'n Regte klein merrie
Pre-lees: informele gesprekvoering
• Kinders bevind hulself dikwels in situasies wat potensieel gevaarlik is.
Wat, dink jy, red hulle uit sulke situasies? Bespreek.
• Het daar al iets in jou gelewe gebeur wat jou ontnugter het, m.a.w.
wat jou oë oopgemaak het vir die wêreld en hoe dit werklik is?
Bespreek.
• 1 uit 9 meisies en 1 uit 53 seuns jonger as 18 jaar is slagoffers van
seksuele mishandeling deur 'n volwassene. 90% van hierdie slagoffers
ken die persoon wat hulle mishandel. Vir 30% van hierdie slagoffers is
dit 'n familielid. Bespreek die moontlike gevolge hiervan vir die
slagoffers.
• Wat beteken dit as 'n volwassene 'n minderjarige "voorberei"
(groom)? Bespreek hoekom hierdie praktyk dikwels suksesvol is.
Hansie en Grietjie is 'n kinderstorie wat handel oor 'n boetie en sussie
wat van die huis af wegloop om van hul bose stiefma te ontsnap. Hulle
verdwaal in 'n bos en kom uiteindelik af op 'n gemmerbroodhuis wat
gebou is van allerhande lekkergoed. Die twee kinders eet hulself
knuppeldik, net om te ontdek dat dit 'n heks se huis is. Hierdie heks lok
kinders na haar huis sodat sy hulle kan vet voer. Wanneer hulle vet
genoeg is, druk sy hulle in haar oond, maak hulle gaar en eet hulle op.
Gelukkig kon die kinders haar uitoorlê en die heks het uiteindelik in haar
eie oond beland.
Die Nasionale Vrouemonument is op 16 Desember 1913 onthul. Dit is
opgerig om die tragedie te gedenk van die sowat 26 000 Afrikanervroue
en -kinders wat enkele jare tevore in die Suid-Afrikaanse oorlog van
1899 – 1902 gesterf het. Verskeie figure wat die Boere teen die Engelse
gehelp het en vrede probeer bring het, is daar ter ruste gelê.
Die Oorlogsmuseum in Bloemfontein se fokus is die Suid-Afrikaanse
Oorlog van 1899-1902. Daar sal besoekers kunswerke en uitstallings vind
wat die agtergrond van die oorlog, asook die universele lyding wat dit
veroorsaak het, uitbeeld.
President Brandstraat in Bloemfontein huisves verskeie historiese
geboue wat deel van die oorspronklike regeringsgeboue was, soos die
Derde Raadsaal en die Vierde Raadsaal. Dié geboue het deesdae ander
name en funksies, bv. die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum,
die Vrystaatse Provinsiale Wetgewing en die Oudpresidentsmuseum. Die
historiese Boomtuin, wat deur president Brand gestig is, kan steeds daar
gevind word.
Die King's Park Roostuin in Bloemfontein was oorspronklik deel van 'n
groot gebied wat in 1902 deur die stadsraad beskikbaar gestel is om
koning Edward VIII se kroning te herdenk. Die roostuin bevat tans sowat
5000 roosbome, maar is nie meer oop vir die publiek nie. Die
Bloemfonteinse dieretuin was op dieselfde perseel geleë, maar het
intussen toegemaak.
Titel: 'n Regte klein merrie
• Neerhalende idiomatiese
uitdrukking wat verwys na
'n vrygeestige (freespirited), onbeheerbare
vrou.
Baie mans glo steeds dat 'n
vrou onderdanig aan mans
moet wees en haar plek moet
ken. Sulke mans hou nie van
vroue wat hulle teenstaan of
nie vir hulle gee wat hulle wil
hê nie.
Verteller
• Derdepersoonsverteller met Emma as fokalisator.
• Voordeel: Emma se walging in oom Petrus en haar ongemak in sy
teenwoordigheid word effektief oorgedra terwyl die verteller inligting
kan gee wat Emma self nie besef nie, bv. oom Petrus se intensies.
• Nadeel: Dis eensydig – die ander karakters se ervarings/waarnemings
word nie oorgedra nie. Ons weet bv. nie of tant Berta iets oor haar
man se neigings vermoed nie.
Karakters en karakterisering
• Emma: Hoofkarakter en protagonis. Jong, onskuldige dogter (prepuberteit). Gril vir haar oom se hande. Naïef, want sy sien nie haar
oom se plan raak nie, maar kry dit instinktief reg om sy plan te fnuik.
Sou eerder haar oom wou vermy, maar verdra sy aandag uit
ordentlikheid.
• Oom Petrus: Antagonis. Word uit Emma se oogpunt as grillerig
beskryf. Toon oordrewe vriendelikheid en gulhartigheid teenoor
Emma. Maak seksueel suggestiewe aanmerkings teenoor haar. Gaan
in die nag ongenooid haar kamer binne, waarskynlik om haar te
molesteer. Noem haar 'n "merrie", asof sy verkeerd is om nie van sy
aandag te hou nie.
• Emma se ma en tant Berta: Bykarakters. Niksvermoedend – vertrou
vir oom Petrus alleen saam met Emma.
Ruimte
• Bloemfontein, waar Emma se oom en tannie woon.
• Emma slaap alleen in die gastekamer, ver weg van haar ma se kamer.
• Die besoek raak vir Emma 'n leerervaring – nie net van Bloemfontein
se geskiedenis nie, maar ook van mense en hul motiewe.
• Die tydsverloop word chronologies aangebied.
• Die vertelde tyd is drie dae. Die getal "3" kom dikwels in kinderstories
voor omdat 3 van iets maklik is om te onthou: 3 karakters; 3 dele van
'n storie; 3 beproewinge waardeur die protagonis moet gaan, ens.
Motoriese moment
• Emma en haar ma gaan vir 'n vinnige kuiertjie Bloemfontein toe sodat
Emma se ma haar suster kan sien.
Klimaks
Oom Petrus gaan in die nag ongenooid by Emma se kamer in en sy vang
hom uit dat hy aan die kussing vat waar hy gedink het sy slaap.
Ontknoping
• Emma ontwyk haar oom en word uitgemaak as 'n "merrie", asof sy
verkeerd opgetree het.
• Oop einde: Emma is wel nie gemolesteer nie, maar haar probleem is
nie opgelos nie, want oom Petrus is steeds daar en sy gaan
waarskynlik weer by haar oom en tannie moet gaan kuier.
Konflik/botsings
• Ekstern: Botsing met die omgewing: Emma slaap alleen in die
gastekamer, ver genoeg weg van haar ma sodat dié haar nie sal hoor
roep nie. Dit skep geleentheid vir oom Petrus om in die nag haar
kamer binne te gaan.
• Interne konflik: Emma voel skuldig toe sy oom Petrus sien die oggend
nadat sy hom in haar kamer betrap het, maar verstaan nie hoekom
nie. (Dis wat grooming doen – dit skep by die kind 'n sin van lojaliteit
teenoor die molesteerder.)
Motief en simboliek
• Oom Petrus se grillerige hande is die eerste ding wat Emma oplet en
daar word dikwels na sy hande verwys. Sy hande raak 'n simbool van
die seksuele daad wat hy met Emma beplan en die dinge wat hy doen
om haar voor te berei vir sy aanval.
• Die tier lyk of dit ontspanne is, maar dis gevaarlik en kan enige
oomblik op iemand afstorm. Oom Petrus is ook so.
Suggestie
Daar is verskeie seksueel suggestiewe beelde:
• Oom Petrus wat sê dat 'n boudjie die beste deel van 'n hoender is;
• die uitgeswelde geelperske wat oom Petrus vir Emma voer;
• die stewige matras wat nog nie so uitgerits soos die ander een is nie;
• oom Petrus se vuis om die roomyshorinkie.
Ironie
• Daar word taamlik op die Vrouemonument gefokus, wat 'n
herinnering is aan die lyding wat duisende vroue en kinders ervaar
het, MAAR oom Petrus beplan om Emma ('n vroulike kind) te
molesteer en haar lyding só te veroorsaak.
• Oom Petrus is ontsteld oor die idee dat een van hulle iets het om weg
te steek, MAAR hy steek sy duistere planne met Emma weg.
• Oom Petrus wil kastig vir Emma leer wat in Bloemfontein aangaan,
MAAR dit wat hy beplan om haar werklik te leer (seksuele dade) is
alles behalwe opvoedkundig.
• Oom Petrus noem Emma 'n "merrie" – wild en onbeheerbaar – asof
dit 'n slegte ding is, MAAR dis haar "merriegeid" wat haar van hom
gered het.
Toets jou kennis (Kyk ook bl. 47-48 en 255.)
1. Watter reaksie het Emma op oom Petrus se hande?
2. Daar word dikwels na oom Petrus se hande verwys. Wat is die
funksie daarvan?
3. Aan watter sprokie laat die gastekamer vir Emma dink?
4. Verduidelik die ooreenkoms tussen die huis in hierdie sprokie en die
gastekamer waarin Emma slaap.
5. Hoe het Emma dit reggekry om oom Petrus te ontwyk toe hy die
nag by haar kamer ingaan?
6. Dink jy dat Emma op 'n manier geweet het wat oom Petrus met
haar beplan? Motiveer jou antwoord.
7. Hoe het Emma gevoel toe sy oom Petrus sien die oggend nadat hy
by haar kamer ingegaan het?
8. Hoekom is dit ironies dat Emma só voel?
Antwoorde
1. Sy gril.
2. Dit berei die leser voor op wat oom Petrus met Emma wil doen, want
sy hande raak 'n simbool van sy dade.
3. Hansie en Grietjie
4. In Hansie en Grietjie is daar 'n gemmerbroodhuis wat kinders na die
heks toe lok. Die gastekamer is so sag en pienk dat dit Emma aan
soet lekkergoed laat dink, wat haar na oom Petrus toe moet lok.
5. Sy het in die ander bed geklim as die een wat hy voorgestel het.
6. Voorbeeld: Ja, sy het die heeltyd ongemaklik gevoel en het instinktief
geweet om nie in sy lokval te beland nie.
7. skuldig
8. 'n Mens voel gewoonlik skuldig nadat jy iets verkeerd gedoen het,
maar Emma het niks verkeerd gedoen nie.