deur pype ondergronds 9.en bo na al die aangewese plekke toe 10.om met sy weergalose witheid te suiwer 11.en te laaf en deemoedig deel te word 12.van dop en dam, van afval, en rioolvuil; 13.netso asof ’n vrou in edelheid opgevoed 14.haar sonder nadenke eenvoudig gee. WOORDVERKLARINGS aanbrandsel: vasgebrande kos onder in kastrol / Eng.: crustation, burnt layer aangewese: geskikste, regte / Eng.: best, correct deemoedig: nederig, onderworpe / Eng.: humble, meek dop en dam: volksnaam vir brandewyn en water / Eng.: brandy with water droogdrupgoed: klere wat nie gestryk word nie, maar kreukelvry word terwyl dit hang om droog te word / Eng.: drip-dry clothes gewoon: soos gebruiklik, sonder ophef / Eng.: as usual, without making a fuss about it laaf: verkwik / Eng.: refresh weergalose: onge- ewenaarde, sonder gelyke / Eng.: unequalled, unrivalled Pitkos: Teenstellings, herhaling, alliterasie en tipografie suggereer die vloei van die water na die oppervlak in pype tot by die kraan, asook hoe die water aangewend word. Die eerste en vierde strofe bestaan elk uit vyf versreëls en die tweede en derde is koeplette. Die herhaling van “toe”, juis in die koeplette, is opmerklik. Aan die einde van die gedig verskyn die vergelyking onverwags soos ’n sigbare weerspieëling van die voorafgaande, asof die gedig soos water dit wat bokant die oppervlak is, weerspieël. Die titel wat verwys na water wat oor so ’n groot afstand aangelê is, lewer kommentaar op die kosbaarheid van alle water. Ook word ’n vrou en water vergelyk: Asof die water ’n vrou is wie se liggaam vir haar kosbaar is, maar dan gee sy haar liggaam sommer aan ’n man, so is water wat in die kosbaarheid daarvan sommer aan die mens gegee word. LEERFOKUS alliterasie beeldspraak teenstelling tipografie uitheffing Post-lees Kontekstuele vrae 1.Watter twee handelinge voer die spreker in die eerste strofe uit? 2.Skryf die woorde neer waarmee die water benoem of beskryf word. 3.Toon die beeldspraak in die tweede strofe aan en verduidelik waarom dit funksioneel is. 4.Verduidelik hoe die tipografie en bou van die middelste twee strofes die watervloei visueel voorstel. 5.Beskryf die doeltreffendheid van die gedig as ’n spieël van die samelewing. Vir jou joernaal en/of in die klas Hou ’n klasbespreking waarin julle voorstelle formuleer om water te bespaar en besoedeling te voorkom. Barend Toerien (*29 Maart 1921 – †4 September 2009) TOERIEN IS GEBORE op die plaas Steenwerp waar die Voorberg-gevangenis vandag geleë is. Dit is ook waar hy grootgeword het. Hy het aan die Hoërskool Porterville gematrikuleer en aan die Universiteit Stellenbosch onderwys en biblioteekkunde studeer. In 1947 is hy na Europa waar hy later radiodramas vir ’n verdienste geskryf het. Kort daarna is hy na die VSA, waar hy ’n bibliotekaris in diens van die destydse VVO was, en later ’n dosent aan die Departement van Gevangenisse. In 1978 is Amerikaanse burgerskap aan hom toegeken en het hy ’n plaas daar gekoop. Tog bly hy ’n swerwer en reis hy, benewens na SuidAfrika, voortdurend tussen kontinente. Hy sterf in Somerset-Wes. Op universiteit het hy al begin skryf en sy latere gepubliseerde werk word gekenmerk deur menslikheid, “knorrigheid”, teerheid en sensitiwiteit. Hy publiseer agt digbundels. Pre-lees Ons dink gewoonlik aan ’n verlies as ’n besitting wat jy verloor het. Maar wanneer iemand wat na aan jou was na ’n ander plek toe trek of sterf, of wanneer ’n verhouding beëindig word, is dit ook ’n verlies. Dit laat ’n groot leemte in jou lewe. Gesels in die klas oor hoe jy gevoel het toe jy iemand op so ’n manier verloor het. “Verliese V” in konteks: Die gedig vertel hoe mens se lewe verander wanneer jy iemand mis. Die eensaamheid wat volg wanneer ’n verhouding verby is, raak so erg dat dit voel asof jy fisiek daarmee gekonfronteer word. Die digter gebruik drie strofes om hierdie tema van verlies uit te beeld. Hy toon aan hoe in die mees alledaagse aktiwiteite jou verliese akuut teenwoordig is en hoe dit jou later so ontstel dat dit voel of jy nie asem kry nie. Verlies beïnvloed dus jou lewe radikaal. Lees Uit: Verliese V 1.Ek klim die trappe op na my kamer 2.Afwesigheid klim ook saam 3.En as ek my stoel nadertrek aan die tafel 4.sit Afwesigheid ook aan 5.Ek eet dit soos die vetterige eiers 6.Ek lepel dit in my kitskoffie 7.As dit so aanhou spreek ek dit nog seker aan: 8.Naand Oubaas Afwesigheid, naand 9.met egskeiding se naam! 10.En hoe is Leegte-in-die-Lug? 11.Ek kruip in my bed 12.Afwesigheid lê koud aan 13.Ek het ’n pal metgesel en is nooit alleen nie 14.Hy hou my te styf vas 15.Ek versmoor in sy arms! New York 1965 WOORDVERKLARINGS aanhou: nie ophou nie / Eng.: continues aanlê: met liefdevolle bedoelinge aandag skenk / Eng.: court (a girl) afwesigheid: weg wees, nie teenwoordig nie, nie daar wees nie / Eng.: absence egskeiding: skeiding tussen ’n getroude man en vrou / Eng.: divorce kitskoffie: koffiepoeier / Eng.: instant coffee Leegte-in-die-Lug (neologisme): vakuum / Eng.: vacuum (neologism) lepel: skep of klits met ’n lepel (neologisme; nie gebruiklik as werkwoord nie)/ Eng.: spoon (neologism; not common as a verb), stir metgesel: iemand wat saam met jou gaan / Eng.: companion naand: groet in die aand / Eng.: good evening oubaas: aanspreekvorm vir ouer man / Eng.: old man pal: permanente, durende / Eng.: constant verliese: dinge wat jy verloor het / Eng.: losses versmoor: maak dat jy nie asem kry nie / Eng.: suffocate vetterige: met te veel olie gemaak / Eng.: greasy Pitkos: Die digter gebruik personifikasie en beklemtoon die werklikheid van eensaamheid wanneer hy van Afwesigheid ’n karakter in die gedig maak deur dit met ’n hoofletter te spel soos ’n persoonsnaam. Die omgewing waarin die spreker hom bevind, klink nie na ’n tuiste nie, maar meer soos ’n blyplek met kos en slaapplek. Hy gebruik spot en galgehumor om sy situasie te hanteer, maar uiteindelik raak die werklikheid van sy verlies te veel. In drie strofes vertel hy van die alledaagse aktiwiteite van sy bestaan, maar dan bou die spanning op en eindig die gedig op ’n dramatiese hoogtepunt. Leestekens word strategies ingevoeg of weggelaat. Ook die gebrek aan ’n rymskema is funksioneel. Die naskrif gee aan die leser ’n wenk dat hierdie gebeure in 1965 in New York afspeel. Toerien is in 1963 geskei en die leser kan dus met redelike sekerheid aanneem dat dié skeiding die gedig beïnvloed het. Dit is egter nie noodsaaklike inligting om die gedig te verstaan nie, want baie mense ervaar die verlies en eensaamheid van egskeiding. LEERFOKUS herhaling ironie personifikasie satire sintuiglikheid stemming Post-lees Kontekstuele vrae 1.Wat laat jou besef dat die spreker in ’n gastehuis of losieshuis tuisgaan? 2.Maak ’n lys van die dinge wat die spreker alleen doen. 3.Wat dink jy is die oorsaak van die spreker se eensaamheid? Haal ’n woord aan om jou antwoord te staaf. 4.Kan jy met die spreker simpatiseer of dink jy hy oordryf die situasie? 5.Toon aan hoe die digter herhaling gebruik as verstegniese middel om die gedig se tema van eensaamheid te versterk. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n e-posbrief van 100 woorde aan ’n vriend(in) wie se verhouding pas verbreek is. Bied jou simpatie en raad aan. Nathan Trantraal (*14 November 1983) TRANTRAAL IS IN KAAPSTAD GEBORE. Hy het grootgeword in Bishop Lavis en Mitchells Plain. Saam met sy broer André debuteer hy met ’n strip (’n geïllustreerde verhaal) in die Cape Argus. Daarna verskyn sy grafiese roman, getitel Stormkaap: Drome kom altyd andersom uit, gevolg deur Coloureds. Hy is verantwoordelik vir die weeklikse strippen “The Richenbaums” in die Cape Times asook “Ruthie” in Rapport. As digter debuteer hy in Kaapse Afrikaans met die bundel Chokers en survivors. Dié titel verwys na ’n grondboontjiebotteren-konfyttoebroodjie, kos wat deur die regering verskaf is aan minderbevoorregte kinders. Sy verse word gekenmerk deur ’n wrang humor en satire. Pre-lees Delft is ’n township geleë op die Kaapse Vlakte, langs Kaapstad Internasionale Lughawe, Belhar, Blue Downs en Khayelitsha. Armoede, misdaad en werkloosheid is ’n groot probleem in Delft. “Delft” in konteks: Die gedig kom uit Trantraal se debuutbundel en dit beskryf die troostelose bestaan in die township Delft te midde van geweld. Trantraal gebruik Kaapse Afrikaans en sy werk is, in die woorde van kritikus Joan Hambidge, “in your face”, volgens haar die beste woorde wat sy kan vind om die bundel mee op te som. Die gebruik van ontronde woorde is opvallend, want dis hoe die taal deur die mense van Delft gepraat word. Die digter skryf dus in die taal van die mense oor wie die gedig gaan. Die gedig wil – soos Trantraal se strokiesprente – toeganklik wees om sosiale kommentaar te lewer. Hoewel dit ’n somber wêreld uitbeeld, is dit nie sonder humor nie. Die humor is egter wrang en satiries van aard. Delft se strate is besaai met klippe, die son bak fel en die suidooster waai almal se huise vol sand. Alles en almal is hieraan uitgelewer en neem dan ook mekaar se eienskappe aan. Lees Delft 1.Die klippe innie pad 2.sit soes laities oppie sypaadjie 3.en vra die heeltyd vi jou virre rand. 4.Die wind kom en gan 5.soese man wattie oo sy laities worry nie 6.’n wind wat net vi homself liewe. 7.Die lug se mon stink na wyn. 8.Die wêk nine to five 9.omdat dai is wat hy doen. 10.Hyt nog nooit consider 11.dat hy iets annes kan doen nie. 12.Die boeme hang heeldag oo hulle miertjies 13.en hou anne mense se biesagheid dop. 14.Die sand het vyl voete en lang naels, 15.maarie sand loep van dee tot dee 16.en sit in ammel se hyse 17.Die mense is cigarette-toppatjies 18.opgestop in metjieboksies WOORDVERKLARINGS ammel: almal / Eng.: everybody anne: ander / Eng.: other annes: anders / Eng.: else, different biesagheid: besigheid / Eng.: business boeme: bome / Eng.: trees cigarette-toppatjies: sigaretstompies / Eng.: cigarette ends dai: daardie / Eng.: that dee: deur / Eng.: door gan: gaan / Eng.: go hyse: huise / Eng.: houses hyt: hy het / Eng.: he had innie: in die / Eng.: in the laities: jong seuns / Eng.: young boys liewe: lewe / Eng.: lives loep: loop / Eng.: walk maarie: maar die / Eng.: but the metjieboksies: vuurhoutjiedosies / Eng.: matchboxes miertjies: lae grensmure om die huis / Eng.: low walls mon: mond / Eng.: mouth oo: oor / Eng.: about; over oppie: op die / Eng.: on the soes: soos / Eng.: like soese: soos ’n / Eng.: like a vi jou: vir jou / Eng.: ask you for virre: vir ’n / Eng.: for a vyl: vuil / Eng.: dirty wattie: wat nie / Eng.: that does not wêk: werk / Eng.: work Pitkos: Alles wat deel is van Delft is soos die mense van Delft uitgelewer aan die omstandighede en natuurelemente en neem só die mense se eienskappe aan. Hoewel dit humoristies is, is dit so skerp dat dit satiries van aard word en só kommentaar lewer op die mense se leefwyse. Die digter maak ook van alliterasie en assonansie in hierdie vrye vers gebruik. Een van Kaapse Afrikaans se duidelikste kenmerke is ontronding en assimilasie en hierdie vers is ’n uitstekende voorbeeld daarvan. LEERFOKUS assimilasie metafoor ontronding personifikasie satire vrye vers Post-lees Kontekstuele vrae 1.Vul die menslike eienskappe naas die volgende nielewende sake in om te toon hoe dit gepersonifieer word. Sommige het meer as een menslike eienskap. Die menslike eienskap kan in Kaapse Afrikaans soos in die gedig of in Standaardafrikaans verskaf word. a.klippe b.ind c.lug d.son e.bome f.sand 2.Waaruit kan afgelei word die mense wat in Delft woon, is baie nuuskierig oor hulle bure? 3.Hoe weet die leser die son brand fel in Delft? 4.Waarom kan die vers as satiries beskou word? 5.Kan jy simpatiseer met die mense van Delft? Vir jou joernaal en/of in die klas Gesels in die klas oor ’n woonbuurt waarin armoede en misdaad heers en probeer vasstel wat die oorsaak daarvan is. Toon van den Heever (*29 November 1894 – †29 Januarie 1956) TOON (FRANÇOIS PETRUS) VAN DEN HEEVER is in Heidelberg gebore. Hy gaan skool op Montagu en Ermelo en studeer in die regte aan die Universiteit van Pretoria, waarna hy as onderwyser aan die Rand en as regtersklerk in Windhoek (Namibië) werksaam is. Hy sit sy studie in die regte voort en word later advokaat en adviseur vir die Departement van Justisie en Buitelandse Sake in Pretoria. Later word hy ’n regter en kort daarna is hy bevorder tot appèlregter. Hy ontvang ’n eredoktorsgraad in die regte van die Vrystaatse Universiteit. Vir sy digbundel Eugene en ander gedigte ontvang hy die Hertzog-prys. Hy publiseer benewens digbundels verskeie sketse, kortverhale en vertellinge. In sy tyd is sy poësie ’n belangrike vernuwing, omdat dit wegbeweeg van die vaderlandsgebonde vers. Pre-lees In die vroeë twintigste eeu was die goudmyne vir baie mense ’n finansiële uitkoms. As gevolg van droogte en ander omstandighede is mense ook dikwels gedwing om myners te word en het só verstedelik. In daardie jare het baie mynwerkers myntering opgedoen en daaraan gesterf. Dit is ook die lot van die spreker in die gedig. Simptome van tering is onder meer voortdurende hoes, soms gepaardgaande met ’n fluitgeluid wat deur die lugweë voortgebring word. “In die Hoëveld” in konteks: In die gedig vertel ’n mynwerker, waarskynlik in ’n goudmyn, van sy verlange en heimwee na sy gebied van herkoms, naamlik sy plaas op die Hoëveld, dus oorheers die weemoedige stemming. Die kanse dat hy sal terugkeer na die plaas lyk nie goed nie, aangesien hy reeds siek is. Alhoewel hy nié in die Hoëveld is nie, oorheers dié ruimte in die gedig. Juis daardeur word die ruimte waar hy hom nou bevind, sterker gekontrasteer met die plek waar hy graag sou wou wees. Aan die een kant is daar die mooi natuurbeskrywing, maar andersins ook die besef van verganklikheid. Deur sy gedagtes ontvlug hy uit die oomblik waarin hy hom bevind. Lees In die Hoëveld 1.In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo, 2. Waar kuddes waaigras huppel oor die veld, 3.Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo, 4. Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld. 5.En as ek in die gange van die myn hier sit en droom 6. Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry, 7.Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom, 8. Sawens as ek bees of skaap toe ry. 9.Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien, 10. (Die ylblou bring ’n knop dan in jou keel) 11.Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien, 12. Waar die bokkies op die leigrafstene speel. 13.Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit, 14. Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind 15.Ek soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit 16. Waar ek kleiosse gemaak het as ’n kind. Pitkos: Die gedig bestaan uit twee strofes waarin die spreker se werklike ruimte hemelsbreed verskil van die verbeelde ruimte. Die sinsbou en rym bind die gedig tot hegte eenheid. Beeldspraak, alliterasie en herhaling beklemtoon die verlange. Daar word ruim van assonansie, alliterasie en rym gebruik gemaak. Spasies aan die begin van versreëls en kommas gevolg deur hoofletters dra nie by tot betekenisuitbreiding nie en is waarskynlik bloot die resultaat van die heersende tendens tydens publikasie van die gedig, naamlik om elke versreël met ’n hoofletter te begin. LEERFOKUS alliterasie assonansie ironie rymskema simbool stemming teenstelling woordorde Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Waarom het die spreker sy huisie verlaat? a.Hy wou in die stad gaan woon. b.Hy het siek geword. c.Om geld te maak op die myne. 2.Maak ’n lys van al die woorde wat na vryheid verwys en ’n teenstelling vorm met die “gange van die myn”. 3.Mynwerkers se skofte is in die tyd waarin die gedig afspeel met ’n fluit aangekondig. Verwys die fluit in versreël 13 na die skoffluit en/of fluitgeluid wat saam met myntering gaan en/of ’n simboliese fluit? Motiveer jou antwoord. 4.Bespreek die doeltreffendheid van die teenstellings wat in die gedig voorkom. 5.In watter mate, dink jy, ervaar die hedendaagse mynwerkers nog hulle werk en omstandighede soos die spreker? Vir jou joernaal en/of in die klas Verduidelik aan ’n maat watter beroep jy sou verkies. Ernst van Heerden (*20 Maart 1916 – †30 September 1997) VAN HEERDEN IS OP PEARSTON in die Groot-Karoo gebore en sy as is daar langs sy vader begrawe. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch, Gemeentelijke Universiteit en die Universiteit van Gent studeer. Van Heerden was lank as dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand verbonde. Onder invloed van die romantiese Engelse en Nederlandse digters van die negentiende eeu, én die aansien van die Dertigers in Suid-Afrika, debuteer hy in 1942 met Weerlose uur, gevolg deur ’n soortgelyke bundel, Verklaarde nag. Reeds in die eerste bundel het die gedig “Die hardloper” opgeval as een waarin ’n sportfiguur se krag én feilbaarheid dramaties voorgestel word, en in die tweede bundel is daar verskeie ander gedigte oor sportfigure. Van Heerden se passie vir sport én sy besef van die liggaam se swakheid sou dwarsdeur sy oeuvre ’n konstante tema bly. ’n Ander volgehoue tema in sy werk is die dood as ’n altyd dreigende element in die mens se bestaan. Ons sien dié beheptheid met ondergang ook in die titels van sy latere digbundels. Die somber inhoud kan herlei word tot die ironiese feit dat Van Heerden, wat in sy jeug ’n forse gewigopteller was, ’n vaskulêre siekte ontwikkel het wat tot die amputasie van albei sy bene gelei het. Hy het wyd gereis, onder meer na Suid-Amerika, en het twee reisboeke oor dié ervarings gepubliseer. Hy was ook besonder belese en in sy latere bundels het ’n vrees vir die politieke situasie in Suid-Afrika en die ouderdom sterk na vore gekom. Hy het altesaam sewentien digbundels gepubliseer. Hy is twee maal met die Hertzog-prys vereer, asook met die W.A. Hofmeyr- en CNA-prys. Pre-lees Beantwoord die volgende vrae in groepsverband: •Waarom voer mense oorlog? •Wat is die nut van ’n oorlog? •Wat is die uiteinde van ’n oorlog? •Dink jy oorlog is ooit die moeite werd? “Na die front” in konteks: Ernst van Heerden se tweede digbundel, Verklaarde nag, verskyn in 1946. Dit is direk ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945). Daar kan dus met redelike sekerheid aanvaar word “Na die front” gaan oor ’n soldaat wat in hierdie oorlog veg. Die boodskap is egter universeel en nie noodwendig beperk tot die genoemde Wêreldoorlog nie, want dit kan ook vandag van toepassing gemaak word op enige soldaat wat in enige oorlog veg. Lees Na die front 1.Toe ek die laaste môre brood kom eet, 2.kon ek my hartseer aan jou liewe hande meet; 3.toe ek my rantsoen pak, komberse rol, 4.was my gedagtes van jou oë vol; 5.toe ek vir oulaas staar, die deur toestoot, 6.toe spieël my hart hom in jou hart se nood; 7.toe ek die straat uitgaan en nie weer kyk, 8.het jou sagte hare oor my wang gestryk; 9.toe ek die trein inklim, met wrange lippe groet, 10.was jou mond ’n siddering, jou kus ’n vloed … 11.Toe ek die sneller en die blink loop vas omklem, 12.kon ek van jou g’n enkele trek herken. WOORDVERKLARINGS front: voorste gevegslinie in oorlog / Eng.: front line in war gestryk: gevee / Eng.: brushed against loop: die deel van die geweer waardeur die koeël beweeg / Eng.: gunbarrel omklem: styf en angstig vashou / Eng.: clench, hold tightly rantsoen: kosvoorraad deur soldaat gebruik / Eng.: food ration siddering: rilling / Eng.: shiver sneller: die deel van die geweer wat die skoot laat afgaan / Eng.: trigger trek: eienskap / Eng.: characteristic vloed: water wat on- keerbaar vloei, ook trane of ander vloei- stowwe / Eng.: flood wrange: bitter / Eng.: bitter Pitkos: Die gedig bestaan uit ses rymende koeplette. Leestekens op ooreenstemmende plekke in elke koeplet bind die vers en beklemtoon, asook paarrym. Metrum, assonansie en alliterasie bevorder klankrykheid en beklemtoning. Die eerste vyf koeplette gee vir ons die agtergrond, naamlik die oorlog waarin die soldaat al hoe verder van sy huis af beweeg, terwyl die laaste koeplet die ontknoping bring, waarin die skeiding tussen die geliefde tuis en die soldaat aan die oorlogsfront volkome is, want nou weet hy nie eens meer hoe lyk die geliefde nie. In die laaste twee strofes tree ’n wending in die gebeure in en leestekens versterk die gedagte van ’n wending. “Her- ken” (vs. 12) is woordspeling omdat dit ook heenwys na “erken” wat beteken om erkenning te gee aan iemand, te sê wat daardie persoon vir jou beteken en gedoen het. LEERFOKUS koeplet leestekens progressie rym teenstelling woordorde woordspeling Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Wie is die spreker in hierdie gedig? a.Die digter, Ernst van Heerden b.’n Soldaat op pad oorlog toe c.’n Soldaat se geliefde 2.Wat bereik die digter deur die ongewone woordorde in versreël 4? 3.Watter teenstelling is daar tussen die geliefde se handeling en die spreker s’n? 4.In die tweede laaste en laaste strofe word die leestekenpatroon wat in die vorige strofes voorkom, verbreek. Verduidelik hoe dit by die inhoudelike wending in die laaste twee strofes aansluit. 5.Wat dink jy van die soldaat se houding in hierdie gedig en hoekom dink jy so? Vir jou joernaal en/of in die klas Jy het pas van ’n geliefde afskeid geneem en het net jou skootrekenaar by jou. Skryf ’n boodskap op Facebook sonder om so persoonlik te raak dat dit vir jou en ander ’n verleentheid is. Skryf net subtiel hoe moeilik afskeid is, sonder om name te noem. A.G. Visser (*1 Maart 1878 – †10 Junie 1929) VISSER WORD OP DIE PLAAS ZAAIFONTEIN in die Fraserburg-distrik gebore. Hy gaan in Daljosafat skool, studeer onderwys aan die Normaalkollege in Kaapstad en ontvang sy opleiding as mediese dokter in Edinburg, Skotland. Visser het as geneesheer op Heidelberg en Steytlerville gepraktiseer en was ’n persoonlike vriend van Eugène N. Marais. Die volkskrywer is ’n geliefde figuur in enige literêre gemeenskap en dit was Visser inderdaad. Hy was dié geliefde volksdigter van sy tyd naas C.J. Langenhoven. Laasgenoemde, ’n skrywer en filosoof, se aanhangers was hoofsaaklik die minder geskoolde Afrikaanssprekendes. Visser, daarenteen, was die liefdesdigter. Benewens die meestal droewige toon van liefdesverse was sy spotverse en “diepsinnige” spreuke nietemin baie gewild. Dit is juis in hierdie humoristiese verse wat hy lewenswyshede kwytgeraak het wat eintlik algemene kennis is – juis daarom is dit so vermaaklik. Hy verower twee maal die Hertzog-prys, vir sy eerste en tweede digbundel. Pre-lees Bespreek in die klas: Dink jy alle politici is oneerlik? “’n Volksleier (enige eeu)” in konteks: Hierdie gedig is deel van ’n reeks puntdigte (epigramme) wat in 1927 verskyn het in die bundel Rose van herinnering. Daar word goedig maar nie sonder skerpsinnigheid nie die spot gedryf met volksleiers. Hierdie volksleier belowe die volk dit sal met hulle goed gaan as hulle hul toekoms in sy hande laat. Dié beloftes word selde bewaarheid, tog glo die volk hom en vertrou en vereer hom. Lees ’n Volksleier (enige eeu) 1.Sy volk sal hom vereer, vertrou, 2.Die toekoms in sy hande laat. 3.Vir hom sal hulle glo al sou … 4.Al sou hy ook die waarheid praat! WOORDVERKLARINGS glo: om iets as waar te aanvaar / Eng.: believe vereer: om eer aan iemand te bring / Eng.: to honour someone vertrou: glo in iemand / Eng.: believe in someone volk: groep mense wat deur kultuur en verblyfplek ’n eenheid vorm / Eng.: nation Pitkos: Getrou aan die puntdig (epigram) is hierdie vers bon- dig; dit bestaan uit slegs vier versreëls (kwatryn) met ’n vaste rympatroon. Dit is geestig en vel ’n emosionele oordeel deurdat dit die spot dryf met volksleiers. Die einde bevat ’n verrassende wending. LEERFOKUS puntdig rym satire wending Post-lees Kontekstuele vrae 1.Verduidelik kortliks waaroor hierdie gedig handel. 2.Hoe weet ons dat die mense hierdie politikus vertrou? 3.Lewer kommentaar op die teenstelling in die rymwoorde “vertrou” en “sou”. 4.Stem jy saam met die siening van hierdie spreker? Verduidelik jou antwoord. 5.Lewer kommentaar op die satiriese aard van hierdie gedig. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n kwartet waarin jy grappenderwyse die spot dryf met ’n openbare figuur. Onthou dat ’n hekeldig nie venynig is nie en nie iemand persoonlik aanval nie. Fokus ook op die rymskema wat jy gaan gebruik; jy mag Visser se rympatroon gebruik. George Weideman (*2 Julie 1947 – †28 Augustus 2008) WEIDEMAN IS OP CRADOCK GEBORE en bring sy jeugjare in die Noordweste en Namakwaland deur. In een van sy gedigte verwys hy na sy ouers as “sigeuners”, miskien omdat hulle dikwels van standplaas verander het, maar ook omdat hulle kunssinnige mense was wat belangstelling in allerlei kunsvorme gehad het. Weideman het die Karoo, Noord-Kaap en Noordwes-Kaap as sy hartland beskou. Hy het aan die Universiteit van Pretoria en Unisa studeer en sy doktorsgraad in Afrikaanse letterkunde aan Rhodes Universiteit behaal. Hy was ’n onderwyser in die destydse Kaapprovinsie en ’n dosent aan die Paarlse en die Windhoekse Onderwyskollege. Sy eerste digbundel verskyn in 1966 met die bekoorlike titel Hondegaloppie, ’n woord uit die streektaal van Namakwaland vir ’n sterk konkoksie van verskillende soorte drank. Hierdie gedigte, asook dié in sy tweede bundel, As die son kliplangs spring (1969), is meestal los van bou met ’n liriese en volkse aard. Daarna volg nog vier bundels, waarvan die laaste twee, Uit hierdie grys verblyf (1987) en ’n Staning onder sterre (1997), van sy bes versorgde en mees substansiële gedigte bevat. In 1998 publiseer hy ’n eie keuse uit sy eerste vyf digbundels onder die titel Pella lê ’n kruistog vêr (met die moedswillige kappie op vêr). Selfs tydens sy ernstige bloedsiekte, wat tot sy dood sou lei, het hy aanhou skryf. Hy het romans, kortverhale, jeugverhale, kinderboeke, ’n drama en agt digbundels die lig laat sien. Pre-lees Bespreek die volgende in die klas: •Watter herinneringe het jy rondom kos en drinkgoed wat jy met jou ouma of familiefeeste in verband bring? •Watter spesiale gebruike en tradisies handhaaf julle gesin of familie rondom feesdae soos Kersfees, Nuwejaar of enige ander feestelikheid wat julle vier? “Ouma Baai maak heuningbier” in konteks: Die gedig kom uit die bundel ’n Staning onder sterre (1997). Die digter kom uit die Noordwes-Kaap. In daardie besonder droë gebied moes die boere dikwels ander weiding vir die vee vind en het dus na waar weiding beskikbaar was, getrek. Só ’n plek is dan ’n staning genoem. Omdat hulle nie tuis was nie, was hulle verblyf dikwels onder die sterre. Die meeste van die gedigte is kontreigedigte. Dis ’n kyk en onthou van die digter/spreker. Hierin word na die aangename dinge in die lewe gekyk. Heuning is simbool van onsterflikheid, maar simboliseer ook die nektar van die antieke gode. Lees Ouma Baai maak heuningbier 1.In hierdie onvaste uur 2.tussen slaap en wakkerword 3.is my geheue sonderling opgeskort: 4.Langs die steier brand ’n asbosvuur; 5.’n koningstor kom agter sy gebrom 6.padlangs aangesnor, bokke blêr 7.hul voersak tegemoet en die môrester 8.raak weg in die dieptes van ’n sonneblom. 9.Onder ’n karos op die steierkis 10.staan, sorgsaam toegemaak 11.en stilweg deur die werfhond bewaak, 12.’n boepenskom met !kharib en gis. 13.’n Dolende engel, gelok deur die geur, 14.sweef rakelings verby die waenhuisdeur. WOORDVERKLARINGS asbosvuur: vuur gemaak van die asbosplant / Eng.: fire made with the lyebush boepenskom: kalbas / Eng.: bowl shaped like round stomach, calabash dolende: dwalende, wat ronddwaal / Eng.: roaming, wandering karos: velkombers / Eng.: skin rug !kharib: Khoi-woord vir heuningbier / Eng.: Khoi word for honey beer koningstor: soort tor / Eng.: kind of beetle onvaste: ontwykende, vae; uur waarin mens nie seker is hoe laat dit is nie / Eng.: elusive, vague; an hour of the night when one is not sure what time it is opgeskort: uitgestel / Eng.: postponed, delayed rakelings: skrams, amper raak / Eng.: brush past staning: weiding / Eng.: place for grazing steier: raamwerk, stellasie / Eng.: scaffold sweef: in die lug dryf / Eng.: float, glide waenhuisdeur: deur van die stoor van voertuie / Eng.: barn door Pitkos: Die spreker beleef herinneringe, moontlik aan sy kinderdae, op die plaaswerf in die noordweste van die Kaap. Hierdie geheueflitse is tipies van die eenvoudige, landelike dinge in ’n kontreigedig. Mens ervaar hier die spreker se manier van na dinge kyk. In die eerste twee kwatryne is daar geheueflitse, maar in die derde kwatryn kry die heuningbier prominensie en word in meer detail aandag daaraan gegee. Daardeur kry dit ’n belangrikheid wat deur die dolende engel se verbyvaart, amperse besoek, bevestig word. Die gedig word ’n getuigskrif oor die belangrikheid van die aangename dinge in die lewe. Dis ryk aan sintuiglike waarneming. LEERFOKUS agterplasing Engelse sonnet enjambemente inversie klanknabootsing klimaks leestekens sintuiglikheid teenstelling uitsteltegniek Post-lees Kontekstuele vrae 1.Kies die korrekte antwoord en skryf die vraagnommer en die letter neer. Wanneer is die “onvaste uur”? a.Die tydperk net voor jy helder wakker word. b.Skemertyd. c.Die tyd wanneer jy baie moeg is. 2.Noem ses dinge op wat die spreker in sy gedagtes ervaar. 3.Verduidelik in jou eie woorde: “die môrester/raak weg in die dieptes van die sonneblom”. 4.Deur gebruik te maak van inversie, kry ons nie die gewone sinsverloop in strofe drie nie. Herskryf die sin in die gewone sinsverloop. 5.Verduidelik waarom hierdie gedig as ’n Engelse sonnet beskou kan word. Vir jou joernaal en/of in die klas Skryf ’n brief aan jou oupa of ouma oor ervarings saam met hom/haar/hulle wat jy die beste onthou. Glossarium Alleenplasing – Woorde of sinsnedes word geïsoleer deur dit ’n alleenstaande strofe of versreël te maak ter wille van beklemtoning/uitheffing: “aangeland” (“Noue ontkoming”, Hendrik Januarie). Alliterasie – Die herhaling van dieselfde medeklinkers/konsonante waarmee ’n woord begin en/of in die middel van ’n woord. Dit kom voor in alledaagse uitdrukkings soos kind nog kraai en wind en weer; digters gebruik dit om ’n patroon van herhaling te skep: “van paal na klip,/van klip na krip”. Antiklimaks – Die omgekeerde van ’n klimaks of ’n hoogtepunt; die teenoorgestelde van wat die leser/hoorder/kyker verwag het; onverwagte uiteinde. Antitese/teenstelling – Die antitese word gebruik om twee uiterstes teenoor mekaar te stel. Dié kontras beklemtoon wat gesê word, byvoorbeeld: die soet en die suur van die lewe; hemel en aarde beweeg om jou doel te bereik. Antonomasia/naamsverwisseling – Dit is verwant aan die metafoor. ’n Eienaam word in die plek van die beeld gebruik. Die een of ander bekende plek of persoon het ’n kenmerkende eienskap, byvoorbeeld: Sy is ’n regte Delila, want sy verlei die mans. Assimilasie – Weglating of wysiging van ’n klank onder die invloed van voorafgaande of daaropvolgende klanke, byvoorbeeld “innie” in plaas van “in die”. Assonansie – Dit is die herhaling van klinkers of vokale in meer as een woord om ’n klankpatroon te vorm wat die leser/hoorder sal tref; veral digters en skrywers van liedjies of advertensies gebruik dit: “oor Kampsbaai/en by Seepunt wit koppe bly waai./Maar, in die baai . . .” Ballade – Dit is ’n epies-liriese digsoort en word gekenmerk deur beskrywing, verhalende elemente (dikwels ’n storie in versvorm met karakters, tema, intrige), eenvoudige taalgebruik, sterk emosionele ondertone (liefde, haat, wraak, ensovoorts), ’n tema wat dikwels tragies is, ritmiese en musikale elemente (’n refrein wat oorspronklik gesing is, klankrykheid, herhaling en ritme). Tradisioneel word dit afgesluit deur ’n opsomming van of kommentaar op die voorafgaande strofes. Beeldspraak – ’n Figuurlike vorm van taalgebruik wat van beelde, vergelyking en personifikasie gebruik maak. Beelde word in literêre tekste gebruik. Dis belangrik om te onthou dat dit altyd op vergelyking berus. Alle vorme van vergelyking in stylfigure kan dus as beeldspraak beskou word. Beginrym – Woorde aan die begin van opeenvolgende versreëls wat met mekaar rym. Beklemtoning – Die klem op iets lê; iets benadruk deur herhaling of aksentuering. Binnerym – Binnerym kom voor wanneer ’n woord elders in die versreël rym met ’n ander woord (gewoonlik aan die einde van die versreël). Dit is anders as alliterasie en assonansie, omdat rym verband hou met die herhaling van meer as een klank in ’n woord: Monroe en rou. Cliché – Afgesaagde uitdrukking of beeldspraak wat so dikwels gebruik word dat dit geen trefkrag meer het nie: Aan die einde van die dag / laaste, maar nie die minste nie. Debuut/debuteer – ’n Digter se eerste bundel is ’n debuut en daarmee debuteer die digter. Denotasie – Die gewone betekenis van ’n woord; dit is die letterlike, saaklike, objektiewe betekenis van ’n woord, byvoorbeeld: Indien jy aan sport wil deelneem, moet jy jou gewig dophou. (Letterlike betekenis – hoeveel jy weeg.) Distansiëring – Beskrywing waarin die belangrikste objek of gebeure laat in die gedig geïdentifiseer word. Daar word dus afstand geskep wat vrae by die leser laat ontstaan waarop hy/sy antwoorde wil vind. Distigon – Die gebruik van koeplette as digvorm. Vb.: “Na die front”, Ernst van Heerden. Elegie – Een van vele liriese digsoorte (ook bekend as ’n treurdig/klaaglied/lykdig). ’n Elegie bevat onder meer musikale elemente (klankrykheid, ritme en herhaling), ’n bepaalde stemming en sintuiglikheid. ’n Weemoedige stemming is opmerklik en word veral geskep deur woordkeuse en beelde. Dit word gewoonlik in prosastyl geskryf. Ritme, soms rym, beeldrykheid en kompaktheid kom voor. Ironie of teenstelling tussen skyn en werklikheid kom ook voor. Vb.: Gedigte wat geskryf is om oudpresident Mandela se dood te gedenk, is elegieë. In mindere mate kan die volgende as elegieë beskou word: “(vir albertina sisulu)”, Patrick Petersen; “Wys my die plek”, C. Louis Leipoldt; “Martha”, Ronelda S. Kamfer. Elisie – Die weglating van ’n klank/klinker ter wille van die metrum en ritme, byvoorbeeld “gistraand” in plaas van “gisteraand”. Elisie laat ’n gedig ritmies gladder verloop, dit versnel die tempo van die gedig en help om ’n staccato-effek in ’n gedig te verkry. Ellips – By die ellips word woorde weggelaat of verswyg wat dan deur die leser self voltooi moet word. In geskrewe tekste word die ellips meestal deur drie puntjies (die beletselteken) aangedui. Hierdie stylfiguur kan sterk dramatiese trefkrag in literêre en kreatiewe verbeeldingstekste hê. Vb.: vs. 4 van “Kersfees 1996”, Ina Rousseau; vs. 18 van “Kinders van die wind”, Koos du Plessis. Enjambement – Die enjambement kom voor wanneer een versreël sonder ’n ruspunt oorloop na die volgende versreël. Deur enjambement te gebruik word die aandag van ’n opvallende rympatroon afgetrek (verdoeseling van die rym). Enjambement beïnvloed die tempo en ritme van ’n gedig – dit kan ’n ritmiese versnelling of vertraging tot gevolg hê. In verhalende gedigte (epiese gedigte) bring dit afwisseling wanneer ’n vertelling eentonig raak. Let byvoorbeeld op die “daarom” en “want” in “die gebreekte snaar”, Diä!kwain/Antjie Krog wat van toepassing is op alles wat dit voorafgaan en volg omdat die hele gedig uit enjambemente bestaan. Epiek – Beskrywende en verhalende letterkunde soos die ballade, heldedig, roman, kortverhaal, novelle, sprokies, legendes, mites en fabels. Epigram (ook genoem puntdig) – Bondige gedig waarin emosionele oordele gevel word. Dit is meestal geestig of hekelend en die einde bevat ’n verrassende wending. Vb.: “’n Volksleier (enige eeu)”, A.G. Visser. Esteties – Dit wat tot ons gevoel vir die skoonheid en harmonie spreek; gevoelig vir die skoonheid van die kunswerk of die natuur. Eufemisme – ’n Vorm van taalgebruik wat versagting uitdruk of iets só omskrywe dat dit nie gevoelens seermaak nie, byvoorbeeld: lang vingers hê (steel). ’n Eufemisme is ’n verbloeming of versagting van iets onaangenaams of skrikwekkends deur ’n vae of mooi omskrywing daarvan. Onderbeklemtoning in plaas daarvan om die werklike omvang van gebeure te beskryf, is ook ’n vorm van eufemisme. Figuurlike taal – Taal wat van beelde gebruik maak om ’n spesifieke effek te bereik, soos metafore, vergelykings en personifikasie. Dit word ook oordragtelike taalgebruik genoem en kom baie in literêre tekste voor. Galgehumor – Humor wat grappenderwys gestel word, maar bitterheid, ironie of satire te kenne gee. Vb.: “V” uit “Verliese”, Barend Toerien; “Doemanie”, Adam Small; “Delft”, Nathan Trantraal. Geestigheid – Oorspronklike, verrassende en grappige uitdrukking. Vb.: “’n Vrou van Clocolan”, Philip de Vos; “Volksleier (enige eeu)”, A.G. Visser. Genre – ’n Vorm of soort literatuur, byvoorbeeld die poësie, drama, kortverhaal, roman, volksverhaal en biografie. Haikoe – Kort gedig wat uit die Japannese kultuur ontstaan het. Dit bestaan tradisioneel uit drie versreëls en vyftien lettergrepe en verwys meestal na iets wat met die seisoene verband hou. Twee dinge wat ver van mekaar verskil, word met mekaar in verband gebring. Vb.: “droë weerligstraal”, “die tak vol bloeisels”, Charl J.F. Cilliers. Hekeldig – Hekel: om iemand te berispe, oor die kole te haal. Die hekeldig kan lig spottend wees of skerp, bitter en verontwaardigde kommentaar met ironie bevat. Die algemene kenmerk daarvan is dat dit sosiale dwaasheid of ongeregtigheid aan die kaak stel en woede uitlok. “Volksleier (enige eeu)”, A.G. Visser. Herhaling/repetisie – Dit is woorde, sinsdele of sinne wat herhaal word om ’n bepaalde effek te verkry. Herhaling bind ’n gedig tot ’n eenheid en dit verleen klankrykheid daaraan. Herhaling kom algemeen voor in gedigte – die herhaling van woorde, frases en klanke ter wille van uitheffing en betekenisverbande. Hiaat – ’n Hiaat is ’n tipografiese wit skeiding in die aaneenlopendheid van iets, ’n leemte waardeur die volledigheid van iets onderbreek word. Hierdie spasie staan as ’n hiaat bekend. Dit beklemtoon die woord wat die spasie voorafgaan en die daaropvolgende woord. Die hiaat verskyn gewoonlik tussen twee woorde in ’n versreël in plaas van ’n leesteken of voegwoord maar kom ook voor wanneer ’n versreël nie teen die kantlyn begin nie, maar ingekeep word. Vb.: “Lied van die kinders”, Lina Spies. Hiperbool – ’n Stylfiguur of vorm van taalgebruik wat iets veel ergers of groters as wat dit werklik is, voorstel, byvoorbeeld: Ek het dit al ’n duisend keer gesê. ’n Hiperbool is ’n oordrywing of vergroting. Ons gebruik dié stylfiguur baie in spreektaal en in verskeie taalstrukture, soos intensiewe vorme, vergelykings, idiome en beskrywende woorde (byvoeglike naamwoorde en bywoorde). Voorbeelde van hiperboliese stelwyses is die volgende: Ek het my morsdood (baie) verlang na jou. / Dis ’n ongelooflike (mooi) meisie wat daar loop. Hoofsheid – Formele (gewoonlik ouderwetse) woordgebruik om ’n gewyde of ernstige atmosfeer te skep. Dit word gewoonlik in ouer gedigte aangetref maar ook in moderne gedigte wat doelbewus ’n gewyde atmosfeer wil skep. Vb.: “Nkosi sikelel’ i-Afrika”, H.A. Fagan. Inhaakrym/kruisrym – Woorde aan die einde van alternatiewe versreëls wat rym (rymskema abab cdcd efef). Intertekstualiteit – Wanneer ’n teks aansluit by ’n ander teks ter verruiming van die semantiese en evokatiewe verwysingsveld van die teks, praat ons van intertekstualiteit. Dit impliseer dat ’n teks se betekenis gevorm of aangevul word deur na ander tekste te verwys. Dit beteken dat ’n skrywer of digter ’n ander teks of tekste gebruik en/of transformeer sodat ’n leser sal verwys na die ander teks tydens interaksie met ’n spesifieke teks. Vb.: geskiedenis, bewaring, taksonomie (“bloubok”, Johann Lodewyk Marais). Inversie – Kyk omgekeerde woordorde. Ironie – Woordgebruik waardeur die teenoorgestelde blyk van dit wat verwag word; ook situasies of omstandighede waarin die teenoorgestelde voorkom van wat verwag is. Vb.: Die gedig “die barbaar” (Cloete). ’n Spreker gebruik ironie om dit wat hy/sy eintlik wou sê, op spottende wyse te beklemtoon. Die skrywer se woorde moet dus nie letterlik opgeneem word nie. As ironie egter in bytende spot oorgaan, word dit sarkasme genoem: “Doemanie”, Adam Small. Karikatuur – ’n Oordrewe, dikwels komiese voorstelling (in woorde of prente) van ’n karakter waarin die spot gedryf word met ’n persoon se voorkoms of karaktertrekke; spotprent. Vb.: “’n Vrou van Clocolan”, Philip de Vos; “Volksleier (enige eeu)”, A.G. Visser. Klanknabootsing – Kyk Onomatopee. Konnotasie – Die ongewone betekenis van ’n woord, ’n gewysigde of bybetekenis waaronder die oordragtelike (figuurlike) betekenisse soos idiome, spreekwoorde en beeldspraak tel, byvoorbeeld: Elkeen moet sy gewig ingooi om die wedstryd te wen. (Figuurlike betekenis – jou beste lewer.) Konteks – Die samehang of breër verband tussen woorde en die spesifieke situasie waarin daardie woorde ’n boodskap oordra. Kontekstuele leidrade – ’n Leestegniek om alle tekens of leidrade in ’n teks te gebruik om die betekenis van die teks te ontsluit. Kontras – ’n Stylmiddel waarin twee uiterstes teenoor mekaar gestel word om ’n sekere effek te bereik. Vb.: hoe meer haas, hoe minder spoed. Kontreitaal (ook bekend as streekstaal) – Die vorm van Afrikaans wat in ’n bepaalde streek of kontrei gepraat word. Omdat dit deur literatuur en in die elektroniese eeu ook op die internet breër bekend geraak het, word sekere gewilde woorde en uitdrukkings daarvan ook buite dié kontrei gebruik, hoewel dit nie algemeen is nie. Vb.: “Ouma Baai maak heuningbier”, George Weideman. Krisis – Hoogtepunt van spanning, gebeure, konflik. Letterlik – (Teenoor figuurlik.) Die eenvoudigste, direkte betekenis van woorde. Letterlike en figuurlike taalgebruik – Taal word op twee vlakke gebruik: letterlik (iets wat werklik plaasvind) en figuurlik (iets wat deur middel van beelde kommunikeer). Iets wat werklik is, is letterlik. “Die koeël is deur die kerk” beteken letterlik ’n koeël het deur die kerk getrek. Gewoonlik word dié uitdrukking nie letterlik nie, maar figuurlik gebruik. Figuurlik beteken die idioom “Die koeël is deur die kerk” dit het klaar gebeur, niks kan meer aan die saak gedoen word nie. Limeriek – Humoristiese gedig wat uit vyf versreëls bestaan, met die vaste rymskema aabba. Die eerste vier versreëls verwys gewoonlik na ’n persoon en in die laaste versreël verskyn ’n grappige wending wat op die persoon kommentaar lewer: “’n Vrou van Clocolan”, Philip de Vos. Liriek – Spontane, subjektiewe gevoelsuiting soos in musiek, die lied, die ode, die sonnet, ’n ballade, himne en elegie. Volgens definisie is ’n liriek ’n gedig waarin die “ek-spreker” sy stemming of gevoel in regstreekse woorde uitspreek. Die spreker “sing” byvoorbeeld oor die natuur, sy liefde vir iemand of medemens of sy smart oor ’n verlies. Vb.: “Wys my die plek”, C. Louis Leipoldt; “Dans van die Reën”, Eugène N. Marais; “die gebreekte snaar”, Diä!kwain/Antjie Krog. Literêre tegnieke – Verskillende metodes waarvan ’n skrywer gebruik maak om ’n literêre teks te skep. Litotes – In teenstelling met die hiperbool, dui die litotes op verkleining. Dit word gebruik om beskeidenheid of valse beskeidenheid uit te druk, byvoorbeeld: My ou ringetjie het net vyftig duisend rand gekos. Die litotes kan ook spot of afguns uitdruk, soos wanneer die een sanger na die ander se trefferliedjie as ’n goeie poging verwys. Meerduidigheid – Waar die taal só gebruik word dat meer as een betekenis ontstaan of meer as een afleiding gemaak kan word. Funksionele meerduidigheid is ’n bate in ’n vers, omdat dit die betekenismoontlikhede uitbrei. Vb.: “Maar sy het in haar woning en op straat / gewoon”, in “Verhaal”, Elisabeth Eybers: “gewoon” verwys na “woon” en na “sonder ophef”. Metafoor – ’n Beeldende vorm van taalgebruik waar een ding gebruik word om ’n ander een met soortgelyke eienskappe te beskryf. In teenstelling met die vergelyking, gebruik digters metafore wanneer een saak direk in verband met iets anders gebring of gelykgestel word aan iets anders. Vb.: “die wêreld is ’n groot blou bal”, in “Blou aarde”, Johannes Kerkorrel. Metonimia – Wanneer ons een saak in plaas van ’n ander noem op grond van ’n verhouding wat tussen die twee sake bestaan, praat ons van metonimia of oornoeming, byvoorbeeld: Verwys na die laaste sin by “Martha” se “pitkos”. Metrum – Ritmiese versmaat wat deur die aantal kort en lang lettergrepe bewerkstellig word, byvoorbeeld kap, red, los (kort) en kaap, reeds, skoon (lank). Musikaliteit – Teks wat musikale eienskappe verkry, byvoorbeeld ritme, atmosfeer, herhaling en enigiets anders wat hom daartoe leen dat die teks ook gesing kan word. Neologisme – Nuwe woord geskep deur ’n skrywer. So ’n woord is gewoonlik saamgestel uit meer as een woord of dit is ’n verbuiging van ’n bestaande woord en skep nuwe betekenis. Vb.: “langsaamaan” in “Verhaal”, Elisabeth Eybers; “onthoude” in “Kinders van die wind”, Koos du Plessis. Oeuvre – Die geheel van ’n skrywer se werk, dus alle bundels, dramas, kortverhale en prosa, soos van toepassing. Omdigting – Om uit ’n bestaande teks – fiksie of niefiksie – die poëtiese moontlikhede en/of kwaliteite te verhelder deur poësie daarvan te maak. Vb.: “die gebreekte snaar”, Diä!kwain/Antjie Krog. Omgekeerde woordorde/strofes/versreëls (ook genoem inversie) – Die woordorde/strofes/versreëls/inhoud word herhaal maar in omgekeerde orde. Dit word gebruik ter wille van rym, beklemtoon belangrike woorde, bevorder die ritme en beklemtoon ’n sentrale deel van die gedig. Strofe 3 van “Ouma Baai maak heuningbier”, George Weideman. Onomatopee/klanknabootsing – Dis die namaak van klanke in woorde. Sulke woorde help ons om in ons verbeelding ’n prentjie te vorm van die dinge, mense of plekke wat beskryf word. Soms klink ’n woord soos die geluid van die ding of handeling/aksie waarna dit verwys, byvoorbeeld kaplaks!, tjirp, brr, tiengelieng, kwêvoël, ensovoorts. Ontronding – Uitspraak van ’n klank sonder om die lippe te rond, byvoorbeeld “deer” in plaas van “deur”. Paarrym – Woorde wat aan die einde van twee opeenvolgende versreëls rym (rymskema aa bb cc). Palatalisasie – Konsonant wat só uitgespreek word dat die tongpunt teen die harde verhemelte is, byvoorbeeld “djy” en “djou”. Paradoks – ’n Stelling wat ’n teenstrydigheid bevat of skynbaar teenstrydig is met die feite.Vb.: Om die waarheid te sê moet ek lieg; dit lyk of hulle lekker begrafnis hou. Alhoewel dit lyk na ’n teenstelling, ontdek ’n mens by nadere beskouing ’n dieperliggende waarheid waarin die teenoorgesteldes versoen word. ’n Goeie voorbeeld van ’n paradoks is: Stilbly is ook ’n antwoord. Parentese – Invoeging tussen ronde hakies. Vb.: Hy (en ek dink sy vriende ook) vrees die bergpas, waar dit volgens oorlewering spook. Personifikasie – ’n Vorm van beeldspraak wanneer menslike eienskappe en handelinge aan lewelose dinge, diere of plante toegeken word. ’n Digter gebruik personifikasie sodat ’n leser kan identifiseer met die saak wat die digter in woorde wil verbeeld. Vb.: “klippe sit soes laities innie pad”, in “Delft”, Nathan Trantraal; “begin ... jong tambotie van ... digter greine praat”, in “Versoening”, Lucas Malan. Praatpoësie (ook genoem parlandopoësie) – Gebruik eenvoudige taal, gewoonlik sonder hoofletters of leestekens, om ’n ernstige saak oor te dra. Die woordkeuse daarvan is besonder na aan gesprekstaal. Sterk emosie word deur hierdie eenvoudige woorde oorgedra. Soos die benaming aandui, sou dit eweseer ’n gesprek kon wees. Dit ontbreek dié soort poësie aan stylfigure en rym en die enjambement kry voorkeur. Vertoon ook elemente van die vrye vers. Vb.: “Martha”, Ronelda S. Kamfer; “Delft”, Nathan Trantraal. Pryslied – Rymlose, strofiese gedig wat uit ’n reeks metaforiese prysinge bestaan en die persoon wat geprys word se familiegeskiedenis, biografiese inligting, historiese inligting en karakteriserende eienskappe bevat. In sommige gevalle bevat dit ook kritiek. Vb.: “(vir albertina sisulu)”, Patrick Petersen. Puntdig (ook genoem epigram) – Bondige gedig waarin emosionele oordele gevel word. Dit is meestal geestig of hekelend en die einde bevat ’n verrassende wending. Vb.: “’n Volksleier (enige eeu)”, A.G. Visser. Refrein (ook genoem koor) – Woorde of versreëls wat telkens herhaal word. Retoriese vraag – ’n Vraag wat reeds die antwoord bevat en gebruik word om iets te beklemtoon of dramatiese effek te bereik. Vb.: Weet jy hoe gelukkig jy is? Ritme – Afgemete beweging van klank waar beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe reëlmatig op mekaar volg. Ritme word gekenmerk deur beweging. Dis een van die uitstaande kenmerke van poësie, want dit organiseer die taal op ’n ongewone manier wat die leser of hoorder verras en plesier verskaf. Ritme ontstaan wanneer beklemtoonde lettergrepe (heffings) en onbeklemtoonde lettergrepe (dalings) ’n maatslag of klankpatroon skep. Hoe korter heffings op mekaar volg, hoe vinniger is die ritme. ’n Patroon van heffing/daling/heffing/daling se ritme is byvoorbeeld vinniger as ’n patroon van heffing/daling/daling/heffing/daling/daling. Dink maar aan musiek se ritme. Vinnige ritme laat jou vrolik voel, terwyl stadige, lang klanke ’n meer ontspanne of morbiede atmosfeer skep. Rym – Die herhaling van klanke wat met mekaar ooreenstem, gewoonlik in die laaste lettergreep of woord van ’n versreël. Rym is kenmerkend van die poësie. Sodoende word die klankrykheid van die gedig versterk. Dikwels het dit ook ’n klanknabootsende, sangerige funksie en dit word ook vir beklemtoning gebruik. Rym kan ook woorde verbind om die ooreenstemmende betekenis in die rymende woorde te beklemtoon. Daar is verskillende soorte rym, naamlik paarrym: aabb ccdd; omarmende rym: abba cddc; kruisrym: abab cdcd; gebroke rym: abcd edfa. Rym kom veral voor wanneer konsonante (medeklinkers) in woorde herhaal word (alliterasie) en wanneer vokale (klinkers) in woorde herhaal word (assonansie). Rym het verskillende funksies: Dit skep ’n opvallende klankpatroon; dit dra by tot die stemming/atmosfeer van die gedig; dit is klankversterkend; dit dien as bindmiddel tussen belangrike woorde en is ’n beklemtoningsmiddel: belangrike woorde word in rymposisies geplaas. Samehang – Die verband tussen woorde of begrippe wat deurlopend in ’n teks met mekaar skakel. Satire – ’n Manier om met spot die foute en dwaashede van individue of wanbestuur in ’n samelewing oop te vlek; ’n hekelende/spottende manier van kritiek lewer. Vb.: “die dag op nuweland”, Jeanne Goosen; “Doemanie”, Adam Small; “Oor monnemente gepraat”, Peter Blum. Simbool – ’n Teken/voorwerp wat ’n ander saak verteenwoordig. ’n Kruis is ’n tradisionele simbool wat na die werklikheid verwys, maar dit het ook ’n dieper betekenis omrede dit iets anders voorstel deur assosiasie, naamlik Christenskap. Vb.: Die gansveer in “Die berggans het ’n veer laat val”, Boerneef, is ’n simbool van die spreker se liefde. Sinekdogee – ’n Deel van die geheel word genoem (gedeeltelike aanduiding). Vb.: ’n Duisend voete het al hierdie paadjie geloop. / Ek het nie ’n droë draad aan my lyf nie. Sinestesie – Dis beeldspraak in die vorm van ’n metafoor of ’n vergelyking waarin die sake wat met mekaar vergelyk word tot twee verskillende gebiede van sintuiglike waarneming behoort. Dikwels word die sintuiglike waarnemings omgeruil. Vb.: Die sonskerp klanke van die viool laat my duisel. / Haar sang gee my koue rillings. / Ek proe die suikersoet strale van die son. Slengtaal (ook genoem slang of groeptaal) – Informele taalgebruik gebonde aan ’n bepaalde sosiale groep, byvoorbeeld jongmense, studente, leerders, ensovoorts. Sonnet – Klassieke digvorm, waarvan die belangrikste die volgende is: Italiaanse sonnet. Bestaan uit veertien versreëls. Opgebou uit twee kwatryne (’n oktaaf) en twee tersines (’n sestet). Daar kom ’n beeld in die oktaaf en ’n toepassing in die sestet voor. Die rymskema was oorspronklik abba, abba, cdc, dcd. Engelse sonnet. Bestaan uit veertien versreëls. Minder strak en nie so sterk uit afsonderlike dele opgebou soos die Italiaanse sonnet nie. Daar is gewoonlik een deurlopende stroom van gedagtes in die drie kwatryne wat deur die twee rymende slotreëls (koeplet) kragtig afgesluit word. Daar is dus ’n samevatting/gevolgtrekking in die koeplet. Die rymskema was oorspronklik abab, cdcd, efef, gg. Spreker in die gedig – ’n Digter maak gebruik van ’n persona of ’n spreker in ’n gedig. Dit kan ’n eerstepersoonsverteller of ’n derdepersoonsverteller wees. Dit hoef nie altyd ’n mens te wees nie; dit kan ook ’n dier, insek of selfs ’n lewelose voorwerp wees. Stemming – ’n Ingesteldheid van die gemoed, byvoorbeeld vrolik, sorgeloos, weemoedig, ensovoorts. Stereotipes – ’n Vaste (gewoonlik eensydige) siening of voorstelling van ’n soort mens, byvoorbeeld vroue, immigrante, rugbyspelers, priesters, politici, ensovoorts. Vb.: “’n Volksleier (enige eeu)”, A.G. Visser; die rugbytoeskouers in “die dag op nuweland”, Jeanne Goosen. Stylfiguur – ’n Manier om iets uit te druk sodat ’n sekere styleffek bereik word deur woorde nie in hulle normale of letterlike betekenis/funksie te gebruik nie, maar op ’n wyse wat groter krag aan die taal verleen, byvoorbeeld eufemisme, hiperbool, ironie, satire, litotes, sarkasme, metafoor en oksimoron. Taalvariëteit – Soorte taal. ’n Variëteit is een vorm van ’n taal wat sistematies van ander vorme van dieselfde oorkoepelende taal verskil, byvoorbeeld Flaaitaal, Griekwa-Afrikaans, Kaapse Afrikaans, Standaardafrikaans, ensovoorts. Teenstelling – Kyk antitese. Tema – Die sentrale idee of idees in ’n literêre of ’n ander soort teks soos ’n toespraak. Tempo – Die tydmaat of pas/snelheid waarin ’n teks/gedig verloop. Vb.: “die dag op nuweland”, Jeanne Goosen, het ’n vinnige tempo met kort klanke en sonder enige leestekens om die toeskouers se bewegings na te maak. “Djokjakarta”, I.D. du Plessis, het ’n stadige tempo met lang klanke om by die weemoedige stemming aan te pas. Tipografiese wit – Spasie. Die wit in en om ’n gedig het nie altyd ’n spesifieke betekeniswaarde nie. Dit dien meestal as ’n formele skeiding tussen strofes. ’n Lang, wit inkeping by ’n versreël kan ’n besondere uitheffingsfunksie hê. ’n Dubbelspasie (of meer) tussen woorde in ’n versreël kan die ritme en tempo van die versreël beïnvloed en vir beklemtoning gebruik word. Toon – Die bepaalde hoogte van ’n klank of stembuiging wat ’n gevoelsboodskap kan oordra, byvoorbeeld rustig, woedend, vrolik, somber. “Kinders van die wind”, Koos du Plessis, het ’n droewe toon om by die weemoedige inhoud aan te pas, so ook “Die soldaat”, Uys Krige, om by die uitgestrektheid en eindeloosheid te pas. “Die dans van die reën”, Eugène N. Marais, het weer ’n vrolike toon om by die feestelikheid van die inhoud aan te sluit. Toonset – Musiek vir ’n gedig skryf. Universaliteit – Insig/perspektief/siening/waarde wat saak onder bespreking belangrik maak vir meer as net nou en hierdie een saak. Vergelyking – ’n Stylfiguur waarin dinge wat ooreenstem, naas mekaar gestel word om die ooreenkomste uit te lig. Twee dinge wat sekere ooreenkomste met mekaar het, word verbind deur woorde soos die volgende: soos, nes en net soos. Die twee sake kan van verskillende of uiteenlopende aard op grond van enkele ooreenkomste met mekaar vergelyk of selfs gelykgestel word. Vb.: “ons moes soos sonnelose gras verdwyn” uit “Na die myninstorting”, D.J. Opperman. Vers- en strofebou – In ’n gedig word sinne versreëls genoem. ’n Versreël is ’n enkele reël wat apart in ’n gedig afgedruk staan. Versreëls word saamgegroepeer as strofes deurdat hulle met ’n spasie van ander strofes geskei word. ’n Strofe is dus ’n eenheid van versreëls. Ons kry die volgende soorte strofes: koeplet – ’n strofe wat uit twee versreëls bestaan. kwatryn – ’n strofe wat uit vier versreëls bestaan. oktaaf – ’n strofe wat uit agt versreëls bestaan. tersine – ’n strofe wat uit drie versreëls bestaan. Verstegniese middele – Alle middele wat aangewend word om die gedig te skep en nie noodwendig in ander genres gebruik word nie, byvoorbeeld rym, ritme, stylfigure, strofes, versreëls. Voor- en agterplasing – Belangrike woorde word voor of agter in ’n sin of versreël geplaas deur die woordorde van die sin te verander ter wille van beklemtoning/uitheffing. Vrye vers – ’n Versvorm wat aan die digter vryheid gun om nie die gedissiplineerdheid van ’n vaste rymskema te handhaaf nie, maar daar is tog ander onderskeidende elemente wat die digvorm vereis. Daar is bepaalde skakels wat die versreëls en die strofes aan mekaar bind: •Woorde word dikwels aan die begin van versreëls herhaal. •Herhaling van dieselfde klanke kort ná mekaar is ’n belangrike bindingsmiddel van woorde, gedagtes en die gedig as geheel. •’n Vaste, ritmiese reëlmaat kom nie voor nie, maar jy sal tog ’n bepaalde ritme aanvoel wanneer jy die gedig lees. •Versreëls en strofes wissel in lengte. •Digters gebruik dikwels die opnoemtegniek, met ander woorde die letterlike opnoem van dinge in die gedig. •Dikwels bestaan die hele gedig uit net een sin. Vb.: “die barbaar”, T.T. Cloete; “Vir Sara Baartman”, Diana Ferrus. Woordspeling – Wanneer ’n skrywer grappenderwys die verskillende betekenisse van woorde gebruik, noem ons dit woordspeling. Dit word veral in literêre werke gebruik en ook in visuele tekste soos spotprente. Deur woordspeling wil die skrywer die leser verras en daarop wys dat sekere woorde op verskillende maniere gebruik kan word en dikwels misleidend kan wees. Vb.: “die bom” in “(vir albertina sisulu)”, Patrick Petersen; “doppie” in “’n Doppie op Malmesbury”, Mathews Phosa; “herken” in “Na die front”, Ernst van Heerden. Erkennings Dank aan die volgende digter wat toestemming verleen het vir die opname van die volgende gedigte wat nog nie in bundels verskyn het nie: Cilliers, Charl J.F., “die tak vol bloeisels” en “droë weerligstraal”, LitNethaikoekompetisie. Dank aan die volgende uitgewerye vir gedigte uit die volgende bundels geneem: Blum, Peter, “Oor monnemente gepraat”, Steenbok tot Poolsee, Nasionale Boekhandel; Boerneef, “Die berggans het ’n veer laat val”, Versamelde poësie, Tafelberg; Bosman, Martjie, “Verskroeide aarde”, Landelik, Protea Boekhuis; Cloete, T.T., “die barbaar”, Heilige nuuskierigheid, Tafelberg; De Vos, Philip, “’n Vrou van die dorp Clocolan”, Die Worcester Asporcester, Tafelberg; Diä!kwain / Krog, Antjie, “die gebreekte snaar”, die sterre sê ‘tsau’, Kwela; Du Plessis, I.D., “Djokjakarta”, Mens en ster, Tafelberg; Du Plessis, Koos, “Kinders van die wind”, Kinders van die wind, Tafelberg; Eybers, Elisabeth, “Verhaal”, Versamelde gedigte, Human & Rousseau, Tafelberg; Fagan, H.A., “Nkosi sikelel’ i-Afrika”, Soos die windjie wat suis, Nasionale Pers; Ferrus, Diana, “Vir Sara Baartman”, Ons Komvandaan, Diana Ferrus Uitgewery; Goosen, Jeanne, “die dag op nuweland”, ’n Uil vlieg weg, Tafelberg; Hugo, Daniel, “Namiboloog”, Buitekamerklanke, Perskor; Januarie, Hendrik, “Noue ontkoming”, Nagjakkals, Human & Rousseau; Jonker, Ingrid, “Toemaar die donker man”, Versamelde werke, Human & Rousseau; Kamfer, Ronelda S., “Martha”, grond/Santekraam, Kwela; Kerkorrel, Johannes, “Halala Afrika” en “Blou aarde”, Tusk Music; Krige, Uys, “Die soldaat”, Versamelde gedigte, J.L. van Schaik, Human & Rousseau, Perskor; Leipoldt, C. Louis, “Wys my die plek”, Versamelde gedigte, Tafelberg; Louw, N.P. van Wyk, “Winter”, Versamelde gedigte, Tafelberg, Human & Rousseau; Louw, W.E.G., Uit “Vier sonnette”: “Maria”, Versamelde gedigte, Tafelberg; Malan, Lucas, “Versoening”, Tydspoor, Tafelberg; Marais, Eugène N., “Die dans van die reën”, Versamelde werke II, Human & Rousseau; Marais, Johann Lodewyk, “bloubok”, Verweerde aardbol, Human & Rousseau; Olivier, Fanie, “besoekersboek”, Skimmellig, Human & Rousseau; Opperman, D.J., “Edms. Bpk.” en “Na die myninstorting”, Versamelde poësie, Tafelberg, Human & Rousseau; Petersen, Patrick “(vir albertina sisulu)”, Aankoms uit die skemer, Genadendalse Drukkery; Philander, P.J., “Vir die wis en die onwis”, Ostrakon, Perskor; Phosa, Mathews, “’n Doppie op Malmesbury” en “’n Baadjie met ’n gaatjie”, Deur die oog van die naald, Tafelberg; Pieterse, H.J., “Mapungubwe I”, Die burg van hertog Bloubaard, Tafelberg; Rousseau, Ina, “Kersfees 1996”, Die stil middelpunt, Human & Rousseau; Small, Adam, “Doemanie”, Kitaar my kruis, HAUM Literêr; Snyders, Peter, “Moedertaal”, ’n Waarskynlike mens, Unison; Spies, Lina, “Lied van die kinders”, Die skyn van tuiskoms, Human & Rousseau; Stockenström, Wilma, “Koichab se water”, Spieël van water, Human & Rousseau; Toerien, Barend, “Verliese V”, Verliese en aanklagte, Human & Rousseau; Trantraal, Nathan, “Delft”, Chokers en survivors, Kwela; Van den Heever, Toon, “In die Hoëveld”, Eugène en ander gedigte, J.L. van Schaik; Van Heerden, Ernst, “Na die front”, Op die mespunt, Nasionale Boekhandel; Visser, A.G., “’n Volksleier (enige eeu)”, Versamelde gedigte, Tafelberg; Weideman, George, “Ouma Baai maak heuningbier”, ’n Staning onder sterre, Tafelberg. Bibliografie Beyers, C.J. (hoofred.). 1987. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Deel V. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Grové, A.P. 1975. Woord en Wonder: inleidende studie oor die tegniek van die poësie. Goodwood: Nasou Beperk. Hambidge, Joan. 2013. “Chokers en Survivors: Kaaps en in your face.” LitNet, 3 Julie. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2004/11/13/BY/13/01.html http://versindaba.co.za/ http://www.literaryterminology.com/ http://www.litnet.co.za/Category/atkv-skrywersalbum http://www.nb.co.za/authors/510 http://www.oulitnet.co.za/poësie/hugo_namibie.asp http://www.rapport.co.za/XArchive/Perspektief/O-koud-is-die-windjie-en-skraal20050326 https://www.google.co.za/ q=wikipedia Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I. Kaapstad en Pretoria: Academica. Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II. Kaapstad en Pretoria: Academica. Kannemeyer, J.C. 1988. Die Afrikaanse Literatuur 1652–1987. Kaapstad: Human & Rousseau. Le Cordeur, M.L.A. 2011. “Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit – ’n sosiokulturele perspektief.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Vol. 51(4). Desember. Le Cordeur, M.L.A. 2011. “Moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys: ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se geletterdheids- en syferkundigheidsprobleme.” LitNet Akademies. Vol. 8(3). Desember. Malan, Lucas; Viljoen, Henk; Stevens, Heleen; Vosloo, Catrina, en Lamprecht, Rina. 2008. Versjoernaal: nuwe benadering tot poësie. Pretoria: Best Books. Naudé, Charl-Pierre (samest.). 2006. My ousie is ’n blom. Plumstead: Snailpress. Odendaal, G. 2014. “Moet ons herstandaardiseer?” Referaat gelewer by die simposium Afrikaans: almal se taal! 17 Januarie, Suid-Afrikaanse Onderwysunie, Garsfontein. Odendal, F.F. en Gouws, R.H. (reds.). 2009. Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Pinelands: Pearson Education South Africa. Pheiffer, Fred (red.). 2007. Pharos Kernwoordeboek. Kaapstad: Pharos Woordeboeke. Van Rensburg, Christo. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: Lapa. Willemse, Hein. 2008. “Afrikaans Onbeperk – die lewensbydrae van Patrick J. Petersen.” http://www.thefreelibrary.com/Afrikaans+Onbeperk-die+lewensbydrae+van+Patrick+J.+Petersen.-a0182614389 Moontlike antwoorde op kontekstuele vrae Peter Blum – Oor monnemente gepraat 1.c. Die Voortrekkermonument. 2.Die spreker kan sien wat uitgebeeld word en die figure is herkenbaar. 3.Daar is standbeelde van Andrew Murray, Jan-Hendrik Hofmeyr, Jan van Riebeeck, Cecil John Rhodes en koningin Victoria. 4.Italiaanse sonnet. In die eerste agt versreëls word die Pretoriase monument beskryf en in versreël 9 kom ’n wending, waarna hy die Kaapse standbeelde beskryf. 5.Nee, die spreker beoordeel die monumente vanuit sy belewingswêreld en só beskou, is dit vir hom gewoon meer aanvaarbaar as die Voortrekkermonument. OF: Ja, die spreker is deeglik bewus van die monumente se historiese waarde en hy dryf die spot daarmee, omdat dit nie vir hom waardevol is nie en bowenal opgerig is met die arbeid van mense vir wie dit net negatiewe inhoud het. Boerneef – Die berggans het ’n veer laat val 1.In Wuppertal. Die berggans se veer het daar geval, so hy moet daar wees om dit te kan optel. 2.b. liefde. 3.Dit suggereer ’n paartjie wat verlief is. Die berggans neem gewoonlik net een maat. 4.Die kort “a”-klank assoneer in “val”, “Woeperdal”, “hart”, “al” en die lang “a”-klank in “berggans”, “krans” en “staan”. Dit skep ’n versugtende en verlangende atmosfeer wat ooreenstem met die spreker se verlange. Dit is ’n sagte klank en versterk die gevoel van verlange. 5.Dit is die veer van ’n voël uit sy kontrei en die geliefde sal dit dus herken as iets wat van hom kom. Martjie Bosman – Verskroeide aarde 1.Die Anglo-Boereoorlog. 2.a.Drie. b.Versreëls 1–5 vertel die lotgevalle van die gesin; versreëls 6–8 van die huis en die grafte; versreëls 9–12 van die erfenis en die gevolge van die oorlog. 3.Dit verwys na stukke, daarmee word ook “stukkend” geïmpliseer. Ná die oorlog was daar net stukke oor van families, eiendom, trots, lewe en eiendom. 4.Sy is as kind na die konsentrasiekamp en moes vernedering, verlies van eiendom en geliefdes verduur. Ná die oorlog het die mense baie swaar gekry en moes hulle van voor af begin. Hoewel sy minder erfgoed kon nalaat, het sy haar nageslag die woorde van bitterheid laat erf. 5.“agterhaal”, “Vaal” en “hospitaal” – dui op die besittings wat hulle gehad het. “Beroertemond” en “familiegrond” – die oorsaak van die smaad en hoon. “Hoon” en “bewoon” – die grond word óf nie meer deur die familie bewoon nie en daarom die hoon, óf die familienaam word nie voortgedra op die plaas nie omdat die broer wat die naam moes dra in die kamp dood is. Charl J.F. Cilliers – die tak vol bloeisels 1.Die skadu. 2.a.Ja, dit is ’n haikoe, want dit bestaan uit drie versreëls. b.Nee, dit bestaan uit sewentien lettergrepe en die tradisionele haikoe bestaan uit vyftien lettergrepe. 3.bloeisels (vrolikheid van nuwe lewe, son, lente) en skadu (donker, somberheid) / bloeisels (sag, vergaan gou) en muur (hard, hou lank) / tak (vol krulle, vergaan gou) en muur (reguit of ronde vorm, hou langer) / bloeisels (kom slegs een maal per jaar in die lente en kondig verandering aan) en eentonig (verander nooit). 4.Dit gaan oor bloeisels wat in die lente verskyn en dit handel dus oor iets wat met die natuur verband hou. Laasgenoemde is ’n eienskap van die tradisionele haikoe. 5.Dit laat my koud, omdat dit nie veel vat om so min te skryf nie. OF: Dit het my laat besef hoeveel vernuf die digter aan die dag moet lê om met so min woorde so baie te sê. Charl J.F. Cilliers – droë weerligstraal 1.b.’n metafoor. 2.Die rivierbedding bly droog en dit lyk soos vel wat verrimpel het, omdat die sand riwwe gemaak het toe die rivier nog geloop het. 3.Die “r”-klank oorheers, omdat dit die meeste voorkom. 4.Dit boots die kraakgeluid van ’n weerligstraal na, asook die girtsgeluid van droë sand in ’n rivierbedding. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord. T.T. Cloete – die barbaar 1.Hy is netjies, lees koerante en vlieg nie in die duurste klas, naamlik besigheidsklas, nie. 2.Sy foto’s verskyn in die media, hy lei optogte en die mense doen wat hy sê (versreëls 5–7), hy is voorsitter van komitees en organisasies (versreël 20). 3.“voor tot agter” (versreël 3). 4.Dit suggereer dat alle mense eintlik eenders is en dat uiterlike tekens jou nie verfynd maak nie. Al die tekens van aansien en rykdom word sonder beletsel as ’t ware ingeryg, daar is dus geen keer aan alles wat die barbaar besit en doen nie. Al wat hy eintlik het, is ’n reeks “regte dinge”. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord wat van onafhanklike denke getuig. Philip de Vos – ’n Vrou van die dorp Clocolan 1.b.Clocolan. 2.Sy hoop werklikwaar daar kan iets van die verhouding kom en die enigste manier om hom dalk te sien, is met behulp van die teleskoop. Dus ’n eensydige, hopelose verhouding. 3.Sy is moedeloos oor haar hopelose en eensydige liefde. 4.Mense wat bewondering het vir iemand met wie daar nooit ’n verhouding kan wees nie: dalk iemand in die vriendekring wat nie eens bewus is van dié aandag nie, of ’n openbare figuur. (Enige aanvaarbare antwoord.) 5.Reaksie sal sekerlik wissel. Ek het daarvan gehou, dit is prettig en ek ken mense wat so is. OF: Ek dink dis sommer laf en onmoontlik. Diä!kwain / Antjie Krog – die gebreekte snaar 1.a.Mense het dit gebreek. 2.a.“die plek voel asof dit sommerso oopstaan” (versreël 13). b.Met sy boogsnaar gebreek, beteken vryheid ook nie vir hom veel nie, want ’n jagter sonder ’n bruikbare boog is sy naam nie werd nie. 3.“trillende”. ’n Musiekinstrument se snare tril ook. 4.“vir my” word ses keer gebruik in ’n vers van net sewentien reëls. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord. I.D. du Plessis – Djokjakarta 1.Hy het nie die batikdoek in sy omgewing gekoop nie, maar “gaan haal”. 2.Dit is nie moontlik dat die spreker duisend jaar gelede in Djokjakarta kon wees nie, want geen mens kan so lank leef nie. 3.Die “k”- en “t”-klanke allitereer in “Djokjakarta” en “batikdoek”. 4.In hierdie kwatryn is die rympatroon abab en in die tradisionele kwatryn is dit aaba. 5.Dit is bloot toevallig of ouderwets en het nie ’n funksie nie. OF: Die spreker wil daarmee die kwatrynvorm beklemtoon en/of elke versreël skei sodat die geliefde besef hoe hy die besonderhede onthou. OF: enige ander goed gemotiveerde antwoord. Koos du Plessis – Kinders van die wind 1.Strofes 3 en 5. 2.Dit handel oor iets wat oud en vergete is. 3.Dit vat die kern van die vers saam, naamlik soekers wat nooit vind, is ’n baie ou verhaal. Die ellips skep afwagting en vra om voltooi te word, maar die vers gaan juis daaroor dat dit nie voltooi kan word nie. 4.Strofe 2: ’n Deuntjie wat bly terugkeer, word vergelyk met grepe uit ’n ou verhaal. Strofe 4: Gesigte, drome en name word vergelyk met iets wat deur die wind verwaai kan word, byvoorbeeld ’n boom, hare en gras. 5.Enige van die volgende: sinisme, weemoed, verlies en rigtingloosheid. Elisabeth Eybers – Verhaal 1.Dit gee ’n letterlike beeld van hoe die aarde draai en dui aan dat tyd verloop het. 2.“Langsaamaan” is afgelei van “langsaam” en “stadigaan”. Dié woord is ’n neologisme en neologismes geniet altyd vanweë die ongewoonheid daarvan meer aandag. Die digter beklemtoon hiermee die tydsaamheid sowel as die onvermydelike voortgang van wag. 3.Die seisoene gaan verby, met ander woorde baie tyd verloop. Groen is ’n simbool van nuwe lewe, dus die hoop waarna in versreël 10 verwys word. Vaal is ’n simbool van uitsigloosheid, dus die wanhoop waarna in versreël 10 verwys word. 4.Dit skep afstand op die wagtyd in die gedig asof die spreker nie meer deel is daarvan nie. Omdat dit in die verlede tyd vertel word, verteenwoordig dit ’n agternaperspektief, want hierdie vrou het reeds insig verkry in wat van wag word. 5.stilte en krag. H.A. Fagan – Nkosi sikelel’ i-Afrika 1.Die lied klink so mooi dat hy elke oomblik daarvan wil beleef. Dis ’n gebed. 2.“soos ’n serafskoor / val daar stemme strelend”. Die sang is so mooi dat dit hom aan ’n engelekoor laat dink – te mooi om waar te wees / verhewe / heilig. 3.a.abba acca adda aa. b.Die “a”-rymklank kom dwarsdeur die gedig voor. Gewoonlik is dit tot die eerste kwatryn beperk. c.Op hierdie manier word Afrika herhaal en deur die ander “a”-klanke ondersteun, herhaal, geëggo. 4.Saam met die vertaling daarvan beklemtoon dit die belangrikheid van God se seën vir die baie volke/kulture in die land. 5.Ek is een van die mense wat in hierdie land saam met vele volkere leef. Dit is moontlik om in vrede saam te leef, maar dan moet ons mekaar respekteer en vir mekaar bid. Enige ander goed gemotiveerde antwoord is ook aanvaarbaar. Diana Ferrus – Vir Sara Baartman 1.b.graf. 2.In strofe 2 word vertel van die onmenslike behandeling wat Sara te beurt geval het, hoe sy bespot is en haar liggaam gedissekteer is. In strofe 3 word Sara vertroos en haar skoonheid besing. Strofe 2 gaan oor die boosheid in die mens wat wil verneder en homself hoër as ’n ander beskou; strofe 3 oor die edelheid in die mens wat wil vertroos en eer betoon. 3.Dit dien om Sara by herhaling te verseker dat sy nie meer alleen in ’n vreemde land is nie. 4.“Bed” en “berei” allitereer, asook “poteas” en “pronk”, wat musikaliteit aan die versreël verleen. 5.Sara is deur Europeërs na Europa geneem en daar ten toon gestel vir daardie mense se vermaak. Eeue later het mense ingesien hoe onmenslik dit was en is haar oorskot aan haar land van herkoms teruggegee. Só is vrede vir die mense van Afrika en vir Sara bewerkstellig, al was dit ná haar dood. OF: enige ander goed gemotiveerde antwoord. Jeanne Goosen – die dag op nuweland 1.Dit lyk asof die spreker aan die begin deel voel van die skare, maar soos die wedstryd al hoe meer barbaars word, distansieer sy haar van die ander toeskouers. 2.Sy vergelyk die spelers met aasdiere omdat hulle “soos gestreepte haaie rondduik” en “na mekaar se boudvleise hap”. Hulle gryp met “toenemende venyn” na mekaar en alles word later “bloederig”. Die “stukkende” held word afgedra. 3.Die spreker dryf eintlik die spot met die Suid-Afrikaanse publiek se beheptheid met rugby. Wat vir sommige mense ernstig is, word belaglik gemaak deur die beskrywings, byvoorbeeld dié van die “gestreepte haaie” en die mense wat soos “mannetjies” op en af spring. Terwyl die wedstryd in alle erns sy loop neem, doen die toeskouers oppervlakkige dinge soos grondboontjies kou en mansokkies brei. Die meisie wat mansokkies brei, skep ’n koddige teenstelling terwyl die mans op die veld soveel brute manlikheid vertoon, want die dra van gebreide sokkies sou as onmanlik beskou kon word. 4.Sy let allerhande klein besonderhede op die pawiljoen op wat nie verband hou met die wedstryd nie. Daar word net soveel ruimte en verteltyd aan dié besonderhede as aan die wedstryd afgestaan. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord. Daniel Hugo – Namiboloog 1.Hy skryf die woord in die verkleiningsvorm: “nagdiertjies”. 2.Hy vang die diertjies snags, want dit is nagdiertjies en hy spuit hulle met formalien in. 3.Enige twee van die volgende: In strofe 1 jag die insektekundige nagdiertjies en in strofe 2 jag die sterrebeeld, die Skerpioen, in die uitspansel. / In strofe 1 kyk die namiboloog deur ’n mikroskoop na diertjies en in strofe 2 kyk hy by die sterrewag deur ’n teleskoop na die sterre. / In strofe 1 word die lewe op aarde deur ’n mikroskoop bestudeer en in strofe 2 word die buitenste ruimte deur ’n teleskoop bestudeer. / In strofe 1 word ’n baie klein vorm van lewe bestudeer en in strofe 2 ’n ontsaglike heelal. 4.Hy gebruik enjambement (versreëls 5–6), paarrym (versreëls 5–6), alliterasie van die “s”-klank in “snags”, “Gamsberg se sterrewag”, “sekuur”, “Skerpioen”, “uitspansel” en assonansie in “snags”, “Gamsberg se sterrewag”, “Skerpioen”. 5.Hoewel daar ’n groot verskil is tussen nagdiertjies vang en inspuit en kyk na sterrebeelde in die heelal, laat die enjambemente hierdie aktiwiteite sonder leestekens inmekaarvloei. Dit skep die indruk dat die namiboloog nie bewus is van die verskil tussen hierdie uiteenlopende aktiwiteite nie. Hendrik Januarie – Noue ontkoming 1.a. water. 2.Die grot is ’n oorhang, want daar is ’n koepel bokant die rots. Daar is figure teen die rotswand geskilder. 3.Dit kan daarna verwys dat die spreker met ’n doel gestap het om hierdie grot te bereik. Dit kan egter ook verwys na land, in die sin dat die spreker hom nie op water bevind nie en dus veilig voel teen die bedreiging van ’n vloed. 4.“oorkoepel” en “skulp”. 5.Ja, dit beïnvloed my interpretasie omdat die digter daardie traumatiese gebeure altyd sal onthou en vloedgebeure makliker sal herken as iemand wat nie ’n vloed beleef het nie. OF: Nee, die digter is nie die spreker in die gedig nie, die spreker is ’n anonieme instansie wat ongeag sy persoonlike omstandighede en kennis ’n universele boodskap oordra. Ingrid Jonker – Toemaar die donker man 1.a. donker. 2.Dit is donker om die kind en die maan sit hoog, in die donker se “hare”. 3.Die kind se spreekbeurt word telkens deur alleenplasing en inkeping van die ma s’n onderskei. 4.Die “s”-klank word beklemtoon deur alliterasie van “Sy”, “Sjuut”, “Slaap” en die “v”-klank in “Vergeet”, “van”, “Vaak”. Die “s” kom hoofsaaklik voor in woorde wat met slaap geassosieer word en die sagte “v”-klank skep rustigheid. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord. Ronelda S. Kamfer – Martha 1.Nee, sy is nie die enigste kind nie, want sy verwys na haar ma se “ander kinders” (vs. 10). 2.Sy verwys na haar pa as “my pa” (vs. 6–7) en “haar (my ma se) … man” (vs. 9–10). 3.Emosie van verlatenheid en vrees. 4.Nee, die Bybelse Martha was ’n sterk vrou wat nie sou toelaat dat haar man haar slaan nie. OF: Ja, die Bybelse Martha het ook huishouding baie ernstig opgeneem soos hierdie ma wat vinnig huis toe stap, al weet sy wat tuis vir haar wag. Martha in die gedig het Jesus ook lief, want sy was by die biduur. 5.Ja, ek voel digters behoort nie hieroor te skryf nie, want dit is te hartseer. OF: Nee, ek voel digters behoort hieroor te skryf, omdat dit mense laat verstaan hoe swaar kinders onder huishoudelike geweld ly. Johannes Kerkorrel – Halala Afrika 1.kos en water. 2.“om te tonnel in die aarde” (versreël 32). 3.Die mans wat in die myne werk, is weg van die huis af. Maar daar is die hoop dat hulle sal terugkeer, dat die land weer vry sal wees vir almal. 4.In die eerste strofe was die wêreld oop en wyd, in die laaste strofe is dit toegespan met doringdraad. In die eerste is daar vryheid van beweging en die roepstem van die vrou wanneer die beeste huis toe kom. In die laaste strofe is daar nou net stilte, die dierelewe is uitgeroei. 5.Aan die begin was die wêreld oop en wyd en elkeen het sy gang gegaan. Maar toe kom die mense uit die Weste met hulle skepe hier aan. Eers wou hulle net kos en water hê en daarvoor het hulle net met koperdraad betaal, maar toe lê hulle beslag op die land, ontgin die rykdomme, maak wette om die oorspronklike inwoners in te kamp en te verslaaf en jag die diere. Alles word afgekamp en ingekamp. Johannes Kerkorrel – Blou aarde 1.Enige twee van die volgende: Ritme word bevorder deur verskeie versreëls wat met “en” en “niks kan” begin (beginrym) en só ’n reëlmaat skep. ’n Vaste rympatroon ontbreek, maar deur assonansie en alliterasie aan die einde van die versreëls word ritme geskep: in vs. 1–3: nou / brontosourus / oerwoud; vs. 5, 7, 9: gekom / wonde / ongeskonde; vs. 6–8: tyd / uit; vs. 10–11: bal / val; vs. 13, 15, 16: gelaat / taal / verstaan; vs. 17–18: nie / nie; vs. 19–22: hakekruis / los / sekel / sandwoestyn; sandwoestyn / hande / sand; vs. 26–27: bal / val; vs. 31–33: praat / verstaan; vs. 32, 34, 35: wees / wees / gee (asook enige ander voorbeelde van alliterasie en assonansie). Vs. 10–14 word in vs. 26–30 herhaal en vorm só ’n refrein. 2.Die sentrale gedagte is dat die mens sy medemens en die aarde skade aandoen en tog nie bekommerd is daaroor nie, want die mens is onverbonde ten opsigte van ander mense en die aarde. (Of enige soortgelyke verduideliking.) 3.Hy beklemtoon die stilte en die twee weerlose kinders wat mekaar se taal nie verstaan nie. 4.Alles wat in die voorafgaande twee versreëls voorkom, hoort tot die verlede. 5.Ja, daar is, want daar is die toenemende moontlikheid van kommunikasie en begrip vir mekaar en die mensdom: van ’n oomblik se verstaan van mekaar (strofe 2), na ’n oomblik van mekaar se taal praat tot by die hoop dat dit eendag beter sal wees en ons dan sal kan verstaan (strofe 4). Uys Krige – Die soldaat 1.c.Fort Wajier. 2.dorre verlatenheid, vaal wêreld, vae omlyninge, stofpad. 3.a.Die gebied waarin die soldaat loop, word in fyn besonderhede beskryf, maar eers in die slotreël van die strofe word “soldaat” genoem. b.Alliterasie kom voor in die beskrywing van die woestyn: verlatenheid, veryl, vervloei, vae, verloor, valer, stofpad. c.Die enkele soldaat, net een mens, word teen die enorme woestynagtergrond geplaas. d.“Alleen” en “stap” is albei alleen in ’n versreël geplaas en dit sluit aan by die “’n enkele soldaat” in vs. 9. 4.In die koeplette val die skaduwee van die soldaat eers oor die pad, dan oor die woestyn, dan oor Afrika en in die tersine val dit oor die wêreld. 5.a.Om ’n soldaat te wees kan goed én sleg wees, want jy bring bevryding en verwoesting. C. Louis Leipoldt – Wys my die plek 1.gestaan, gekniel, gehoop. 2.a.Hulle was skynbaar dikwels saam in die natuur, want “Wys my die plek” word in elke strofe herhaal en daar word verwys na die “silwer see” en die “hemel, blou” wat nog dieselfde is. b.Hulle verhouding het verander. 3.Die spreker boet omdat hy die verhouding onthou – omdat hy nie vergeet het nie. 4.In strofe 1 het hulle saam gestaan, maar toe het die verhouding begin taan, in strofe 2 het hulle saam gekniel, want toe is hulle deur dieselfde dinge besiel en in die derde strofe het hulle saam geloop en gehoop, maar hoop sluit aan by taan en dit lyk of alles toe nie meer pluis was in die verhouding nie. 5.b.Die een wat aanhou liefhê, kry die seerste. N.P. van Wyk Louw – Winter 1.reën, wit mistigheid, suising. 2.nagtelang, daeliks, middag, somer. Hierdie groei wat as ’t ware in die donker begin en in die duister voortgaan deur die dae, slaan op ’n middag uit op pad na die somer wat gewoonlik as die groeiseisoen beskou word. 3.Dis oop, die son skyn, mens kan nou weer ver sien, tot teen die bult. 4.vog en vrugbaarheid en groot verlange. Die woorde met die “v”-klank is die voorwaarde wat nodig is dat groei kan plaasvind. Maar die “g”-klanke bind dié woorde wat hierdie werking wat plaasvind, bevat, nog sterker saam. 5.Woorde met lang vokale en oop lettergrepe word gebruik, soos: lê, aarde, week, genade, reën, skemer, huise, daeliks, bleek, suising, heen. Die effektiewe gebruik van die enjambemente aan die einde van vs. 1 en 3 dra daartoe by dat die tempo verlangsaam. W.E.G. Louw – Maria 1.Sy was in ’n tuin en sy het ’n engel ontmoet. 2.Strofe 1: Maria loop deur die tuin toe sy meteens die engel sien. Strofe 2: Hierdie strofe beskryf haar reaksie op die engel en haar besef dat hy buitengewoon groot is. Sy was eers skaam en toe bang, maar hy het direk na haar bly kyk. Strofe 3: Die boodskap word aan Maria oorgedra en die engel verdwyn weer. Strofe 4: Maria besef wat die engel se boodskap beteken. 3.Enige geskikte antwoord wat wys dat die leerder die uiterlike en innerlike bou van die sonnet verstaan, byvoorbeeld: Dit bestaan uit twee kwatryne en twee sestette. Die sonnet se rymskema – abab cdcd efg efg – is tipies van die Italiaanse sonnet. Die beeld wat in die oktaaf geskep word, naamlik die engel se verskyning, beleef ’n wending in die sestet deurdat hy sy boodskap bring, waarna hy verdwyn en Maria die implikasie van sy woorde besef. 4.Dit isoleer as ’t ware hierdie woorde en só word die engel se stralende voorkoms beklemtoon. 5.Ja, ek beskou haar as diep gelowig, want hoewel dit in Bybelse tye ’n skande was wanneer ’n ongetroude vrou swanger raak, het sy die smaad en die vreugde daarvan gewillig aanvaar. OF: enige goed gemotiveerde ander standpunt. Lucas Malan – Versoening 1.a.Olienhout, tambotie en kiaat. b.Plasie by Pelgrimsrus, opbrengs, hawer nooit gesaai nie, saad gestort. Vergange. 2.“Jy” word aan die begin van twee opeenvolgende versreëls gebruik, wat daaraan amper ’n vingerwysende hoedanigheid verleen. “Raas” en “skaaf” beklemtoon die aksies waaraan die pa hom skuldig maak. En hierdie handeling duur voort oor dinge wat ver in die verlede lê. 3.“Jy skaaf so aan ’n kwas”. As in ag geneem word dat ’n houtkwas ’n baie harde stuk in die hout is, beteken dit dat wanneer die pa ongelukkig was oor ’n saak, hy aanhou karring het oor sake wat reeds lankal afgehandel was en waaraan niks verander kon word nie. 4.“begin / die jong tambotie en kiaat / al elke somer lustiger / van swaar en digte greine praat”. Hier is jong bome ter sprake en dit verwys waarskynlik na die spreker se kinders. “Praat”, wat die menslike eienskap in die personifikasie is, is ook die slotwoord in die gedig. Dit sou dalk die oplossing en voorwaarde vir versoening wees, maar daarvoor is dit nou te laat, want die pa is reeds dood. 5.Die tweede en vierde versreël van elke strofe rym. Hierdie rymwoorde het elke keer ’n sinvolle semantiese inwerking op mekaar. So rym “kis” met wat vergete “is”; “Pelgrimsrus” met “verkwis”; “geword” en “gestort” en “kiaat” met “praat”. In strofe 2 is daar ook die effek van kruisrym: “bome” en “drome” en die assonansie van gaaf en saag. Eugène N. Marais – Die dans van die reën 1.Dit is ’n huweliksfees, want daar word verwys na ’n huwelik en die suster is mooi aangetrek, soos ’n bruid. 2.a.Die vaal karos is ’n reënbui wat uitsak; die “vaal” beskryf die reën se kleur. b.Die vuurpluim verwys na die berggier/berghaan (Terathopius ecaudatus) se helderrooi snawel wat soos vuur lyk en dit word vergelyk met die rooi wat soms in weerlig te sien is. 3.a.“en sy lag saggies”, “saggies roep sy”. b.“van ver af wink sy met die een hand”. c.“haar krale skud”, “die sleep van haar voete”. d.“haar fyn spore op die sand”, “sy sprei die vaal karos met altwee arms uit”. e.“die asem van die wind raak weg”. 4.In strofe 1 en 4 word die reën beskryf en in strofe 2 en 3 word die wild se reaksie beskryf. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord. Johann Lodewyk Marais – bloubok 1.Hy wil dit voor 400 n.C. in die Kaapse vlaktes laat gebeur. 2.Die mens skiet diere onnodig: “skiet en skiet om trofeë op die voorstoep te hang”, “geweerskote sou klap”. 3.Ja, dit word klanknabootsing. Die gebruik van die “s”-klank boots die suisgeluid van ritselende gras na terwyl die bok daardeur draf: “se”, “sagte gras”, “sy spore”, “vlaktes”, “slegs”, “taksidermie”, “vers”. 4.Mense het die bloubok so gejag dat hy uitgesterf het. Toe mense die binneland ingetrek en daar begin woon het, het hulle plase die bokke se habitat versteur en hulle het die bokke geskiet. 5.Enige van die volgende: Ja, dit het my bewustheid van die aarde se toestand verskerp en ek is baie geraak deur die besef dat ’n mooi dier soos die bloubok as gevolg van die mens se onverantwoordelikheid nie meer lewe nie. Nee, dit het nie my gevoel verander nie, want die bloubok leef net in die gedig en kan nooit in die werklikheid herleef nie. Fanie Olivier – besoekersboek 1.Gevangenisse, duikweë, stasies, onder brûe, die Gideonsbybel. 2.b.die lewe. 3.Graffiti is uit die moderne tyd en die ander kom uit die Antieke tyd. 4.Dit maak al die woorde eenders soos die dood mense eenders maak, omdat alle mense moet sterf. 5.Ja, beslis, want hy noem drie verskillende vorms van graffiti in die drie kwatryne en dan gebruik hy die koeplet vir die dramatiese hoogtepunt en persoonlike deel van die gedig. Hy beklemtoon ook belangrike woorde deur die tipiese rymskema van die Engelse sonnet. D.J. Opperman – Edms. Bpk. 1.Ene Dirk (waarskynlik outobiografies, want die digter se noemnaam was ook Dirk). 2.Hy het dit omhein, sy naam op die hek geverf en dit per kontrak laat registreer as sy eiendom. 3.Die bakkapel “skryf” omdat sy sleepsel lyk soos ouderwetse skrif met baie krulle en draaie. Die janfiskaal se roepgeluid “dzzzt-dzzzt-dzzzt” klink baie soos “dit is my gebied”, dus proklameer hy só die erf. Só kry die voël en die slang menslike eienskappe wat hulle personifieer. 4.Dirk se eienaarskap en aanspreeklikheid is inderdaad beperk, want daar is ook ander aanspraakmakers. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord wat universaliteit in berekening bring. D.J. Opperman – Na die myninstorting 1.Die mynwerkers wat dood is, het sonder ophou gewerk, want hulle was baie arm. Hulle was altyd bekommerd en het onder in die myn gewerk waar dit donker en klam was. Hulle is dood in ’n rotsstorting. Hulle is mense wat kinders en tuine by hul huise gehad het. Hulle skof het elke dag om vyfuur geëindig. Nou kom hulle nie tot rus in die heelal nie, want hulle is net tuis by bekende aardse dinge soos hulle werk, nie in die hemelse teenwoordigheid van God nie. 2.Ja, hy gebruik die woorde “Met pletterende klippeval” alleen in ’n versreël en gebruik dit om die tweede strofe in te lui. 3.“Maar” (vs. 10). 4.Ja. Hierdie mens het ’n harde lewe gehad en nou is daar selfs ná die dood nie vir hom rus nie. 5. A lig mens floreer heelal donker gras B skaduwees masjien verkwyn tuis glans klippe Patrick Petersen – (vir albertina sisulu) 1.a.“van dag na nag”. b.“die land van hoek tot kant uitbesem”. 2.a.as die oomblik van waarheid aanbreek / as die bom bars (of enige soortgelyke verduideliking). b.om iemand se guns te soek (of enige soortgelyke verduideliking). 3.a.kaantie. b.koesta. c.kap zip. 4.Kaapse Afrikaans is tradisioneel gepraat deur mense wat ’n politieke stryd teen apartheid gestry het. Daarom is dit gepas en funksioneel dat die gedig ook deur hierdie soort Afrikaans weergegee word. 5.Sy tref my as ’n dapper vrou wat nie haar oortuigings prysgegee het nie al was sy eensaam en het sy swaar gekry. Sy was ’n draer van die lig van hoop al het sy swaar gekry en was sy eensaam. (Of die teendeel, mits dit goed gemotiveer word.) P.J. Philander – Vir die wis en die onwis 1.b.die nageslag; die mense wat nou in die land bly. 2.Die naam van die Kaap dui op die positiewe, ’n goeie uitkoms en toekoms vir dié wat hulle daar bevind. Maar vir die Hottentot en Boesman het dit beteken dat hulle vryheid ingeboet is; vir hulle was die gevolge nie wat hulle verwag het nie. Veral ook as aan die apartheidswette gedink word wat later gevolg het. 3.Hulle het die land wat hulle as hulle eie beskou het, verloor – die vryheid van beweging is ingeperk. Daar het vermenging plaasgevind. 4.a.Alliterasie: “Boesman baas sou bly”; baas word sentraal in die versreël geplaas. b.Die baasskap het van die Boesman/inwoners na die kolonialiste verskuif. 5.Ja, dit het die oorspronklike eienaars van die land van hulle gebied vervreem en hulle moes aanpas by die Westerse gewoontes en wette. Hulle beweging is ingeperk. OF: Nee, daar het ontwikkeling gekom. Infrastruktuur is geskep waarby almal gebaat het. Die verskillende kulture leer by mekaar en het geleer om mekaar te respekteer. Mathews Phosa – ’n Doppie op Malmesbury 1.Jakop is in die eerste strofe aan die woord, want hy spreek sy pa aan. 2.Hulle kry met ontbyt (“brekfis”) wyn, asook met middagete (“lunch”) en weer saans “laaste horinkie vir die bed”. 3.Dis eienaardig vir ’n kind om te vra sy pa moet toelaat dat iemand hom slaan. Dit is ook ongewoon vir ’n kind om te vra sy pa moet iets doen sodat hulle kan aanhou wyn kry. 4.Enige van die volgende: Hy bedoel dat hulle nie as mense enige waarde het nie, net as arbeiders. In die feodale sisteem kan arbeiders hulle nie verset sonder dat hulle die gevaar loop om hulle werk en verblyf te verloor nie. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord wat daarop neerkom dat matige drankgebruik aanvaarbaar is, maar dat dit maklik na drankmisbruik kan oorgaan en dan verreikende gevolge vir die verslaafde sowel as sy gesin het. Mathews Phosa – ’n Baadjie met ’n gaatjie 1.’n Tydperk of houding wat nuut is. Dit herinner aan die Afrikaanse spreekwoord “’n nuwe blaadjie omslaan”, ook oor die klankassosiasie van “baadjie” en “blaadjie”. 2.a.baadjie, gaatjies, kolletjies. b.Dit vat die kern van die gedig saam: ’n baadjie vol gaatjies met kolletjies wat verval toon. 3.a.die skuins lippe wat leuens spoeg / in alle rigtings. b.Die “s”-klank boots die spoegaksie na. 4.Met die voorplasing van “die” in vs. 11, 13 en 15 word diegene na wie dit verwys, beklemtoon. Hierdie herhaling skep ook ritme. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord. Henning Pieterse – Mapungubwe I 1.Blou glaskrale, ’n potskerf, reste van ’n goue septer, ivoor, gekleurde glas, roestende spere, vergulde renoster. 2.Die koning, onderdane (swermendes), spreker, krygers. 3.Deur die delwery word die verlede weer blootgelê en deur middel van die gedig word daar ook lewe aan die verlede gegee. 4.a.Hy delf tussen mure na artefakte vir sy vers; hy rig hutte en steierwerke op vir sy vers; herbou as ’t ware die hutte van vroeër deur sy vers te skep. b.Die koning sien hoe delf hy vir artefakte, die spreker rig weer die koninkryk se hutte op en daarvoor is steierwerk nodig. c.Die digter soek onderwerpe/materiaal vir sy gedigte. Daarna moet die gedig opgebou word deur middel van stellasies/konstruksies in taal en beeld. d.Daar is so ’n renoster gevind tydens die opgrawings by Mapungubwe. 5.Daar kan ’n verskeidenheid reaksies wees, byvoorbeeld met verwysing na die geskiedenis, opgrawings; die digter/spreker se benutting van die historiese om ’n gedig te bou / die feit dat dinge verbygaan en tog bewaar bly, dat rekonstruksie moontlik is. Ina Rousseau – Kersfees 1996 1.voertuie / plastiek 2.Strofe 1 verskyn tussen aanhalingstekens en strofe 2 nie. Strofe 1 bestaan uit 4 versreëls/’n kwatryn en strofe 2 uit ses versreëls/’n sestet. 3.Ja, dit is betekenisvol, omdat daar mense afgemaai is en ’n haan ook die woord is wat na ’n deel van ’n geweer verwys. 4.Daar is geen sintuiglikheid in strofe 1 nie, wat daarop dui dat die spreker nie betrokke voel by die moord nie. Maar in strofe 2 sien die leser saam met die spreker blink sterre, proe die brosgebraaide hoenderhaan en ruik die vinkel. 5.Enigeen van die volgende: Nee, mens kan ten minste simpatie of skok betoon en uitvind hoekom hulle doodgemaak is, of jou selfs aktief beywer vir die beëindiging van geweld en onreg. Ja, mens kan niks aan geweld en onreg doen nie en dit is beter om jou daarvan af te sluit. Adam Small – Doemanie 1.Hy woon in ’n groot huis, ry ’n groot motor, eet duur kos, dra ’n toga en gebruik hoogdrawende taal op die preekstoel. Sy simpatieke glimlag is net ’n “kamma”-glimlag. 2.Die spreker in die gedig is sinies teenoor die dominee ingestel, omdat hy hom met die profeet Johannes vergelyk waartydens hy hom op die reuseverskille tussen die twee se leefwyse en bediening wys. 3.“Vi’”, “vel” en “van” allitereer. 4.Die spreker toon nie hoë agting en respek vir die dominee soos dit gebruiklik is onder gemeentelede en die gemeenskap nie. Dit sluit aan by die vrye versvorm wat nie gebruik maak van formele en gevestigde digvorme nie. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord. Peter Snyders – Moedertaal 1.a. Kaapse Afrikaans 2.Die woord “opleerit” bevat “op” wat “hoër” impliseer. Die kind het dus “opgeleer”, “boontoe geleer”. 3.Drie kenmerke van Kaapse Afrikaans is palatalisasie (“djy”); assimilasie (“doenit” / “waam” / “opleerit” / “ve’wag”); Engelse woorde (“kritisaais” / “change”). 4.Die enjambement en inkeping verbind hierdie twee versreëls om te demonstreer dat Kaapse Afrikaans nie gestuit kan word as skryftaal nie, net soos die twee versreëls inmekaarvloei. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord wat daarop dui dat die leerder kennis dra van die vraagstuk rondom Standaardafrikaans en Kaapse Afrikaans. Lina Spies – Lied van die kinders 1.Die SS staan vir “Schutzstaffel”, ’n Nazi-organisasie tydens die Tweede Wêreldoorlog. 2.a.Vrees. b.As Joodse kind is hy gemerk met die Dawidster en blootgestel aan vervolging, die konsentrasiekamp, gaskamers en dood. 3.Dachau – Joodse seuntjie. Saigon – Viëtnamese dogtertjie. Belfast – Ier. Ma’alot – kinders van Israel. 4.a.bang hasies in ’n bos wat brand. Hierdie jong kinders was net so vasgekeer en blootgestel aan geweervuur soos hasies in ’n bos wat brand. Daar was geen uitkoms nie. b.Deur die alliterasie van bang, bos en brand, al drie woorde wat angsbevange situasies kan suggereer, word die hopeloosheid van hulle situasie uitgelig. 5.Die emosies wat beskryf kan word, is hartseer, woede, moedeloosheid oor soveel ongeregtigheid en sinnelose geweld. Wilma Stockenström – Koichab se water 1.Die spreker was wasgoed en week dan ’n pot wat aangebrand het om dit later te kan skoonwas. 2.water, sagtheid, vloei, witheid. 3.Personifikasie: die water “sien” die lig en “wonder”. Die water is ná al die tyd versteur en verstaan nie, begryp nie wat aangaan nie. “Sien die lig” en “wonder” vorm ook ’n paradoks, want wanneer mens iets verstaan, wonder jy nie meer daaroor nie. 4.In die eerste en laaste strofe word die manier waarop die water gebruik word, genoem. In die twee middelste strofes waar die koeplette soos ’n pyp lyk, word die vloei van die water deur die pype beskryf. 5.Die samelewing word weerspieël in die manier waarop die water gebruik word. Die suiwer, eeue oue water word onnadenkend gebruik om op alle gebiede te reinig. Dit word darem ook gebruik om die mens te verfris en word selfs saam met brandewyn gebruik, uitgedruk in “dop en dam”. Net so word die vrou se rol in die samelewing gesien. Sy moet goed en edel opgevoed word, maar moet bereid wees om doodgewoon beskikbaar te wees in haar diens. Dus word sy, soos die water, as vanselfsprekend aanvaar. Barend Toerien – Verliese V 1.Hy eet alleen in sy kamer. 2.Hy gaan alleen na sy kamer toe, hy eet alleen, drink alleen koffie, gaan slaap alleen. 3.Hy is geskei en woon nou alleen. “egskeiding”. 4.Enigeen van die volgende: Die spreker kry baie swaar sonder sy vrou en ek voel jammer vir hom. Enigeen wat al baie hartseer was, sal verstaan dat dit vir jou voel jy kry nie asem nie. / Ek voel nie jammer vir hom nie, want mens moet eerder ’n egskeiding probeer voorkom en probleme uitpraat. 5.smaaksintuig (“vetterige eiers”), tassintuig (“koud”). Die digter wys hoe die afwesigheid van ’n geliefde in elke konkrete ervaring van ’n mens se lewe teenwoordig is. Verlies is nie net ’n abstrakte ding nie, dis ook letterlik en fisiek. Nathan Trantraal – Delft 1.a.sit, vra. b.worry nie (gee nie om nie), kom en gan (gaan) / liewe (lewe) net vi (vir) homself. c.stink asem. d.wêk (werk). e.hou anne (ander) mense dop. f.vyl (vuil) voete, loop, sit. 2.Die bome is soos die mense in versreël 8 wat heeldag oor hulle tuinmuurtjies hang en kyk wat ander mense doen. 3.Die son werk heeldag. 4.Op ’n spottende manier word te kenne gegee die mense van Delft het al so verval dat die dinge in hulle omgewing net soos hulle geword het. Dit vlek die haglike maatskaplike toestande in Delft oop. 5.Ja, hulle het in moeilike omstandighede grootgeword en nie geleenthede gehad om hulle lewe te verbeter nie. OF: Nee, enige mens kan deur harde werk sy lewe verbeter. OF: Enige ander goed gemotiveerde antwoord. Toon van den Heever – In die Hoëveld 1.c.Om geld te maak op die myne. 2.oop, wyd, vry, ruim, ver, sweef. 3.Dit verwys na die skoffluit asook die fluitgeluid wat saam met myntering gaan asook die dood; die “laaste fluit” is ’n simbool wat die laaste skof van sy lewe sal aankondig. 4.In elke strofe is daar slegs een versreël wat verband hou met sy huidige posisie, naamlik die myngang en die tering; telkens die vyfde versreël van elke strofe. Die res van die gedig, wat in sy gedagtes en drome plaasvind, hou verband met die natuur, die vryheid en die plaas, alles wat hy verloor het. Omdat teenstelling verskille beklemtoon, vestig dit die aandag skerper op elke ruimte. 5.Baie van die myners moet nog steeds hulle woonplekke verlaat, sonder families stede toe gaan en in die myne gaan werk. Die mediese sorg is net deesdae beter. Ernst van Heerden – Na die front 1.b. ’n Soldaat op pad oorlog toe. 2.Hy slaag daarin om vs. 4 met vs. 3 te laat rym en só die rympatroon vol te hou. 3.Die geliefde se handeling bly liefdevol en sorgsaam. Die spreker se handeling vorder van liefde en droefheid tot geweld. 4.Die patroon van ’n komma ná die eerste versreël en ’n kommapunt ná die tweede versreël van elke strofe word in strofe 5 verbreek deurdat ’n ellips die kommapunt vervang. Dit skep reeds afwagting dat iets gaan verander. Strofe 6 begin met ’n hoofletter en die kommapunt word deur ’n punt vervang, wat aansluit by die afskeid wat finaal was en die toneel van liefde wat verander het in ’n toneel van geweld. 5.Enige goed gemotiveerde antwoord, byvoorbeeld: Ek dink hy moes geweier het om oorlog toe te gaan / Hy is sommer ’n bangbroek. A.G. Visser – ’n Volksleier (enige eeu) 1.Dit gaan oor ’n politikus wat deur sy ondersteuners vertrou word. Hulle sal hom bly vertrou, al praat hy die waarheid en lieg hy nie meer nie. Die implikasie is dat politici eintlik altyd jok. 2.Hulle laat hom toe om besluite oor hulle toekoms te neem. 3.“Vertrou” word geassosieer met iets wat vas en seker is. “Sou”, daarenteen, verwys na iets wat onseker is. 4.Enige gepaste antwoord, byvoorbeeld: Ja, ek stem saam, want politici praat nooit die waarheid nie. OF: Nee, ek stem nie saam nie, want politici jok nie die hele tyd nie. (Enige goeie motivering.) 5.Die gedig kan as satiries beskou word omdat dit die spot dryf met politici. Dit maak eintlik die stelling dat politici nie die waarheid praat nie en dat mens eerder verbaas sal wees as hulle wel die waarheid praat. George Weideman – Ouma Baai maak heuningbier 1.a.Die tydperk net voor jy helder wakker word. 2.Die asbosvuur langs die steier; die koningstor; bokke wat gevoer word; die môrester wat ondergaan; die bier op die steier; die hond wat waghou. 3.Die môrester gaan onder agter die sonneblomme en daarom lyk dit asof dit in die sonneblom verdwyn. 4.Die !kharib en gis staan op die steierkis in die boepenskom, sorgsaam toegemaak onder ’n karos en word stilweg deur die hond bewaak. 5.Die gedig bestaan uit drie kwatryne en ’n rymende eindkoeplet. Daar is een deurlopende gedagte in die drie kwatryne, nl. die herinneringe aan die oumahulle se werf en die aktiwiteite kenmerkend daarvan en veral die heuningbier wat die ouma gemaak het. Dit bou op tot ’n klimaks wat met die koeplet bevestig word. In die koeplet word die gedagte aan die wonderlike bier versterk deur die engel wat daardeur gelok word. Opsomming Vers en vlam stel graad 10- Eerste Addisionele Taalleerders in staat om te beleef hoe Afrikaanse gedigte kreatief, intelligent en vindingryk met die taal omgaan. Die bundel is volgens die KABV se riglyne saamgestel. Die bundel se titel verwys na die Afrikaanse uitdrukking “iemand is vuur en vlam”, ’n uitdrukking wat daarop dui dat iemand baie opgewonde en entoesiasties is. In Vers en vlam is gedigte uit al die soorte Afrikaans opgeneem wat die belangrikste versvorme, literêre tydperke en temas in die Afrikaanse digkuns verteenwoordig. Só word daar ’n vlam aangesteek wat lig werp op die geskiedenis, op vandag se samelewing en verhoudings, asook op ontwikkeling en verstegnieke in die Afrikaanse poësie. Vers en vlam is vir die leerder en onderwyser ’n uiters bruikbare werkboek. Dit bevat: •’n inleiding tot die Afrikaanse poësie; •biografiese inligting by elke gedig met ’n oorsig van die digter se lewe en werk; •’n kort inleiding oor die onderwerp waaroor die leerder bloot kan nadink of ’n gesprek kan voer of kan skryf; •agtergrond oor elke gedig en ’n kort verduideliking waaroor dit gaan; •woordverklarings van moeiliker woorde in Afrikaans en Engels; •’n afdeling “Pitkos” wat die leerder se aandag op sake vestig wat ’n sleutel is om die gedig beter te verstaan; •’n afdeling “Leerfokus” wat die poësietegniek wat in die gedig gebruik word, saamvat; •kontekstuele vrae wat leerders help om soveel as moontlik van die gedig te verstaan, dit te interpreteer, en hul gevoel daaroor weer te gee; •’n afdeling “Vir jou joernaal en/of in die klas” wat leerders die geleentheid bied om skeppend op aspekte van die gedig te reageer; •’n glossarium wat literêre begrippe verduidelik. Ekstra hulpmateriaal kan gratis afgelaai word by www.nb.co.za Oor die skrywers Jeanette Ferreira het in die Laeveld grootgeword. Na ’n akademiese loopbaan as o.m. professor in letterkunde, was sy by verskeie uitgewerye werksaam. Sy het al verskeie versamelbundels saamgestel, meer as 10 boeke in verskillende genres gepubliseer en is veral bekend vir haar gewilde historiese romans: Babette, Catharina en Charlotta. Erna du Toit is ’n gesoute Afrikaansonderwyser, vertaler en skrywer van huistaalreekse. Sy woon en werk in Kaapstad en is passievol oor die taal en al sy tonge. Hanna Geldenhuys het ’n doktorsgraad in letterkunde (poësie), was betrokke by Eerste Taalonderrig in verskeie hoërskole en senior lektor by Ekurhuleni-Wes se Kemptonpark-kampus, gemoeid met die onderrig van Sakeafrikaans (Eerste en Tweede Taal) vir die Seniorsertifikaat in Sakestudies. Sy was ook vir etlike jare die Nasionale Eksaminator vir hierdie vakke. Michael le Cordeur het in die Boland grootgeword. Na ’n honneursgraad in letterkunde en ’n B.Ed-graad aan die UWK volg hy ’n onderwysloopbaan: eers taalonderwyser en later skoolhoof en kringbestuurder. Hy verwerf daarna ’n M.Ed-graad in kurrikulumstudies en ’n doktorsgraad in Afrikaansonderwys aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy tans ’n senior lektor en departementshoof in Kurrikulumstudies is. Hy is die skrywer van verskeie handboeke vir skole en universiteit. Alicia van der Spuy het ’n MA (cum laude) in Tweedetaal Onderrig en ’n doktorsgraad in Afrikaanse Letterkunde. Sy is tans ’n senior lektor en departementshoof (Corporate Communication and Marketing) aan die Walter Sisulu Universiteit in Oos-Londen. Toestemming tot die gebruik van die gedig “Kinders van die wind” deur Koos du Plessis is, namens die kopiereghouers, verleen deur SUN MeDIA, Stellenbosch, www.africansunmedia.co.za. Human & Rousseau ’n druknaam van NB-Uitgewers, ’n afdeling van Media24 Boeke (Edms) Bpk, Heerengracht 40, Kaapstad 8001 Posbus 5050, Kaapstad 8000, Suid-Afrika www.humanrousseau.com Kopiereg © Die skrywers 2015 Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie elektroniese boek mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting. Omslagontwerp: Nazli Jacobs E-boekontwerp: Trace Digital Services Ook beskikbaar in druk: Eerste uitgawe in hierdie vorm in 2015 ISBN: 978-0-7981-6586-0 Epub-uitgawe: Eerste uitgawe in 2015 ISBN: 978-0-7981-7171-7 (epub) Mobi-uitgawe: Eerste uitgawe in 2015 ISBN: 978-0-7981-7173-1 (mobi)