Uploaded by vetplant2000

MIS deur REZA DE WET Konstabel se rol, die betekenis van die titel en die sprokieselement

advertisement
M.B. STRYDOM
219259399
B. Ed 2B
AFRIKAANS
FAF262S
MIS deur REZA DE WET
Konstabel se rol, die betekenis van die titel en die sprokieselement
Dr. A. Swart
9 Oktober 2020
INHOUDSOPGAWE
PLAGIAATVERKLARING ..................................................................................................... 2
INLEIDING ............................................................................................................................ 3
LITERêRE OORSIG .......................................................................................................... 4
BETEKENIS VAN DIE TITEL ................................................................................................ 6
KONSTABEL ........................................................................................................................ 8
Sy rol binne die drama....................................................................................................... 8
SPROKIESELEMENT ......................................................................................................... 10
OPSOMMING ..................................................................................................................... 12
BIBLIOGRAFIE ................................................................................................................... 13
1
PLAGIAATVERKLARING
Dié werk is my eie, oorspronklike werk en dus vry van enige plagiaat. Al die bronne wat
tydens die werkopdrag gebruik is, is in ooreenstemming met die CPUT Harvard
verwysingstyl.
Geteken:
Datum: _____28 September 2020____
2
INLEIDING
Reza de Wet is ‘n uiters suksesvolle dramaturg met ‘n meestersgraad in Engelse Literatuur.
De Wet het twaalf toneelstukke geskryf binne vyftien jaar (sewe in Afrikaans en vyf in
Engels). Enkele van hierdie toneelstukke sluit in Diepe grond (1985), Op dees aarde (1986)
en die Vrystaatse trilogie Trits (1993). Sy wen die Hertzog Prys (1994), die Vita-toekenning
vir die beste draaiboek (1998) en die Rapport Prys (1991). (Terblanche, 2018)
In 1993 begin De Wet met haar Vrystaat-trilogie Trits: Mis, Mirakel en Drif. Mis, Mirakel en
Drif word gelyktydig in 1993 gepubliseer en daarna as dramas opgevoer. Mis is in 1994 die
Fleur du Cap-toekenning vir die beste inheemse drama aangewys. In die Trits trilogie is daar
deurlopende motiewe wat voorkom in al drie dramas. Die sentrale rol in die handeling word
deur ‘n towenaarfiguur ingeneem wat homself voorstel as iemand met betowerende kragte
wat jong dames verlei. Hierdie towenaarfiguur gebruik sy sjarme om die karakters se
behoefte aan ontsnapping uit te lok. (Terblanche, 2018)
Gepaardgaande met dié towenaarfiguur, kom daar ook die transformasiemotief. (Terblance,
2018) Die karakter Meisie in Mis word as ‘n naïef en onskuldig uitgebeeld, en transformeer
dan deur die loop van die spel na ‘n roekelose jong vrou wat bevry is van haar eng
omstandighede. De Wet maak gebruik van verskeie style in haar dramas, en illustreer haar
belangstelling in die kontras tussen dit wat suiwer is en sensualiteit (die naïewe en die
groteske). (Terblanche, 2018) In De Wet se 1993 drama Mis word intertekstualiteit met
sprokies gereeld aangewend. De Wet gee elkeen van haar karakters lewe en skep hul met
drome van hul eie, maar dan is daar ‘n indringer wat homself tussen die karakters plant. Die
leser moet homself dan afvra of hierdie karakter werklik bestaan, en of dit net ‘n beeld is wat
noukeurig geskep is om ander te mislei.
In die navorsingstaak wat volg, gaan die betekenis van die drama se titel, die rol van die
Konstabel en die sprokieselement bespreek word. Elkeen van hierdie elemente sal deeglik
analiseer en bespreek word, asook die algehele rol wat elkeen van hierdie in die De Wet se
drama speel.
3
LITERêRE OORSIG
De Wet is die skrywer van talle bekroonde toneelstukke en dramas. Een van die hooftemas
in talle van hierdie dramatekste is drome en hoe dit bevryding verteenwoordig. Bevryding
word beliggaam deur ‘n lang, donker man wat ingryp om die jong meisie vanuit haar slegte
omstandighede te bevry. (Van der Wal, 2005)
In ‘n 2013 onderhoud met RSG Radioteater, sê Andre Stoltz: “Ek dink dis interessant wat
Johan nou genoem het van die oë wat geskep is, want dis tog eintlik een van die temas in
die stuk. Dit wat jy nie sien nie, die onsigbare. Die blinde polisieman wat vir my persoonlik
baie interessant was. En daardie klank van die sirkus in die agtergrond en die verleidelikheid
daarvan en die gevaar wat dit inhou.” Die blinde konstabel kan nie sien nie, so hy moet
staatmaak op sy ore om te ‘sien’. (Stoltz, 2013)
Laetitia Pople (2015) het die volgende kommentaar gelewer oor De Wet se dramatekste: “Sy
het my bekendgestel aan magiese realisme en dit is die element van haar werk wat my soos
‘n magneet aantrek. Haar werk is ry aan simboliek, sterk vrouekarakters en haar verkenning
van temas soos die verdrukking van seksualiteit, magie, illusies, die onderbewuste,
magsverhoudings, die mens se soeke na ontvlugting en bevryding gryp my aan.” (Protea
Boekhuis, 2015)
Die titel van die drama het verskeie betekenisse binne die drama, en dra by tot die algehele
sukses van die teks.
Die hooffunksie van die titel van die dramateks is om die Ieser insig te gee
aangaande die kernaspek van dit waaroor die drama handel. Dit dien vir
die Ieser as sleutel tot die gebeure in die drama. (De Beer, 2013)
Die drama word tot ‘n geheel verbind wanneer die laaste toneel van die drama
aansluit by die titel. Die einde van die drama eindig sonder ‘n definitiewe antwoord
op die gebeure wat volg, ‘n oop einde. Hierdie oop einde word tematies aan die titel
Mis verbind. Die leser mis die antwoorde op wat volg.
Teen die 17de eeu het die verkleiningsvorm “sprookje” gewild begin word en was dit
algemeen gebruik. Hierdie woord kan dui op enige ou verhaal wat mondelings van
geslag tot geslag oorvertel is wannneer dit algemeen gebruik word. Die Nederlandse
en Afrikaanse betekenis van hierdie woord dui op ‘n spesifieke tipe verhaalsoort
(fairytale). (Steenberg, 2013)
4
Tussen 1693 en 1697 het Charles Perrault, ‘n Franse skrywer, alle bekende sprokies
neergeskryf. Hy was die eerste man wat hierdie genre neergepen het, en dit het ‘n groot
bydrae gehad tot die Franse kultuur. Jean-Jacques Rousseau, ‘n Switserse filosoof, het
daarin geglo dat kinders belangrik is. Die nagevolg van hierdie onbekende filosofiese siening
het gelei tot die verwerking van tradisionele sprokies deur die Grimm broers. Veral Jacob
Grimm het elemente wat onvanpas is vir kinders, verwyder. Die bekende sielkundige,
Charlotte Bühler, het teen 1917 sprokies as die belangriksste leesstof vir kinders verklaar.
(Steenberg, 2013)
Bühler se uitspraak kan gestaaf word met ander sielkundiges se studies waar die voordele
van sprokies ondersoek word. Kinders wat strewe na selfstandigheid, verwerping ervaar en
sukkel met identiteitskrisisse vind dikwels vertroosting in sprokies. Kinders se soeke na
sekuriteit word oorgevoer na oorwinning wanneer die storie eindig met die protagonis “vir
altyd gelukkig gelewe”. (Litterm, 2013)
Reza de Wet is die mees bekroonde en geprysde dramaturge in die land, en haar werk word
beskryf as ‘n “essensiële teaterervaring”. (Boekkooi, 1994)
5
BETEKENIS VAN DIE TITEL
Die titel van Reza de Wet se bekroonde drama, het verskeie betekenisse en kan op meer as
een vlak gelees word.
Mis as bemesting is een van die mees duidelike betekenisse. Miem en haar dogter, Meisie,
maak hul bestaan deur mis as bemesting aan boere te verkoop. In die eksposisie is Miem en
Meisie besig om goiingsakke aan mekaar te werk sodat hulle dit met mis kan vul. Hierdie is
vir Meisie ‘n baie groot frustrasie. Die hele agterplaas is bedek in mis, en die gesin moet hul
bestaan daaruit maak. Sy kla gereeld teenoor Konstabel dat die mis stink en dat die huis en
die mense daarin, na mis stink en dit lok vlieë. Meisie glo dat die mis en die reuk daarvan die
rede is waarom daar geen kêrels by haar kuier nie.
Meisie plant rose buite haar kamervenster in ‘n poging om die misreuk weg te hou. Sy plant
hierdie blomme sodat sy bevryding kan kry van haar omstandighede. Die mis dui op
vrugbaarheid, en Meisie is die blom wat tot bevryding groei uit hierdie mis.
Menslike ontlasting kom ook na vore wanneer die slopemmer vanuit die solder laat sak
word. Wanneer die spatsels op die vloer mors, beklemtoon dit Miem en Meisie se banale
bestaan. Dié emmer speel ‘n belangrike rol in die verhaal, want dit bied Konstabel die
geleentheid om met Meisie ‘n afspraak te maak vir later die aand.
Die tema van mis kan ook dui op mistigheid – iets wat verhoed dat ‘n persoon duidelik kan
sien. Hierdie is simbolies van Miem en Gertie se onvermoë om die werklikheid te sien. Die
twee vrouens leef in hul eie eng wêreld, waar alles wat nuut is ‘n bedreiging inhou. Miem en
Gertie staar hul blind na die feite, en kan nie raaksien dat die Konstabel ‘n bedreiging is nie.
Miem verwys ook gedurig na swak sig wanneer sy oor die naald en gare praat.
Sit tog vir my die garing deur, my kind. Al is dit gat groot, sien ek maar
sleg. (Mis: 9)
Miem kan nie sien dat sy dieselfde foute maak as die ander ouers op die dorp oor
wie sy so baie te sê het nie.
6
Die uitdrukking Jy het dit mis is ook in die drama van toepassing. Miem en Gertie
het dit mis as hulle dink die ander vermiste meisies is vermoor. Hulle het dit mis as
hulle dink dat die boosheid waarvoor hulle so bang is, uitgehou kan word deur die
deure en vensters te grendel. Miem en Gertie het dit ook mis as hulle dink dat die
Konstabel daar is om hulle veilig te hou en dat hy edele bedoelings het.
...daar is ander gegewens... wat u miskien misgekyk het (Mis: 21)
Die vermiste meisies het ook ‘n groot rol in die drama. Elke jaar wanneer die sirkus
deur die dorp beweeg, raak daar ‘n meisie weg. Die dorpsmense raak bekommerd,
en ‘n waakeenheid word in die dorp ontplooi. Die blinde Konstabel werk met
vermiste persone, en dié tema word so versterk. Die hele drama bou op na Meisie
wat vermis raak.
Miem erken ook aan die Konstabel dat sy haar man, Gabriël, mis. Sy het haar man
sewe jaar laas gesien toe hy aan die begin van die Groot Depressie in die solder
ingetrek het. Gertie, die oujongnooi, mis ‘n liggamlike verhouding met ‘n man en
Meisie mis ‘n lewe van opwinding. Sy mis die geselskap van jongmense in haar
lewe.
Die mis verwys ook na die ritueel van die Rooms-Katolieke mis. Die blinde
Konstabel is sjarmant en het ‘n magnetiese aantrekkingskrag. Met sy simpatieke
oor, wen hy die vroue se vertroue en hulle bieg teenoor hom soos ‘n priester
(Rooms-Katoliek). Wanneer hy Meisie se gesig wil “sien”, sê hy vir haar: “Kniel nou.
Hier. Reg voor my.” soos ‘n priester wat ‘n biddende persoon seën.
Meisie se voorstellingsrok sluit ook hier aan. In die kerk se oë is sy nou volwasse en
sy kan Nagmaal begin gebruik, maar haar ma sien dit nie so nie. Miem hou vol
daarmee om haar Meisie te noem, wat suggereer dat sy haar dogter as ‘n kind sien.
Aan die einde van die drama wanneer Meisie die Konstabel volg in haar
voorstellingsrok, is dit duidelik dat sy die besluit van bevryding geneem het.
Die vele betekenisse van die woord mis en die gereelde verwysings daarna bind die
drama tot ‘n eenheid en dra by tot die sukses van die teks.
7
KONSTABEL
Die blinde Konstabel is ‘n geheimsinnige man tussen die ouderdom van 30 en 40 jaar. Hy
dra ‘n polisie-uniform en is deel van die vermiste persone eenheid. Hy beweer dat hy deel is
van die waakeenheid wat in die dorp ontplooi is om te verhoed dat nog meisies vermis gaan.
‘n Vreemde magiese element raak gou in die verhaal duidelik wanneer die Konstabel
aankondig dat hy blind is. “Soos julle kan sien, is ek heeltemal blind.” (Mis: 18) Die
Konstabel maak homself bekend as ‘n manipulerende, geheimsinnige en magiese figuur. Al
drie vrouens in die huis word betower deur sy sjarme en aantrekkingskrag en sien hom as ‘n
sensitiewe biegvader teenoor wie hulle hul diepste geheime en begeertes kan verklap. Met
sy aankoms by Miem se huis, dra hy ‘n swart donkerbril, ‘n stok en ‘n sak waaruit hy later ‘n
appel pluk.
Die Konstabel maak slegs inligting oor homself bekend aan die drie vrouens, as hy dink dat
hulle met dié inligting gemanipuleer kan word. Hy verklap aan die vroue dat hy slegs in
spesiale gevalle ontplooi word, wat Miem belangrik laat voel om te dink dat hul armoedige
bestaan ‘n ‘belangrike geval’ is. As vergoeding vir sy blindheid, vertel die Konstabel dat hy
geseën is met uitstekende reuk- en gehoorsintuie. Danksy dié kenmerke is hy die bynaam
snuf-in-die-neus gegee deur sy kollegas. Hierdie bynaam is ironies omdat Miem, wat
boosheid oral insien, nie dié bedreiging onder haar neus kan uitken nie.
Sy rol binne die drama
Die Konstabel se polisie uniform bied vir hom die geleentheid om as ‘n beskermer voor te
kom vir die vrouens en daarvolgens op te tree. Vir Miem, Gertie en Meisie verteenwoordig
die Konstabel veiligheid en goeie waardes en dít laat die vrouens toe om hom blindelings te
vertrou. Hierdie beeld wat hy uitstraal raak ironies wanneer die leser/gehoor bewus raak van
sy latere optrede en dubbele lewe.
Later, wanneer die Konstabel geklee is in sy narrebaadjie, word hy Meisie se flambojante
bevryder. Hy laat die jong vrou ontluik as ‘n blom uit die mis en hy ‘toor’ haar uit haar
beknellende omstandighede. Die appel wat die Konstabel uit sy sak haal, is die simboliese
vrug van verleiding. Wanneer die appel uitgehaal word, kan dit as ‘n vooruitwysing gesien
word op wat gaan volg. Hierdie appel kan gesien word as die vrug waarmee die Konstabel
vir Meisie verlei. (du Preez, 13)
8
Die Konstabel vorm deel van die geheimsinnige mistieke wëreld. Dit word duidelik met sy
vertelling oor hoe hy blind geraak het deur na die sonsverduistering te kyk en sy skielike sig
na 12:00 die aand. Magiese realisme speel hier ‘n belangrike rol in die drama. (du Preez, 13)
9
SPROKIESELEMENT
Sprokies word gekenmerk deur ‘n strak progressiewe gang en daar kom nie onnodige
besonderhede voor in die verhaal nie. ‘n sprokie loop altyd uit in verlossing en dit moet ‘n
gelukkige einde hê. ‘n Magiese element is byna altyd teenwoordig en in Europese sprokies
word die hoofrol toegeken aan kinders of jongmense. (Literêre Terme en Teorieë, 2012)
Die stel/ruimte waarbinne De Wet se drama afspeel kom realisties voor, maar daar is sterk
herinneringe aan sprokies regdeur die verhaal.
Daar word na die sprokiesverhaal van Doringrosie verwys wanneer Meisie haarself drie
keer raaksteek met die naald tewyl sy die goiingsakke toewerk. Sy weier om ‘n vingerhoed
te dra, en dit blyk asof sy die noodlot tart en haarself blootstel. Hierdie word bevestig
wanneer Meisie wegvlug saam met die blinde Konstabel.
Die Konstabel vertel ‘n verleidelike storie van sy Tant Hannie, en verlei die oujongnooi Gertie
met sy vertelling. Sy laat haar hare los soos Raponsie haar hare uit die toring laat hang het,
en verkry bevryding uit haar gevangeskap. Hierdeur kan daar ook verwys word na Meisie se
mooi, lang hare, en Miem kan gesien word as die heks wat Meisie weghou van die wêreld.
Meisie (Raponsie) se held word blind, maar deur ‘n wonderwerk word sy sig herstel. Die
Konstabel (prins) dring deur die ondeurdringbare muur wat Miem om Meisie opbou, en bevry
haar van haar “tronk”.
Die Konstabel is die spreekwoordelike ridder op die wit perd wat die brose Meisie kom red.
Hy is ‘n lang, donker man wat bevryding bring aan die jong Meisie wat so graag bevryding
van haar omstandighede soek. Hy kan ook gesien word as ‘n wolf in skaapsklere, en soos
die wolf, doen hy hom anders voor. Om middernag dop die Konstabel sy polisiebaadjie om
en hy transformeer in iemand/iets anders.
Meisie kan beskou word as Aspoestertjie, omdat sy so armoedig aantrek en al die werk
moet doen. Nes Aspoestertjie, transformeer Meisie om 12:00 die nag en sy word deur die
Konstabel gelei na haar ontvlugting. Twaalfuur word gesien as die magiese uur en die
volmaan gee ‘n sprokiesagtige atmosfeer aan die verhaal.
Daar word na die sprokiesverhaal van Sneeuwitjie verwys wanneer die Konstabel ‘n appel
uit sy sak haal as hy by die tafel gaan sit. Die appel staan bekend as die vrug van verleiding.
Dit is die eerste versoeking vir die mens. Wanneer jy beswyk, trap jy in die strik van die
bose.
10
Die Rottevanger van Hamelin dien as een van die sprokieselemente in die drama. Die
rottevanger se fluitmusiek word gelykgestel met die musiek van die sirkus. Die musiek
mesmeriseer vir Meisie, en dis asof sy in ‘n dwaal na die sirkustent loop. Wanneer die
Konstabel om 12:00 in ‘n nar verander, word hy ‘n verteenwoordiger van die sirkus en sy
woorde word soos die fluitspel van die rottevanger. Hy betower en verlei die vroue en voer
vir Meisie weg.
Die verskeie sprokieselemente in Reza de Wet se teks dra by tot die sukses van die drama
en verseker ‘n dieper en magiese laag van vertelling.
11
OPSOMMING
In ‘n onderhoud met LitNet se Erika Terblanche sê De Wet: “Mis vorm saam met Mirakel en
Drif ‘n sikus van drie. Soos in die mirakelspel van die Middeleeue is drie elemente verweef,
naamlik die naïewe, die groteske en die wonderbaarlike.” (Terblanche, 2002)
Elkeen van De Wet se dramatekste speel af teen die eenvoudige agtergrond van die
verlede. Talle van hierdie dramatekste bevat ook ooreenstemmende temas, soos ‘n
towenaarfiguur, matriargie en die soeke na bevryding. Reza de Wet is ‘n inspirasie vir talle
opkomende dramaturge in Suid-Afrika.
12
BIBLIOGRAFIE
De Beer, J. 2013. Oriëntering.
https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/14678/De%20Beer_JJ_Chapter13.pdf?sequence=2&isAllowed=y [7 Oktober 2020]
De Wet, R. 1993. Mis. Kaapstad: Maskew Miller Longman
Du Preez, C., van Zyl, D. & Cavernelis, V. 2009. Mis – Reza de Wet.
Letterkundeondersteuningskomitee.http://edulis.pgwc.gov.za/jdownloads/Afrikaans/Onderwy
sBronne/LOK-Studiegids_Mis.pdf [1 Oktober 2020]
Hough, B. 1994. Rapport: Reza wen Hertzogprys. https://af.wikipedia.org/wiki/Reza_de_Wet
[5 Oktober 2020]
Kakkerlak Boeke. 2008. Trits( Mis* Mirakel* Drif): Drama en Aantekeninge/Reza de Wet.
https://kakkerlak.co.za/product/trits-mis-mirakel-drif-reza-de-wet/ [1 Oktober 2020]
Literêre Terme en Teorieë. 2012. Volksverhaal.
http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/28-v/269-volksverhaal [7 Oktober
2020]
Protea Boekhuis. 2015. Reza de Wet se drama Drif wys eersdaags in Stellenbosch.
http://protea.bookslive.co.za/blog/2015/11/02/reza-de-wet-se-drama-drif-wys-eersdaags-instellenbosch-plus-mariana-malan-resenseer-missing/ [1 Oktober 2020]
RSG Radioteater. 2002. Mis deur Reza de Wet. https://iono.fm/e/46054 [28 September
2020]
Steendberg, E. 2013. Sprokies. http://www.litterm.co.za/index.php/s/236-sprokie [7 Oktober
2020]
Terblanche, E. 2018. Reza de Wet (1952-2012). https://www.litnet.co.za/reza-de-wet19522012/ [1 Oktober 2020]
13
Van der Wal, H.R. 2005. Vrouefigure in Reza de Wet se drama-oeuvre.
http://uir.unisa.ac.za/bitstream/handle/10500/1991/dissertation.pdf?sequence=1&isAllowed=
y [28 September 2020]
14
Van Heerden, J. 2013. ‘n Psigoanalitiese Perspektief op Geselekteerde Afrikaanse
Dramatekste van Reza de Wet.
http://libdspace.ufh.ac.za/bitstream/handle/20.500.11837/593/%e2%80%98n%20PSIGOAN
ALITIESE%20PERSPEKTIEF%20OP%20GESELEKTEERDE%20AFRIKAANSE%20DRAM
ATEKSTE%20VAN%20REZA%20DE%20WET.pdf?sequence=1&isAllowed=y
[28 September 2020]
Worldcat. 2008. Trits: Drama en aantekeninge. https://www.worldcat.org/title/trits-drama-enaantekeninge/oclc/314666744 [28 September 2020]
15
Download